Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid

AKTUEEL: Die onregverdige Mammon      

SKRIFOORDENKING:
Aktiewe betrokkenheid teen die verval in goddeloosheid

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Waarom ek slegs die 1933/53- Bybelvertaling gebruik

'n Nuwe brontaalgerigte Afrikaanse Bybelvertaling op pad!

Verplig om by die WARE 
KERK aan te sluit - NGB Art 28

Die leer van die "Nuwe Hervorming" (NH) 'n radikale breuk met die Christelike geloof, met die leer van saligheid

Die Sionistekerk (ZCC) - ZION City Moria

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog geen versoening on Orania nie

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") oor bewoording van Apostoliese Geloofsbeleidenis

Deputate GKSA verseker die SA Regering van Kerk se voorbidding

Nee vir Kindernagmaal

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Wending in die onderwys?

Swartes aanvaar nie Theuns Eloff

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Eie aard van samelewingsverbande

Die ACDP "uit en uit Christelik?"

GK Pietersburg-Noord se beswaar teen beleid van Deputate Owerheidsake

PERSRUBRIEK: Die mens 'n probleem vir homself

Die AP Akademie: Bekendstelling

Formuliere: Lank of Kort 

Die Afrikaner se voorliefde vir oorspronklike Heidense gebruike

Die "Kerklike kleed"

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van die Fariseërs

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 4 Julie 2004

WAAROM EK SLEGS DIE 1933/53-BYBELVERTALING GEBRUIK

-  DR JAN VISSER  -  (EM) LERAAR GEREFORMEERDE KERK BRAKPAN_SUID  -

Gepubliseer in: Nuusblad van Die Gereformeerde Kerk Kempton Park-Noord, 9 Mei 2005, bl 1-3

Agtergrond

Nadat die Nasionale Sinode (GKSA) die 1983-Vertaling (verder aangedui as NV, afkorting vir Nuwe Vertaling) aanvaar het, is predikante en lidmate versoek om kommentaar daaroor aan die Deputate vir Bybelvertaling deur te stuur. Ek het verskeie kommentare aan genoemde Deputate deurgestuur waar die NV na my beskeie mening nie korrek was nie. Sonder om te spog, kan ek sê dat ruim 95% van my kommentare deur die Deputate aanvaar is, en deurgestuur is na die Bybelgenootskap vir latere hersiening.

Ek het ook ernstig probeer om die NV in my prediking te gebruik. Ek moes egter soveel kere die gemeente se aandag daarop vestig dat die NV op spesifieke plekke nie korrek is nie, dat dit naderhand irriterend geword het. Daarop het ek die Kerkraad versoek dat ek voortaan slegs die 1933/53-Vertaling (verder aangedui as OV, af-korting vir Ou Vertaling) mag gebruik, sodat lidmate kan weet watter vertaling om saam te bring na die eredienste. (Die NV kan in elk geval nie gemaklik gebruik word vir Kategismusprediking nie, aangesien al die Skrifverwysings in die Heidelbergse Kategismus gebaseer is op die Ou Vertaling).

Die rede waarom ek nie graag die NV in my prediking gebruik nie, is hoofsaaklik drieërlei: 1) Foutiewe vertalings (soos bo genoem). 2) Die feit dat Jesus Christus uit die Ou Testament wegvertaal is. 3) Die feit dat God se Verbondsnaam, die Hebreeuse Naam JHVH, wat in ons OV vertaal is met HERE - vier hoofletters - glad nie meer in die NV herkenbaar is nie.

Voorbeelde

Foutiewe vertalings:

Genesis 6:4 (OV): "... toe die Seuns van God by die dogters van die mense ingegaan het en dié vir hullekinders gebaar het ..."

(NV): "... wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het ..."

Opmerking: Volgens die bekendste Gereformeerde Skrifverklaarders is die "seuns van God" hier die gelowiges, die afstammelinge van Set, terwyl die "dogters van die mense" die ongelowiges is, die afstammelinge van Kain. (Is dit hoegenaamd moontlik dat engele gemeenskap kan hê met menslike vroue?)

 

Psalm 121:5 (OV): "die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand."

(NV): "... die Here bewaar jou van alle gevare."

Opmerking: Die pragtige simboliek van "jou skaduwee", wat die voortdurende teenwoordigheid van die HERE aandui ('n mens kan tog nie vir jou skaduwee wegloop nie), kom glad nie voor in die NV nie!)

 

Markus 1:40 (OV): "... As U wil, kan U my reinig."

(NV): "As U wil, kan U my gesond maak."

Opmerking: Vir die gelowige Israeliet was melaatsheid baie erger as 'n blote siekte; melaatsheid het die mens onrein gemaak, omdat dit 'n afbeelding van die sonde was. Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken glad nie "gesond maak" nie, maar slegs "reinig" of "skoon maak".

 

Lukas 3 :18 (OV): "... met baie ander vermaninge die evangelie ... verkondig."

(NV): "... die volk vermaan en die goeie boodskap ... verkondig."

("Vermaan" en "die goeie boodskap verkondig" is dus twee afsonderlike handelinge, terwyl dit in die oorspronklike Griekse teks één handeling is).

Opmerking: Die treffende gedagte dat "vermaninge" ook "evangelieverkondiging" kan wees soos in die OV, kom glad nie in die NV na vore nie.

 

Lukas 19:8 (OV): Saggéüs sê aan Jesus wat hy alles doen, in die teenwoordige tyd. Met ander woorde: hy sê aan Jesus dat hy nie só sleg is as wat die mense hom maak nie; hy doen dit en dat wat goed is.

(NV): Saggéüs sê aan Jesus wat hy voortaan gaan doen, in die toekomende tyd. Hy het dus deur sy aanraking met Jesus oombliklik tot bekering gekom, en voortaan "gaan" hy dit en dat doen. Maar dit staan glad nie in die oorspronklike Griekse teks nie!

Opmerking: Die werkwoord wat hier in die Griekse teks gebruik word, staan in die teenwoordige tyd, en glad nie in die toekomende tyd nie.

 

Jesus Christus uit die Ou Testament weg-vertaal:

Psalm 45:2 en verder (OV): "Koning" word deurgaans met 'n hoofletter geskryf, omdat hierdie Psalm 'n "Messiaanse" Psalm is wat na Jesus Christus heenwys.

(NV): "koning" word deurgaans met 'n klein letter geskryf.

 

Psalm 110:1 (OV): Die HERE het tot my Here gespreek:..." (Here" met 'n hoofletter).

(NV): "Die Here het vir my koning gesê: ... " ("koning" met 'n klein letter).

Opmerking: Psalm 110 praat baie spesifiek van Jesus Christus, dit word onder andere duidelik uit Matthéüs 22:43, 44, waar Jesus Psalm 110 Self op Hom van toe-passing maak! Die ironie is nou dat die NV Matthéüs 22:44 korrek vertaal soos dit in die grondteks staan! Hoe kry mens hier kloutjie by die oor?!

 

Jesaja 52:13 en 53 (OV): "Kneg van die HERE en die verwysings "Hom" en "Hy" word deurgaans met hoofletters geskryf, omdat dit heenwys na Jesus Christus (vergelyk onder andere Jesaja 53:7 met Handelinge 8:32 en verder).

(NV): "dienaar" en verwysings "hom" en "hy" word deurgaans met klein letters geskryf.

(Op 'n vraag van my aan een van die Ou Testamentiese Bybelvertalers waarom hulle Jesus hier weg-vertaal het, was sy antwoord aan my: Omdat Jesaja 53 op enige aardse koning kan dui. Toe ek hom vra om my een koning te noem van wie ons onder andere kan sê: "Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en ons smarte dié het Hy gedra, ..." en: "... Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom", kon die professor my nie antwoord nie.

 

Die Verbondsnaam van God (HERE in die OV) nie meer herkenbaar in die NV nie.

Genesis 18:14 (OV): "Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? ..."

(NV): "Is iets te buitengewoon vir die Here?" ("Here" in plaas van "HERE").

Hier kan baie plekke in die Ou Testament genoem word waar die OV die Verbondsnaam vertaal met "HERE", terwyl die NV dit vertaal met "Here" óf "my God" (Kyk byvoorbeeld II Samuel 7:18:

(OV): "Here HERE".   (NV): "Here my God").

Ek hoop dat hierdie inligtingstukkie my gebruik van die OV in plaas van die NV vir lidmate duidelik sal maak.