Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT
Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28
- DS HLJ MOMBERG - PRETORIA-DIE KANDELAAR -
(Gepubliseer in KERK EN WOORD, Maandblad van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar, September 2003)
- Vervolg van vorige uitgawe -
Die opbouing van die broederskap
Dit is wat ons in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 21, bely as die gemeenskap van die gelowiges: Dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Dit is net 'n meer direkte manier om die juk van Christus op te neem en gewillig daaronder te buig.
Die tweede kort stelling wat artikels 28 en 29 (NGB) maak, is dan ook 'n inleiding tot artikel 29. Want om in die kerkvergaderende werk van Christus tot sy welbehae deel te neem, om Hom op hierdie wyse te behaag, kan ons nie beter doen as om ons juis af te skei van diegene wat nie van die kerk is nie.
Die konteks van hierdie belydenis is nie dat ons soos die Roomse meen, onsself uit die wêreld moet onttrek nie. Dit kan ook nie, want dan is ons geen sout vir die aarde en geen lig vir die wêreld meer nie, geen sendende profetiese kerk meer nie.
Die apostel Paulus behandel die bedoeling van hierdie afskeidsnota baie treffend met die Korinthiërs, waar hy in hoofstuk 5 van die eerste brief skryf:
Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoe-reerders om te gaan nie -
dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan -
maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemannd moet julle selfs nie saam eet nie.
Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?
Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.
U sien, 'n ware reformerende kerk sal deur sy voortdurende herderlike werk sorg dra dat die gelowiges hulle volgens die Woord van Christus gedra en dat alle ongehoorsaamheid met goeie dissipline uit die gemeente geweer word.
Dit is juis tot hierdie soort suiwering dat Judas die gemeente in sy kort briefie oproep dat in die laaste tyd daar spotters sal wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel.
Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.
Maar julle geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid
en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.
En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;
maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.
So moet daar afskeiding kom van die wat nie kerk is nie, en toegevoeg word by die wat ware kerk is ...
Ook moet ons ook onsself nie van die kerk afskei nie, maar van die mense wat deur hulle praktyke en leer openlik bewys dat hulle nie van die kerk is nie.
Dit was ook die bedoeling van die reformatore van die sestiende eeu en die reformasie-bewegings daarna, selfs ook nog uit ons Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, en die herstigting van die Gereformeerde kerke in 1859 te Rustenburg. Die aktes van Afskeiding was altyd genoem en bedoel as 'n akte van afskeiding en wederkering. So was dit in Ulrum 1934, maar ook so by ons eie vaders hier in Suid-Afrika. Dit was nooit die gedagte om af te skei en vaarwel toe te roep nie, maar altyd weer om in die waarheid van die Woord opnuut die eenheid van die kerke op te soek.
Maar dan moet ons mekaar in die kerke vermaan en inlig, ons moet teenoor die dwalinge die waarheid van die Woord verkondig, en wanneer daar in 'n kerkverband dwalings en deformasie kom, moet in elke gemeente die gelowiges hulle afskei van die wat deur hulle leer en lewe bewys dat hulle nie van die kerk is nie, en hulle moet hulle in elke gemeente bewus gaan toevoeg by die ware kerk, by die wat die HERE aanroep in Gees en in waarheid.
Nou is dit in 'n seker sin maklik om die reformasieleer soos ons dit hier bely oor te dra in rustige en nie-vyandige omstandighede. Dit is egter totaal iets anders as ons maar net bereken dat Guido de Bres dit in tye van sware vervolging gedoen het, en dat hy self hierdie belydenis (NGB) met sy bloed onderteken het.
Dan vra mens jouself af: Waar staan ons gemeente vandag in die jaar 2003 ten aansien van hierdie belydenis.
Dit is beslis nie gewild om in hierdie dae van die antitese en oor die afskeiding van dié wat nie die kerk is nie, te praat nie.
Tog leer ons uit die kerkgeskiedenis dat ons as strydende kerk altyd hierdie roeping sal bly behou om onsself af te skei van die wat nie tot die kerk behoort nie en onsself aktief toe te voeg tot die ware kerk waar God dit ookal vergader, en dat ons diensbaar word in sy kerkvergaderende werk.