Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
DIE SIONISTEKERK (ZCC) - ZION CITY MORIA
Na aanleiding van 'n kritiese kommentaar oor die "multi-religieuse polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing" op bladsy 9 van die vorige uitgawe van ons blad, is 'n versoek aan die redaksie gerig vir 'n meer uitvoerige inligting oor die ontstaan en wese van die ZCC. Aan die hand van 'n inligtingsbrosjure wat in die sewentiger jare verskyn het, bring ons dit graag onder aandag van ons lesers.
Die Zion Christian Church (ZCC)
Met sy driekwart miljoen aanhangers is die ZCC tans die grootste Onafhanklike Swart Kerk in Suid-Afrika. By sy jaarlikse saamtrek op Paasfees, slaag die kerk daarin om bykans een miljoen mense van oor die hele land byeen te bring. Dit op sigself is al merkwaardig genoeg om 'n mens uit te lok tot verdere studie van die beweging. Daarby is die ZCC in sy ontstaan, ontwikkeling, strukture en teologiese beskouings 'n goeie voorbeeld en illustrasie van wat ook in menige ander Onafhanklike kerke in Afrika plaasvind.Die ontstaan en ontwikkeling van die ZCC
Engenase (Ignatius) Barnabas Lekganyane (± 1885-1948) is die stigter van die ZCC. Hy was aanvanklik 'n lidmaat van die Vrye Skotse Presbiteriaanse Kerk maar het dit in 1911 verlaat.
`Intussen het hy in aanraking gekom met die Sionistebeweging wat in Suid-Afrika aan die ontwikkel was. Dit het sy oorsprong by 'n apokaliptiese tipe kerk in Amerika wat in 1896 deur John Alexander Dowie in Zion City, Chicago, Illinois gestig is. Dowie het sy kerk die Christian Catholic Apostolic Church in Zion genoem. hy het die klem laat val op goddelike genesing, volwassedoop deur onderdompeling en die spoedige wederkoms van Christus. Hy het homself beskou as apostel van die laaste dae wat 'n teokrasie in Zion City moes oprig. Hy wys die gebruik van medisyne, alkohol en tabak af en gee 'n blad uit met die naam "Leaves of Healing".
Johannes Büchler, 'n Pinkstergelowige van Johannesburg, het van Dowie te hore gekom en ook sy blad ontvang. Later het hy 'n besoek by hom in Amerika afgelê. Beïnvloed deur Dowie het Büchler sy eie praktyk van geloofgenesing begin. Deur bemiddeling van laasgenoemde het PL le Roux, 'n sendeling van die NG Kerk in Wakkerstroom, ook van Dowie gehoor en in geloofsgenesing begin belangstel.Op dieselfde wyse is Edgar Mahon, 'n voormalige kaptein van die Heilsleër (Salvation Army), ook deur die rigting beïnvloed.
In 1904 het Dowie vir Daniel Bryant as gesant na Suid-Afrika gestuur om die Christian Catholic Apostolic Church in Zion hier te kom stig. Op daardie tydstip het beide, Le Roux en Mahon, reeds as onafhanklike sendelinge gewerk. In Wakkerstroom het Bryant 150 Sionistevolgelinge van Le Roux in die Slangrivier gedooop en in Harrismith weer 60 volgelinge van Mahon in die Caledonrivier. So is die grondslag gelê vir die Sionistebeweging. In 1908 is Bryant terug na Amerika.
In die omgewing van 1912 is Lekganyane in die Sionistebeweging gedoop. Dit is nie presies duidelik deur wie nie. Volgens sommige bronne is dit deur Le Roux en volgens ander weer deur Elias Mahlangu in Boksburg. Le Roux het in 1908 by die Apostoliese Geloofsending aangesluit. Indien hy vir Lekganyane gedoop het, moet hy dus op die tydstip lid van die kerk geword het.
Die oorspronklike Sioniste het vasgeklou aan die naam "Zion" en wou nie in die Pinksterbeweging opgaan nie. Die gevolg is dat daar 'n hele aantal afsonderlike Sionistekerke gestig is. Elias Mahlangu (1881 - 1960) wat oorspronklik van Le Roux se groep in Wakkerstroom was, het in 1911 sy eie kerk in Johannesburg gestig en dit genoem Zion Apostolic Church.
In 1920 het Paul Mabilitsa, wat deur Büchler en Mahon beïnvloed is, die Christian Apostolic Church in Zion in Alexandra gestig. In 1922 stig Daniel Nkonyane die Christian Catholic Holy Spirit Church in Zion in Charlestown TG Philips was die stigter van die Holy Catholic Church in Zion en in Lesotho het Edward Motaung in 1920 van Mahlangu se kerk weggebreek en die Zion Apostolic Faith Mission gestig. Motaung het weer sterk onder invloed van Mahon gestaan.
In die Swart Sionistekerke is algaande alhoemeer aanpassings gemaak in die rigting van Afrikanisering en aanpassing by die tradisionele Afrika-godsdiens en -agtergrond.
In die stamgebied van Thabakgone was Lekganyane dus 'n tyd lank lid van die Apostolic Faith Mission. Hy was egter ten gunste van die byvoeging van Zion by die kerknaam. In 1920 het hy na Lesotho vertrek en aangesluit by die Zion Apostolic Faith Mission van Edward Motaung en het 'n leraar van dié kerk geword.
In 1925 het hy na Thabakgone teruggekeer en in dieselfde jaar die Zion Christian Church gestig. Lakganyane was 'n charismatiese leier en het deur sy prediking en genesings spoedig 'n groot aanhang verwerf.
In 1930 het hy in botsing gekom met stamhoof Athlone Mamabolo en is hy verplig om Thabakgone te verlaat. Na 'n kort verblyf op Ga-Mphahlele en op die plaas Warmberg, het hy 'n plaas op Boyne gekoop, omtrent 50 kilometers oos van Pretoria en het daar sy hoofkwartier gevestig.
Die ZCC het vinnig uitgebrei en spoedig was daar ook lidmatre in groot stede soos Pretoria, Johannesburg, Vereeniging, Germiston en selfs Kimberley. Waar die kerk met sy stigting minder as 1 000 lidmate gehad het, was daar in 1942 reeds meer as 27 000 lidmate. Wat eers 'n stamkerk vir die Noord-Sotho was, het spoedig oor stamgrense heengespoel en gevestig geraak onder Tsonga, Venda, Tshwana, Sotho en selfs Zoeloes in die stede en tuislandgebiede. In 1925 het Samuel Mutendi, wat ook vroeër lid van Motaung se kerk was, sy eie Zion Christian Church in die destydse Rhodesië gestig.
Op 1 Junie 1948 is Engenase Lekganyane skielik oorlede en spoedig het 'n leisrskapskrisis ontstaan. Sy oudste seun, Jesus, was toe reeds oorlede en sy tweede oudste seun, Barnabas, is dood na slegs sewe maande van leierskap. 'n Twis het toe uitgebreek oor wie van die twee oorlewende seuns, Edward of Joseph, die leierskap moes oorneem. Joseph en sy volgelinge het hulle op die familieplaas gaan vestig en Edward se volgelinge het hom uit Natal laat haal om die leierskap oor te neem.
Digby die hoofkwartier van Joseph het Edward nou in 1949 sy eie Zion City Moria opgerig. Sy kenteken was die vyfpuntige Dawid-ster met die letters ZCC daarop terwyl Joseph die ster met 'n duif daarop gebruik het.
Edward Lekganyane (1920 - 1967) het spoedig die grootste deel van sy vader se aanhang na hom toe getrek.
Hy het veral sterk steun uit die stedelike gebiede ontvang. Hoewel hy slegs skoolopleiding tot st VI gehad het, was hy 'n dinamiese leier en die kerk het onder sy leiding skouspelagtig gegroei. In 1954 was daar reeds 80 000 lidmate en ten tye van sy dood reeeds meer as 200 000.
Baie van sy aanhangers het uit die tradisionele godsdiens gekom en ander het uit protestantse sendingkerke weggebreek omdat daar "ware lewe in Sion is".
Edward het reeds in sy eie leeftyd 'n legende geword en het byna goddelike verering van sy volgelinge ontvang. Die grond waarop hy geloop het, is dikwels letterlik gesoen en die uitspraak "Edike Modimo", Edi is God, is by tye gehoor.
In 1963 het Edward aansoek gedoen om toelating tot die driejarige evangelistekursus aan die Stofberg Teologiese Skool op Turfloop. Na ondersoek deur 'n kommissie is hy toegelaat en hy het die kursus met sukses voltooi. Die opleiding het 'n positiewe uitwerking op sy prediking gehad en hy het dit duidelik gestel dat hy nie messiaanse verering wou ontvang nie. Hy het ook probeer om vernuwing in die ZCC te bewerkstellig in die rigting van 'n meer Bybelse benadering. Helaas is hy nie baie tyd hiervoor vergun nie want op 21 Oktober 1967 is hy skielik aan 'n hartaanval oorlede. Sonder veel seremonie is hy stil en vinnig begrawe met slegs 'n klein groepie familie en vriende teenwoordig. Soos Hanekom dit stel: "Sy dood was nie te rym met die lewenskrag en -sterkte wat van hom uitgegaan het en waarvan hy vir sy duisende volgelinge 'n simbool was nie".
Vóór sy dood het Edward reeds sy seun Barnabas, wat toe slegs 13 jaar oud was, as leier aangewys. Dit het 'n leierskapskrisis voorkom. Barnabas is ook Ramarumo (vader van die spies) genoem - 'n naam wat ook aan generaal JC Smuts gegee is. Tydens Paasfees 1968 is Ramarumo dus op 'n vergadering van die Algemene Raad van die ZCC as leier en biskop verkies. In 1975, toe hy 21 jaar oud geword het, is hy formeel ingestel as biskop en sedertdien lei hy die ZCC.
Zion City Moria
Die hoofkwartier van die ZCC is van buitengewone belang vir die kerk. Die naam Moria verwys na 2 Kronieke 3:1 en ander tekste waar sprake is van die tempel in Jerusalem op die berg Moria. 'n Mens kan ook dink aan Hebreërs 12:22 en 23 waar daar sprake is van die berg Sion in die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem waar die feestelike samekoms van die volk van God plaasvind.
Zion City Moria word dan inderdaad ook as 'n "nuwe Jerusalem" beleef. Dit is 'n plek van toevlug waar genesing en beskerming gevind word en waar daar meer krag is as op ander plekke.
In die stad is daar slegs ongeveer 1 000 permanente inwoners. Tydens feeste trek daar egter honderdduisende mense saam. Wanneer hulle die stad binnekom , word besoekers met water besprinkel om hulle te reinig. Siekes word in groot getalle daarheen gebring vir genesing. Daar heers 'n feestelike atmosfeer en almal is gelukkig en bly om in die stad van vrede te kan verkeer. Mens voel hier tuis omdat hulle op 'n eie besondere manier hulle godsdiens kan beleef.
Die teenwoordigheid en krag van die profeet het baie te doen met die besondere atmosfeer wat daar in hierdie Sion heers. Omdat die profeet sy volgelinge verteenwoordig by God, is daar die gevoel dat 'n mens in Moria nader aan God is. Talle mindere profete en leraars gee ook aandag aan die geestelike probleme van mense.
Die feestelike skare, die blaasorkes, die tradisionele sang, die belewenis van 'n eie Afrika-identiteit, die gevoel van volkome tuis wees onder jou eie mense - dit alles maak van 'n besoek aan Zion City Moria 'n belewenis wat jaarliks honderdduisende mense lok.
Die feeste van die ZCC
Die Paasfees (Kopano) is die belangrikste fees van die kerk. Dan trek byna 'n miljoen mense saam op Moria. Kleiner feeste vind plaas op die eerste Sondag in September en tydens die Kersgety.
Tydens die feeste verkoop die kerk self voedsel en ander artikels soos foto's van die leier, teesakkies wat gesën is, ensovoorts.
Genesings vind plaas deur gebed wat gepaard gaan met die gebruik van sout water, as, vomeermiddels, ensovoorts.
Doopseremonies en reinigingsrites vind ook plaas tydens die feeste. "n Magiese oordrag van krag geskied vanaf die profeet na sy volgelinge en so word hulle opnuut versterk vir die jaar wat voorlë. Die blaasorkes , uniforms, kleredrag en simbole, sang en musiek dra by tot die feestelike atmosfeer.
Die hoogtepunt van die fees is die diens op Sondag wanneer die profeet self tevoorskyn tree en die preek lewer. Tydens die diens vind daar dikwels geestesverrukking plaas en talle word sigbaar en emosioneel geraak. Gebed geskied gesamentlik en hardop. Wanneer die "Gees" ontvang word, gaan dit met rukbewegings gepaard.
Die Septemberfees staan in die teken van vrugbaarheid. Dit is die begin van die reëntyd en daar word gebid vir reën. Talle stamhoofde kom ook na die fees om vrugbaarheid by die profeet te kom haal. Ook by dié fees vind daar doop-, reinigings- en genesingseremonies plaas.
Groot somme geld word tydens die feeste ingesamel as dankoffers en kollektes. Die lidmate van die kerk gee blymoedig omdat hulle meestal voel dat hulle oorvloedige waarde vir hulle geld kry. Die bedoeling is dat die kerkleier die fondse moet aanwend ten behoewe van die kerk. Nietemin moet hyself ook goed versorg wees, in 'n mooi huis woon en 'n blink motor ry.
Organisasie en beheer van die ZCC
Die biskop self beklee die hoogste gesag in die kerk. Hy geniet dikwels selfs hoër aansien as die tradisionele stamhoofde. Hy is beide, die godsdienstige en administratiewe hoof van die kerk.
Hy word bygestaan deur die Algemene Raad wat twee keer per jaar vergader. Op verskillende plekke is daar Plaaslike Rade wat weer op die Algemene Raad verteenwoordig is. Die Plaaslike Raad van Moria is die belangrikste aangesien die biskop ook daarvan voorsitter is en die sekretaris ook sekretaris is van die Algemene Raad. Die sekretaris is 'n belangrike figuur omdat hy die wette van die kerk interpreteer.
Verder is daar 'n hiërargie van ampsdraers in die ZCC. Leraars en predikers kan preek, doop en nagmaal bedien. Evangeliste en ouderlinge kan preek en doop terwyl diakens messal net preek. Daarnaas is daar ook profete wat meesal met die genesing en pastorale adviese te doen het.
Verder speel gebedsvroue, jeuggroepe, kore en die blaasorkes 'n belangrike rol in die kerk.
Die gemeentes wat wyd verspreid oor die land gevestig is, hou kontak met die hoofkwartier en stuur gereeld verslae daarheen.
Die ZCC was tot dusver nie aktief by politiek gemoeid nie. Die kerk moedig sy lidmate aan om gehoorsame burgers van die staat te wees. In die verlede was daar 'n goeie verhouding tussen die ZCC en die (voormalige) Suid-Afrikaanse regering. Die kerk ondersteun ordelike regering en moedig lidmate aan tot wetsgehoorsaamheid. In 1965 het die Minister van Samewerking en Ontwikkeling Moria tydens die Paasfees besoek en 'n Afrikaanse Bybel aan Edward Lekganyane oorhandig. By saamtrekke word ook dikwels vir die regering gebid.
Op finansiële gebied is die ZCC selfonderhoudend en ontvang geen steun van buite nie. Alle predikante is tentmakerleraars wat voorsien in hulle eie onderhoud. Meeste gemeentetjies het nie kerkgeboue nie en vergader in huise. In die groter sentra rig die kerk egter netjiese kerkgeboutjies op. Slegs lede van die Algemene Raad ontvang vergoeding. Die Raad administreer ook die kerk se fondse. Kerkfondse word ook aangewend vir die koop van plase, hulp aan sakemanne, oprigting van besighede, onderhoud van 'n busdiens, ensovoorts. Die ZCC is dus nie net 'n geestelike tuiste nie maar skep ook 'n aardse tuiste vir sy lidmate. Iets van die tradisionele geloof in 'n lewenstotaliteit kom hier tot sy reg.
Die posisie van die kerkleier
Die profeties-messiaanse kerkleier is die spil waaromheen die ZCC draai. Sundkler het onderskei tussen die hoofman-tipe en profeet-tipe leiers. In die ZCC vervul die leier beide die rolle. Hy het die gesag van 'n stamhoof van ouds maar vervul ook die funksies wat herinner aan die tradisionele medisynman en waarsêer, So is 'n inheems-aanvaarbare leierskapspatroon daargestel. Soos die tradisionele leiers skakels was tussen die stam en die supernaturalistiese wêreld, is die kerkleier 'n skakel tussen God en die kerklidmate. Hy moet die goddelike krag en genesing oordra aan sy lidmate.
Hy is 'n asketies-mistiese tipe leier wat hom van die gewone lidmate afsonder. Dit bevorder sy beeld as besondere werktuig van God. In dié posisie word hy 'n nuwe middelaar. Deur Ramarumo kom lidmate weer tot God. Die gevaar is egter dat Christus in die proses uitgeskakel kan word en dan word hy 'n nuwe middelaar tussen God en mense. Daar is dus 'n wesentlike gevaar dat hy by baie lidmate tot 'n nuwe Messias verhef word.
Vir baie Swartmense is Christus 'n figuur ver in die verledewat te veel geassosieer word met die Witman en sy kultuur. Die profeet leef hier en nou en hy is meer aanvaarbaar vir die Swartman en sy kultuur. Christus se sterwe lyk op swakheid terwyl die lewenskrag en genesingskrag van die profeet simbool word van lewe. Om die rede vervaag die persoon van Christus dikwels vir baie lidmate en word die kerkleier in die sentrum geplaas as middelaar, geneser en beskermer. Hoewel Edward dit afgewys het, is hy dikwels op Messiaanse wyse vereer deur sy volgelinge. Baie glo dat hy alwetend was, dat hy buitengewone krag besit het en wondergenesings kon bewerk, dat hy sodoende die middelaar tussen hulle en God was.
Hoewel in die konstitusie van die ZCC na Jesus Christus as die hoeksteen van die kerk verwys word, is dit nie vanselfsprekend dat Hy dit sal bly in die harte van die lidmate nie. Trouens, daar is reeds bewyse dat Christus nie sentraal is in die lewe en verkondiging van die kerk nie. Daar bestaan dus 'n groot uitdaging vir Christelike Kerke om in hulle kontakte met leiers en lidmate van die ZCC klem te lê op die sentraliteit en enigheid van Jesus Christus as Middelaar en Seun van God. In werklikheid is dit van die grootste belang dat predikers van die ZCC teologiese opleiiding moet ontvang ten einde die Skrif reg te verstaan - iets wat tans nog nie gebeur nie.
GELOOFSOPVATTINGE VAN DIE ZCC
Die Opperwese:
Dit is vanselfsprekend dat Christelike beïnvloeding en prediking die vae, onomlynde Opperwese van die tradisionele godsdiens wat eintlik maar die somtotaal van alle natuurkragte was, verander het na 'n meer persoonlike God wat in 'n direkte verhouding tot die mens kan staan. Die veraf God is nader getrek en deur die persoon van Jesus Christus word hy ook vir mense meer verstaanbaar. Dit het ook in die ZCC gebeur en die direkte gebed tot Modimo kom algemeen voor. Tog is daar die tendens te bespeur dat Modimo nie naby is nie en dat Hy slegs bereik kan word deur Lekganyane via Jesus en die badimo (voorouergeeste). Daar bestaan dus steeds die neiging om God as veraf te beskou en om tot Hom te nader deur middelaars soos Jesus, Lekganyane en die voorouergeeste.
In die tradisionele godsdiens is die Opperwese by uitstek die gewer van krag. In die ZCC word dit ook sterk beklemtoon dat God die Hoogste Wese is wat aan die kerkleier sy krag gee.
Dit is duidelik dat daar van 'n persoonlike God met wie elke mens in 'n direkte relasie van geloof en gehoorsaamheid staan, nie genoeg tereg kom nie. God se teenwoordigheid word dikwels verduister deur die kragtige persoonlike aanwesigheid vamn die profeet.
Die Heilige Gees:
Daar is dikwels groot misverstand in die ZCC oor die lewe en werk van die heilige Gees. Die groot probleem is dat nie genoeg onderskei word tussen die Heilige Gees en die werking van ander geeste soos byvoorbeeld die voorouergeeste nie. As iemand in ekstase in tale begin praat, is dit nie duidelik of dit die gevolg is van die inwerking van die Heilige Gees, 'n demoon, 'n engel of van voorvadergeeste nie.
Die meeste lidmate van die ZCC vereer nog die voorvadergeeste en die kerk wys dit nie spesifiek af nie. Vir baie is die Heilige Gees dus 'n boodskapper van Modimo en vervul hy dikwels dieselfde funksie as die badimo. Die Heilige Gees word maklik verdring deur die voorouergeeste wat 'n groter realiteit is. Die profete het meesal dieselfde kontakte met die geesteswêreld as wat die tradisionele waarsêers gehad het.
In die kerk kom die geeste van die gestorwe kerkleiers dikwels op die voorgrond. Deur die geeste van Eugenas en Edward moet daar tot Christus genader word. In die private lewe van die lidmate bly die familiegeeste egter nog steed belangrik.
Die belangrike tekens van die "Gees" in die ZCC is die ekstatiese geestesbesetting wat in eredienste, in gebed of selfs drome plaasvind. 'n Mens kan die "Gees" telkens verloor en dan moet die ekstatiese ondervinding telkens weer gesoek word. Hier kom niks van tereg van die blywende vrugte van die Heilige Gees waarvan Galasiërs 5 praat nie. Dit is duidelik dat hier belangrike korreksie sal moet geskied om die ZCC in lyn met die Bybelse openbaring oor die Heilige Gees te bring.
Christologie:
Soos ons gesien het is daar 'n wesentlike gevaar in die kerk dat Christus as enigste Middelaar op die agtergrond geskuif en verplaas kan word deur die middelaarsfunksie wat die messiaanse kerkleier speel.
Sondebegrip:
Soos by die tradisionele Noord-Sotho word sonde meesal as 'n kultiese begrip in verband met rituele onreinheid gebring. Dit is nie in die eerste plek ongehoorsaaamheid aan God nie, maar oortredinge van taboe-handelinge wat veral die geloofsgemeenskap benadeel en verswak. Daarom val die groot klem dan ook nie op die versoening van sonde nie maar op reiniging. Mense moet hulle telekens aan reinigingsrites onderwerp om die smet van sonde af te was en die versteurde verhoudings in die gemeenskap te herstel.
Die verbodsbepalings in die ZCC openbaar 'n sterk wettiese karakter wat herinner aan die tradisionele taboereëls. Gebruik van tabak en alkohol word verbied en vark- en eendvleis mag nie geëet word nie.
Soos in die tradisionele gemeenskap is die grootste sonde die versteuring van verhoudinge binne die kerkgemeenskap. Respek teenoor senior kerklike ampsdraers is 'n belangrike hoeksteen in die kerk. 'n Streng hiërargiese leierskapstruktuur word gehandhaaf en ordelikheid is 'n belangrike kenmerk van die kerk.
Hoewel toordery in die ZCC verbied word, kom die tradisionele geloof tog in andere gedaantes in die kerk na vore. Genesing is meesal gebaseer op die beginsel van 'n magiese kragoordrag van die profeet. Water wat deur die kerkleier geseën is, is 'n belangrike genesings- en versterkingsmiddel en so ook teesakkies wat deur die kerk verkoop word.
Die kerkteken op die lapel van lidmate word dikwels as 'n fetisj gesien wat beskerming en krag bied. So kan ook papier en kledingstukke wat deur die kerkleier aangeraak is, 'n kragtige uitwerking hê. Op magiese wyse bied die kerk beskerming teen bose toorkrag, siekte, weerlig en ander soorte teenspoed.
Groeideterminante in die ZCC
Enkele faktore wat die groei van die ZCC verklaar, moet aangestip word.
In die ZCC het ons te doen met 'n interpretasie en toepassing van die evangelie op 'n wyse wat die Christendom vir die mense van Afrika prakties, betekenisvol en verstaanbaar maak. Die religieuse uitingsvorme opereer binne die raamwerk van die tradisionele kultuur en is daarom aantreklik. Hoewel sekere tradisionele gebruike krities benader word, word ander weer geakkomodeer. In die geheel skep die kerk egter 'n atmosfeer waar Swartmense tuisvoel. Die prys wat hiervoor betaal word is soos ons gesien het die vermenging van Christelike en tradisionele elemente (sinkretisme).
Psigologies ver-skaf die ZCC aan sy lidmate 'n gevoel van veiligheid en beskerming. Dit is 'n veilige vesting waarheen 'n mens sy toevlug kan neem in 'n gevaarlike en bose wêreld met sy bedreiging van bonatuurlike kragte.
In die kerk word 'n ware gemeenskap geskep. Die ou stamgemeenskap word hier verplaas deur die nuwe geloofsgemeenskap. Dit word oral in die kerk beleef maar heel in die besonder by die byeenkomste op Moria. Daar ontstaan 'n gevoel van 'n magiese eenheid tussen lewendes en gestorwenes in die nuwe geloofsgemeenskap en dit trek die mense aan.
Die kerk word naas 'n geestelike tuiste ook beleef as 'n ekonomiese en kulturele reddingsbeweging. Wat vir die stam verlore gegaan het, word in 'n sekere sin weer in die kerk herontdek. Dit is in elk geval 'n plek waar swart identiteit, tradisionele denkpatrone en eie kultuur tot sy reg kom. Daarby help die kerk ook op ekonomiese gebied en die lewenstotaliteit van die mens word in ag geneem.
Genesing is en bly een van die belangrikste groeideterminante. Baie lidmate het aangesluit omdat hulle glo dat daar lewe en krag en genesing in Sion is. As hulle deur 'n profeet genees is, volg dikwels die aansluiting by die kerk.
Dit is natuurlik ook maklik om lidmaat van die ZCC te word. Daar is geen lang tydperk van onderrig of katkisasie nie. 'n Mens meld jou bloot aan vir doop of voeg jou by die kerk sonder enige papierwerk. Om hierdie redes kan verwag word dat die snelle groei van die kerk in die afsienbare toekoms sal voortgaan, 'n Verhoogde opvoedingspeil by Swartmense en die voortgaande verwesteringsproses mag dit egter in die toekoms laat afplat.
'
N BEWEGING WAT NOG OP PAD IS"Wat moet ons van hulle dink? Vermenging met heidense gebruike, menseverering, selektiewe gebruik van die Bybel - dit kom by hulle voor. ...
'n Mens moet dus sê: dit is 'n beweging van teenstrydighede: 'n brug tussen die oue en die nuwe, 'n beweging met groot krag en belofte maar ook met vrae wat nog opgeklaar moet word, 'n beweging wat in sommige opsigte wegwys van Jesus Christus maar in ander weer na Hom heenwys. Daar kan bygevoeg word: 'n beweging wat nog op pad is."