Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid

AKTUEEL: Die onregverdige Mammon      

SKRIFOORDENKING:
Aktiewe betrokkenheid teen die verval in goddeloosheid

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Waarom ek slegs die 1933/53- Bybelvertaling gebruik

'n Nuwe brontaalgerigte Afrikaanse Bybelvertaling op pad!

Verplig om by die WARE 
KERK aan te sluit - NGB Art 28

Die leer van die "Nuwe Hervorming" (NH) 'n radikale breuk met die Christelike geloof, met die leer van saligheid

Die Sionistekerk (ZCC) - ZION City Moria

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog geen versoening on Orania nie

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") oor bewoording van Apostoliese Geloofsbeleidenis

Deputate GKSA verseker die SA Regering van Kerk se voorbidding

Nee vir Kindernagmaal

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Wending in die onderwys?

Swartes aanvaar nie Theuns Eloff

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Eie aard van samelewingsverbande

Die ACDP "uit en uit Christelik?"

GK Pietersburg-Noord se beswaar teen beleid van Deputate Owerheidsake

PERSRUBRIEK: Die mens 'n probleem vir homself

Die AP Akademie: Bekendstelling

Formuliere: Lank of Kort 

Die Afrikaner se voorliefde vir oorspronklike Heidense gebruike

Die "Kerklike kleed"

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van die Fariseërs

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 4 Julie 2004

Hoofartikel

DIE GEBED VIR DIE OWERHEID

Die Here gebied ons in die woorde van Paulus in Romeine 13 : 1 - 7 om ons te onderwerp aan die magte wat oor ons gestel is, omdat daar geen mag behalwe van God is nie, en die wat daar is, deur God ingestel is ... . Paulus beskryf dié magte in vers 3 as owerhede wat in vers 4 as dienaar van God, ons ten goede, getipeer word. Daarom is dit noodsaaklik om ons aan hulle te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete, sê die Skrif in vers 5.  Aan Timothéüs vermaan Paulus dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid ... (1 Tim 2 : 1 - 4). Petrus voeg daaraan toe om onderdanig te wees aan elke menslike verordening ter wille van die Here - of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen te prys. ... "Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer" (1 Pet 2 : 13 - 17). In hierdie artikel wil ons daaroor besin.

Guido de Bres, die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis, bespreek hierdie saak in artikel 36. Die Dordtse Sinode 1618/19 het hierdie belydenis (NGB) as een van die belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) van die Gereformeerde Kerke aanvaar. Hierdie artikel handel, volgens die opskrif daarbo, oor die burgerlike owerheid. Dit beskryf die instelling, doel en taak van die owerheid en vervolgens die verpligting van elkeen tot onderwerping aan hulle en om voorbidding te doen, "dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei", soos dit in 1 Timothéüs 2 : 2 beveel word. Ten slotte veroordeel die artikel "die revolusionêre gedrag van die (destydse) Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur."

Dis die samehang van hierdie drie sake waarop gelet moet word in die besinning oor die skriftuurlike opdrag vir die gebed(e) vir die owerheid, allereers in persoonlike opsig, maar vir die doeleindes van hierdie artikel spesifiek in die gesamentlike gebed van gelowiges in die samekoms(te) van God en sy gemeente(s), uitgespreek deur geordende dienare van die Woord. Ons behandel in hierdie aflewering die eerste saak, dié aangaande die "magte" wat oor ons gestel is.

"Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede - in die toeligting verwys dit na die 'magte' in Romeine 13 : 1 - 7 - aangestel het. Dit is volgens sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop", dis die begin van artikel 36. Dus is die owerhede, wette en regerings deur God daargestel en aan Hom verantwoordelik vanweë die verdorwenheid van die mense en om die voortspruitende losbandigheid in bedwang te hou. In ooreenstemming met die Dordtse Leerreëls (hfst 3 en 4, parr 1 - 5) behels dit die verwerping van die liberale lewensbeskouing dat die mens van nature goed is en dat die kwaad slegs uit navolging en as gevolg van die omstandighede geskied. Prinsipieel gesien, is die regering van ons land aan die Here, ons hemelse God en Vader, verplig om die samelewing voor te loop met dit wat God welgevallig is en die kwaad, die losbandigheid van die mense, te beteuel.

Paulus gebruik die woordjie "mag" wat aandui dat die owerheid kan hiet en gebied en indien nodig dit wat hy wil met geweld kan opdwing. Tog is dit nie so dat hy (as instansie) die mag van en uit homself het nie. Dit mag soms lyk asof daar twee teenoormekaar gestelde gode of magte in die wêreld is wat met mekaar in stryd verkeer. Dit skyn dat dit realiseer in 'n regering wat die rustige en stil lewe van God se kinders bedreig en deur middel van wetgewing en beleid opdwing wat prinsipieel en prakties nie die toets van God se Woord kan deurstaan nie, wat gepaard gaan met die onvermoë om doeltreffend te sorg vir fisiese veiligheid en beskerming teen geweld wat op talle wyses uitgeoefen word. Dit mag soms lyk dat sodanige owerhede dienare is van 'n bose godheid of gode wat sy/hul mag deur middel van aardse regerings toepas. In heidense mitologieë is so 'n dualistiese geloof aanwesig.

Die geskiedenis lewer die bewys van bloedige oorloë wat gevoer en ontsaglike wreedheid wat gepleeg is. Tirannieke magsbekleders is van tyd tot tyd in Bybelse sin as antichriste getipeer en as sodanig verwerp en teengestaan.

Die Woord van God leer ons dat die Drieënige God, Vader, Seun en Heilige Gees, die enige ware en almagtige God is en dat alle mag aan Hom behoort en van Hom uitgaan. Jesus Christus openbaar dit in die gesprek met Pilatus toe hy vra: "Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?" Daarop die antwoord van Jesus: "U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie ..." (Joh 19 : 10, 11). Nà sy opstanding sê Christus aan sy dissipels: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde ..." (Matt 28 : 18). Dit is so dat die Satan oor groot mag beskik, maar dit is aan hom verleen, hy het dit ontvang uit die hand van God om die mense te verlei en die oordeel oor hulle te voltrek. Vergelyk onder andere Openbaring 17 : 12b, 13 en 17: "..., maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid, en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. ... Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die Woord van God volbring is."

Owerhede ontvang van die Here hulle mandaat (Grieks: exousia) om te regeer. Maar dié mandaat gaan gepaard met ‘n roeping. Dus mág met die opdrag tot die handhawing van die Goddelike regsorde.

Ze (die owerheid!) heeft de ontwikkeling van het kwade tegen te gaan met geweld; niet met háár geweld, doch met dat van Gòd. Ze heeft straf toe te passen met het zwaard, maar dat is niet háár straf doch de straf van Gòd. Ze heeft opdracht en macht om zelfs het leven te nemen, omdat Gòd in bepaalde gevallen het leven stilgelegd wil zien. En daarnaast heeft ze de "goede" elementen te beschermen niet slechts, doch hen positief te eeren, door hun leven tot glorie te brengen. ... En ook dát in naam van God. En zoo heeft ze den weg te banen voor Christus Jesus. Want zij heet "liturg" van God. Ze vervult een dienst voor zijn rijk. (Prof B Holwerda. In: De Crisis van het Gezag. 1947.

Met dit in die gedagtes bid ons persoonlik en in die samekoms(te) van die gemeente(s), aktueel met die oog op die bestaan van elke dag, dat die Here sy koninkryk sal laat kom en sy kerk sal bewaar en dit sal laat groei. Die regering van vandag bestaan egter, vrywel almal wat daarin dien, uit aanhangers van afgode en valse religies. As regerende ANC is hulle vervuld van en verbind aan die onheilige, revolusionêre ideologie van die Kommunisme. Gevolglik bid ons dat die Here Self die werke van die duiwel, elke mag wat teen Hom opstaan en alle kwaadwillige planne wat teen sy heilige Woord bedink word, sal vernietig (HK, Sondag 48). Paulus beskryf in Efesiërs 6 : 12 dat ons in ‘n worstelstryd betrokke is "teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug". Dis wat ons, afhangende van die onderskeidingsvermoë wat aan die dag gelê word, in die teenwoordige tyd uitermate ervaar.

Dr KJ Kraan, outeur van Een Christelijke Confrontatie met Marx, Lenin en Stalin (1953. Kampen: Kok, bl 299) konstateer en beskryf die volgende drie feite:

1. Het Communisme is zeker geen godsdienst in de engere betekenis van het woord, het erkent geen hogere macht dan de maatschappelijke evolutie, het kent niet de verering van een godheid volgens zeker ritueel.
2. Het Bolsjewisme wil het eind zijn van alle religie.
3. Terwijl het Communisme het einde van alle godsdiens wil zijn, legt het slag op slag getuigenis af van het anima naturaliter religiosa, met andere woorden: van het religieus karakter van het mensenhart. We zouden het Communisme het liefst een anti-religie willen noemen. In anti is dan uitgedrukt beide tegen en in-plaats-van. Denk aan "Antichrist", de benaming van diegene die zich zowel tegen als in de plaats van Christus stelt. In dit "anti-religie" is dan de neen- en ja-houding van het Bolsjewisme kernagtig uitgedrukt: Een religie? Neen, anti-religie de vervanging van alle godsdiens. Geen religie, alleen maar atheïsme? Neen, anti-religie, vol van anti-godsdienstige religiositeit.

Kan die regering seën toegebid word in die besef van die religieuse antitese wat daar bestaan? Onder hierdie omstandighede, beslis nie! Maar kan ons bid vir bekering van die bewindvoerders wat oor ons gestel is? Ja, maar dan konkreet: bekering van afgodsdiens en van heidense religies en antichristelike ideologieë. In daardie perspektief kan ons ook bid vir ‘n hoopvolle toekoms vir ons daaglikse bestaan. Ons glo immers dat God alles ten beste beskik vir sy kinders wat Hy liefhet. Dit doen Hy ook, ondanks die mag wat oor ons gestel is, wat nie wandel op Sy paaie nie. "Aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas, vers 25)

In die volgende aflewering DV hoop ons die aandag te vestig op die oorblywende twee sake wat die NGB, artikel 36, beskryf.