Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
KERKLIKE JOERNAALDEPUTATE VIR SKAKELING MET DIE OWERHEID (GKSA)
VERSEKER DIE SA REGERING VAN DIE KERK SE VOORBIDDING
Verklaring oor algemene verkiesing
- DIE KERKBLAD, JUNIE 2004, BL 47 -
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se Deputate vir Skakeling met die Owerheid het kennis geneem van die gebeure rondom die verkiesing en die finale uitslae.
Die Deputate wens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geluk met die reëlings van die verkiesing en die rustige wyse waarop dit verloop het.
Dit is die hoop en vertroue dat die duidelike mandaat wat op demokratiese wyse aan die regering toevertrou is, op so 'n wyse uitgevoer sal word dat die groot probleme van Suid-Afrika, met besondere verwysing na armoede, kriminaliteit, geweld en MIV/VIGS, met verbeeldingrykheid en daadkrag aangespreek sal word.
Daar is waardering vir die bereidheid tot samewerking en raadpleging met minderheidsgroepe en kleiner partye. Dit kan groot waarde hê vir die vestiging van 'n kultuur van verdraagsaamheid en vir begrip en erkenning van die diversiteit van belange en waardes in 'n demokratiese opset.
Dit is die Gereformeerde Kerke se erns om op konstruktiewe wyse betrokke te wees by die land en sy probleme. Die Gereformeerde Kerke wil saam met ander kerke beide 'n priesterlike en profetiese rol vervul teenoor die owerheid en die land en al sy mense.
Die regering word verseker dat dit vir die Gereformeerde Kerke groot erns is om voorbidding vir die owerheid te doen.
Die president en die verkose lede - nasionaal en provinsiaal - word wysheid en sterkte toegewens en die seën van die almagtige, drie-enige God toegebid.
Kommentaar van Die Kerkpad se redaksie:
Op grond van skriftuurlik-antitetiese beredenering in voorblad-artikels in die Januarie- en in hierdie uitgawe van ons blad, kan ons ons nie vereenselwig met hierdie verklaring nie.
Ons staan ook skepties teenoor die indruk wat gewek word asof dit die algemene opinie van die lidmate van die Gereformeerde Kerke vertolk. PvdK