Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
KERKLIKE JOERNAALKINDERNAGMAAL
AANBEVELING VAN DIE RAAD VAN EREDIENS AAN
ALGEMENE KERKVERGADERING VAN
NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK
- DIE HERVORMER, 1 MEI 2004, bl 3 -
Die Raad vir Erediens het op versoek van die vorige Algemene Kerkvergadering wye studie laat doen oor die vraag na die kind en die nagmaal. Verskeie teoloë van die kerk (Bybelwetenskaplikes dogmatici, kerkhistorici en praktiese teoloë) is gevra om studiestukke en kommentaar. Uiteindelik het die Raad 'n aanbeveling geformuleer wat aan die 67ste Algemene Kerkvergadering voorgelê sal word vir oorweging.
Aanbeveling:
Op grond van die navorsing wat die kerk gedoen het oor die bediening van nagmaal aan kinders, is die kerk daarvan oortuig dat dit die wil van God is om nagmaal ook aan gedoopte kinders te bedien.
Verder aanvaar die kerk dat daar geen prinsipiële gronde is waarom die nagmaal nie aan gedoopte kinders bedien kan word nie.
Ter wille van begripsomskrywing en duidelikheid oor die saak van die "Kindernagmaal" behoort die omskrywing "Nagmaal deur die huisgesin van God", eerder in die kerk gevestig en gebruik te word.
Motivering:
As dit vir die kerk teologies aanvaarbaar is dat die doop aan kinders van gelowiges bedien kan word, geld dieselfde argumente waarom dit geregverdig is om nagmaal aan kinders te bedien. In die Bybel en die belydenisskrifte is daar nie prinsi-piële gronde wat die bediening van die nagmaal aan kinders van gelowige ouers onmoontlik maak nie.
Gedoopte kinders het ten volle deel aan die verbond van God, en is deel van sy verbondsvolk.
Die kerk se jonger en volwasse gedoopte lidmate vorm 'n geloofseenheid, wat nie teenoor mekaar geplaas behoort te word nie.
Kinders se geloof behoort, net soos dié van volwassenes, deur die nagmaal versterk te word.
As kinders die teken van die verbond met hul doop ontvang het, hoe kan hulle dan uitgesluit word van die maaltyd (die nagmaal) waar hierdie fees sigbaar gevier word?
Met die oog op implementering beveel die Raad vir Erediens daarom by die Algemene Kerkvergadering aan:
Lidmate - ingeslote ons kerkjeug, en veral ons kerk se ouers - moet opnuut en deurlopend in die prediking, pastoraat, by kategetiese geleenthede en in kerklike vergaderings oor alle aspekte tot sinvolle gebruik van die nagmaal onderrig word. Dit bly noodsaaklik om die kerk, ten opsigte van die sinvolle nagmaaldeelname deur gedoopte kinders as deel van die huis-gesin, te begelei.
Die Rade vir Erediens en Gesinsorg voorsien in oorleg met die Algemene Kommissie binne 'n jaar na afloop van die Algemene Kerkvergadering die nodige literatuur met die oog op hierdie toerusting aan die kerk.
betwis die aanbevelings in 'n brief aan die Redakteur van Die Hervormer. Dit is gepubliseer in dieselfde uitgawe as bogenoemde, op bl 2.Nee vir kindernagmaal
Dr JH Breytenbach, leraar van die Hervormde gemeente Wonderboom-Suid,
Na aanleiding van die aanbevelings wat die Raad vir Erediens aan die komende Algemene Kerkvergadering wil voorlê, die volgende:
Dat die navorsing die kerk oortuig het dat kinders by die nagmaal moet aansit, staan glad nie vas nie. Party van die navorsers bepleit dit, maar ander wys dit af! Almal gee toe: daar is geen enkele dwingende, duidelike, voorskriftelike woord uit die Skrif oor die saak nie. Inteendeel: die enigste Skrifwoord in dié verband, 1 Korinthiërs 11:28-29, maak dit nogal moeilik om in te sien hoe kinders sonder groot risiko by die nagmaal kan aansit.
Oor die wil van God moet ons met heilige erns, groot eerbied en diep ontsag praat. Dit pas nie om ligweg daarmee om te gaan in 'n beskrywingspunt waaroor ons almal weet in die kerk diepgaande verskille bestaan nie.
Ten spyte van al die gepraat, loop die argumente ten gunste van die kinders aan die nagmaaltafel nie al te vlot nie. Waar is die dwingende Bybelse getuienis? Dit bestaan nie. Ons het ingesien dat die argument wat loop oor die lyn van doop-lidmaatskap-nagmaal in stryd is met ons kerk se verstaan daarvan. Dit is ook nie konsekwent om die argument te gebruik dat dit die wil van God is dat kinders aan die nagmaaltafel moet aansit, en dan 'n ouderdom van sê tien jaar as vereiste stel nie. Hoekom dan nie maar sestien of sewentien nie? En hoekom dan nie maar die verseiste dat eers belydenis afgelê word nie?
Die Raad is nie die kerk nie. Die Raad is seker oortuig van sy saak, anders sou hy nie die aanbeveling gemaak het nie, maar sy eie stukke toon dat net een uit die dertien Ringe wat kommentaar gelewer het, sy oortuiging deel. Tien Ringe spreek hulle uit vir die behoud van die bestaande gebruik. Dit verteenwoordig 'n massiewe 77% van die Ringe. Vir my lyk dit asof die kerk se oortuiging eerder deur die 77 uitgespreek word as deur die Raad.
Maar die Raad sê: Die kerk is oortuig ...
Sou die Raad nie dalk meer reg aan die navorsing en die opinie uit die kerk laat geskied as hy sy beskry-wingspunt wysig nie? Byvoorbeeld:
Op grond van die navorsing wat die kerk gedoen het oor die bediening van nagmaal aan kinders, lyk dit nie vir die kerk of daar enige dwingende, prinsipiële redes is waarom die bestaande gebruik nie gehandhaaf moet word nie.