Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDIE EIE AARD VAN SAMELEWINGSVERBANDE
- DR JA HEYNS - 1986 SOSIALE ETIEK - DEEL 2/1, BL 86 - 70 -
Hoewel ons nie in alle opsigte saamstem met die resultate van sy handelinge nie, is daar ewenwel in dr Heyns se publikasies argumente wat met vrug gebruik kan word. Ons publiseer hieronder iets wat in hierdie rubriek die moeite werd is om van kennis te neem.
Die samelewingsverbande sowel as die sosiaal-etiese lewe in die verbande is geplaas onder die perspektief van die koninkryk van God. In hierdie koninkryk het die mens 'n konkrete taak en diens om te vervul. Om burger in die koninkryk te wees, is om 'n amp te beklee waaraan gesag verbonde is en om derhalwe met bevoegdheid op te tree in ooreenstemming met die eise van die amp.
Dit is dan ook die fundamenteelste amp van alle ampte wat die mens kan beklee. Waar mense dus in staat gestel word om burgers van die koninkryk te word en soos burgers te kan lewe en waar die koninkryk-op-die-wyse-van-die-huwelik; of op-die-wyse-van-die-gesin; of-op-die-wyse-van-die-arbeid; of-op-die-wyse-van-die-volk, ensovoorts gekonkretiseer kan word, ons sê, waar dit in 'n samelewing kan gebeur, daar word Gods wil gehoorsaam. Maar dan natuurlik ook die omgekeerde: waar dit nie gebeur nie, tree ontaarding in. Vanuit hierdie algemene vertrekpunt kan enkele konkretiseringe gemaak word.
Die groot waarde van die koninkryksvisie is die eis van die konkreetheid waarmee dit na die mens kom. Gods heilshandelinge het die mens nie net ten goede gekom nie, maar ook op hom beslag gelê en hom daardeur verplig om eweneens tot heil van ander te handel. Daarom is die grootste onheil wat die een mens die ander kan aandoen, om nie van die Koning van die koninkryk te getuig nie. Die mens se grootste nood is immers sy nood om God. En die burger van die koninkryk is geroep om in sy getuigende woord oor God, tot geloof in Hom op te roep en met sy konkrete daad sy eie geloof te bevestig. Hiérdie soort woord en hiérdie soort daad moet in elke medemenslikheidsverhouding en in elke samelewingskring gehoor en gesien word. Die afwesigheid hiervan is dan ook die begin van verval en verwildering. As my burgerskap van die koninkryk nie in elke verhouding van my lewe, gesien, gehoor en gevoel word nie, staan ek skuldig voor God; is my lewe nie 'n teken nie en het ek 'n ééndimensionele mens geword. God gebruik ons woord want Hy spreek deur ons woord. Dit mag natuurlik nie in 'n transsubstansiasie-sin verstaan word nie: ons woord word nie sy woord nie. net so min as wat ons persoon sy persoon word wanneer ons sé dat die mens as beeld van God geskape is. Nee, God verleen aan ons menslike persoon en handelinge 'n nuwe dimensie wanneer Hy dit tot sy handelinge en sy woorde maak deurdat Hy sy betekenis daaraan heg. Maar daarvoor moet die mens hom dan ook bereid verklaar. Wie egter nie bereid is om - deur God - gebruik te word nie, dit wil sê in 'n instrumentele sin onder Hom te dien nie, verhef hom konkurerend naas of selfs bo God en liefdeloos teenoor sy naaste.
Wie van God getuig - in woord en daad - omdat hy God lief het, sal ook sy naaste, om Gods wil, liefhê. Hierdie liefde is allereers op die persoon van die ander gerig en juis daarom transendeer (styg dit uit bo) taal- en kultuurverskille, want die persoon van die mens, waarop die liefde gerig is, transendeer genoemde verskille. Maar nooit mag die persoon egter van sy omstandighede of sy situasie losgemaak word nie. Daarom sal die liefde, in die mate waarin dit persoonlik word, ook in die hoogste mate saaklik word. En tot die saaklikheid van die liefde sal nie net behoort eerlikheid en trou, barmhartigheid en regverdigheid, diensbaarheid en waarheid nie, maar ook 'n gerigtheid op, 'n kennis van en 'n meelewende betrokkenheid by die konkrete omstandighede waarin die persoon van die ander hom bevind. Die God van die Bybel is die God wat dit juis opneem vir die kwesbare en gekweste mens, vir die weduwees en die wese, vir die onbeskermde, uitgelewerde arme, vir die reglose vreemdeling. Voortdurend word Israel dan ook aan sy verlossing uit 'n magtelose slaafse posisie in Egipte herinner en op grond dáárvan opgeroep om alle reglose en weerlose mense te behandel soos God hulle behandel het (vgl Deut 10:17:22). As die liefde dus beide universeel en konkreet is, sal die egte liefde die teenwoordige gestalte van wêreldse ordeninge en institute bevraagteken en ter wille van die persoon van die mens, 'n kritiese instansie word ten opsigte van alles wat in die wêreld met lewensomstandighede en lewensvoorwaardes te make het. In elke samelewingsverband waar die een mens met die ander mens te doen het of die een groep mense met 'n ander groep mense, sal hierdie liefde steeds die ideaal bly. Nog steeds bly die liefde op die persoon gerig, maar dan uitsluitlik die persoon van die self. Nog steeds behou die liefde sy saaklike karakter, maar dan gaan dit om die saak van die eie persoon. Van openheid vir en gerigtheid op en offer ter wille van die ander, is hier nie sprake nie. Waar die liefde eksklusief op die self en die belange van die self gerig is, daar word die self met sy aanleg en ideale, sy eienskappe en herkoms so verabsoluteer dat aan die ander geen lewensruimte en prakties ook geen lewensreg gegun word nie. Selfgekonsentreerde liefde kan hom nie met die ander, sy persoon en sy omstandighede, empaties vereenselwig nie, behalwe wanneer hy die ander ten diepste as 'n verlengstuk van homself beskou. Maar dan is sy "naasteliefde" in wese ook niks anders as bedekte selfliefde nie. Solidariteit met die naaste in sy geluk en ongeluk, deelname met sy vreugde en deelhê aan sy kruis, is hier nie moontlik nie. Van selfverloënende diens aan die naaste is hier nie sprake nie, want selfverloëning word gesien as aantasting van die menssyn self. Ewe min kan hier ooit vergifnis voorkom, want berou is 'n teken van swakheid en impliseer 'n voorneme van verbetering. Wie die naaste nie liefhet nie, kan ook nie met die bediening van die versoening besig wees nie, of 'n agent van versoening wees nie. Hy bring mense nie bymekaar nie, maar jaag hulle uitmekaar; hy stig nie vrede nie, maar bring polarisasie en vyandskap: hy handel nie regverdig nie, maar laat die onreg seëvier.
Dit is duidelik: waar die liefde nie heers nie, kan geen persoonseerbiediging aangetref word nie en waar laasgenoemde ontbreek, word die mens nie meer as 'n sedelike subjek gesien en behandel nie, maar tot 'n na willekeur bruikbare objek verneder. Hy is iemand wat geëksploiteer, gediskrimineer en geïndoktrineer word. So word in die huwelik die vrou tot 'n genotsvoorwerp en die man tot 'n statusgewende simbool verlaag. In die gesin word kinders tot slaansakke gemaak; in die arbeid word die mens as 'n winsobjek gebruik; in die volk word die mens 'n voortplantingsinstrument; in die politiek is die mens saam met ander deel van die stemvee en in die kerk iemand wat tot bekering gedwing moet word. In 'n beskaafde samelewing waar daar maar iets van die liefde en dus van persoonseerbiediging aanwesig is, sal iets dergeliks nie mag voorkom nie.
Vra ons na die teenoorgestelde van persoonseerbiediging, sou die blote negatiewe, naamlik persoonsoneerbiediging veels te passief wees om die aktief-dinamiese elemente in 'n inter-persoonsrelasie waar die liefde en dus die eerbiediging ontbreek, aan te dui. Moontlik kan aan die begrip persoonbelediging gedink word. Maar ook dit bevredig nie heeltemal nie. Ons meen dat in die begrip manipulasie en dan met name persoonsmanipulasie, die etiese krisis wat die kern van die menslike persoon raak en gevolglik ook die diepste grondpylers van die menslike samelewing in gedrang bring, die duidelikste tot openbaring kom. In die algemeen sou ons kan sê word die mens - na liggaam en gees - in manipulasie voortgedrywe na 'n doel en ingedrywe in 'n plan wat hy self, of hulle self, nie gekies het nie, moontlik selfs nie ken of vermoed nie, of positief selfs nie wil nie en dit op 'n wyse, met 'n doel en met 'n effek wat nie in ooreen-stemming is met die eerbied wat inherent aan die persoon van die mens verskuldig is nie. Terwyl ons, ons nie deur die etimilogiese herkoms van die begrip manipulasie, waarin iets van die menslike hand teruggevind word, wil laat mislei nie, is dit tog merkwaardig dat die Bybel nie net van Gods hand hand praat waarin die mens hom bevind nie (Deut 33:3, vgl Ps 38:3; Ps 74:11), maar ook van die mens se hand waarin die wêreld geplaas is, wat beteken dat ons ook in mekaar se hand is. Om dus iets te doen met wat in jou hand is, is deel van die mens en dié reg mag niemand hom ontsê nie. Trouens, die wêreld waarin die mens leef en werk, is in al sy onderdele "behandelde" wêreld, dit wil sê kultuur. Die vraag is dus: hoe behandel jy ander en hoe word jy deur ander behandel? Op hierdie etiese veld kan die mens hom deur liefde laat voort-beweeg en so die persoon van die mens eerbiedig, of hom deur die "onliefde" laat voortdrywe en die persoon van die mens op allerlei wyses manipuleer.
Op al die moontlike vorme van individuele en kollektiewe manipulasies, die tegnieke en die oogmerke daarvan, hoef ons hier nie nader in te gaan nie. Vir ons doel is dit van belang om te weet dat daar geen enkele verhouding in geen enkele samelewingsverband is, waar manipulasie in die een of ander vorm nie voorkom nie: van die subtielste suggestie waar die mens se gees met bepaalde denkbeelde binnegedring word en hy daarvolgens gaan handel in die waan dat selfstandig tot dié mening geraak het, tot die uiterste vorm van breinspoeling wat op 'n totale ommekeer en selfs verandering van die menslike persoonlikheid neerkom. Manipulasie is nie bloot net leiding of oorreding nie. Laasgenoemde handeling gaan immers uit van die mens se selfstandige meewerking aan en vrye beslissing ten opsigte van bepaalde keusemoontlikhede. Met die mens as 'n sedelike wese word wel deeglik rekening gehou, terwyl die proses van leiding of oorreding selfs 'n versterking of stimulering van die mens se sedelike kwaliteite beteken. Mani-pulasie is egter 'n handeling wat tot 'n heel andere kategorie behoort en met ander veronderstellinge en ander doelstellinge werk. Hier gaan dit om 'n handeling of tegniek wat ten diepste 'n aanval is op en 'n aantasting van die identiteit van die persoon van die mens. Die doelstelling is immers om die mens te reduseer tot 'n staat van mindere of meerdere geestelike afhanklikheid, terwyl die ver-onderstelling is dat daar mense is wat in die hande van ander oorgegee is en deur hulle na willekeur gebruik kan word. ...
Dit is duidelik: samelewingsverbande is op die mens en die mens op die samelewingsverbande aangelê. Die mens wat met die samelewingsverbande omgaan, dit hanteer en benut is deur die sonde besmet en daarom is ook die samelewingsverbande besmet. Neutrale aangeleenthede is hulle nie, maar wel dinamiese strukture, voortdurend in beweging, diensbaar òf aan die koninkryk van God, òf aan die antiryk, die ryk van die duisternis. Daarom moet daar dan ook voortdurend herstel plaasvind: al meer en meer moet die sosiaal-etiese lewe in die samelewingsverbande en die verbande self tot koninkryksgestaltes omvorm word. Die vraag is net: hóe moet dit gedoen word. Wat is die taak van die Christen wanneer hy hom midde-in so 'n toestand van ontaarding en verval bevind?