Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYIS DIE ACDP IN TERME VAN ONS GEREFORMEERDE GELOOFSOORTUIGING "UIT EN UIT CHRISTELIK"?
- P van der Kooi -
In Kerk en Woord, maandblad van die Gereformeerde Kerk "Die Kandelaar" te Pretoria,
April 2004, bl 24, beveel die eindredakteur, Rob van der Kooy, die ACDP aan as politieke party wat Gereformeerdes se ondersteuning by die stembus mag ontvang. Hy motiveer dit soos volg:In SA is daar net een party wat regtig probeer om vanuit die Bybel na sake te kyk, en wat in sy uitsprake, sienings en beleid uit en uit Christelik wil wees. Dit is die ACDP, die African Christian Democratic Party. Voor die vorige verkiesings het ek ook al op hierdie party gewys en diegene wat in die afgelope jare hierdie party dopgehou het, onder meer wat betref sy toesprake in die parlement, sy mediaverklarings en nou ook sy verkiesingsveldtog, sal kan getuig dat die party by alles wat hy doen en sê, die Woord van God voorop plaas. By elke aspek waaroor hulle 'n mening lug, vra hulle eers watter Bybelse beginsels hier ter sprake is.
Die ACDP se grondwet en beleidsuitsprake kan op Internet nagelees word. Kortliks net die volgende:
Die party bely dat die Drie-enige God, Skepper van en Heerser oor die aarde is, ook oor SA.
Dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is.
Dat alle owerhede aan God gehoorsaam moet wees.
Dat Bybelse beginsels die grondslag bied vir 'n owerheid se beleid en optrede ten opsigte van alles waarmee hy te doen kry.
En dat die owerheid 'n instrument van God is om die samelewing te bestuur en om die swaard van geregtigheid te hanteer.
Sy ekonomiese beleid lei hy af uit Bybelse gegewens soos dat mense hard moet werk, eerlik moet wees, die swakkeres in die samelewing moet bystaan, en dat belasting betaal moet word. Individue en gemeenskappe moet bemagtig word om self aan hulle probleme aandag te gee. Christelike gesinswaardes is vir hulle belangrik. So kan 'n mens aangaan.
Tans het die ACDP agt lede in die nasionale parlement en ook nog vyf lede in vier provinsiale parlemente, asook sestig lede in plaaslike rade in al nege provinsies. Steun aan hierdie party het in die afgelope twee verkiesings uit 'n verskeidenheid van Engelse en swart kerke gekom, insluitende lidmate van konvensionele en charismatiese kerke. Ek vermoed dat steun aan hom uit gereformeerde kerke baie klein was. Maar die blote bestaan van 'n christelike party dwing ons as gereformeerdes om deeglik oor ons politieke roeping in ons land te besin.
Nee, die ACDP is dalk nie so gereformeerd as wat ons graag wil sien nie. Maar hy wil in alles na Gods Woord luister, en dit is iets om baie dankbaar voor te wees en wat aangemoedig moet word. Daarom gaan ek sekerlik (weer) vir die ACDP stem.
Tot sover die redakteur van Kerk en Woord. Hierop die volgende kritiese kommentaar. Allereers enkele vrae.
1. In hoeverre verskil die ACDP van die kommunistiese doelstellings van die regerende ANC soos aangevoor in die sosialistiese Vryheidsmanifes en die humanisties-liberale akte van Menseregte? Hieroor verneem ons niks in Rob van der Kooy se beskouing van die ACDP nie.
2. In hoeverre staan die ACDP by die Christelike geloof? Gaan dit gepaard met geloofsuitsprake wat afgodsdienste, soos die Islam en die verering van voorouergeeste uit sy party-organisasie, organe en offisiële woordvoering weer?
3. Hoe word die Bybel geïnterpreteer? Word dit bygetrek as 'n dekmantel om geloofwaardigheid aan gestelde argumente te verskaf of vind ons hier werklik die gesaghebbende en, in voorkomende gevalle, vermanende Skrifgetroue: "So sê die Here HERE"?
Dit staan op rekord! Op Sondag 28 Maart het 'n ACDP- parlementslid Mighty Madasa op e-TV se "Soapbox-program" soos volg op 'n vraag geantwoord:
Mense moet vir ons stem omdat ons hulle voorsien van 'n voertuig wat gegrond is op waardes, maar ons is nie eksklusief vir Christelike waardes nie. Ons praat van waardes, maak nie saak wat die bron van waardes is nie. In sekere persone se geval mag dit Islam wees en in ander persone se geval ander gelowe.
In hierdie verband is dit belangrik om daarop te let dat die ACDP ook van sy lede het onder die lidmate van die sinkretistiese Sionistekerk, die ZCC, wat vir 'n groot deel nog aanhangers van die voorvadergeesteverering is (lees artikel hierin).
Dit is weliswaar so dat die ACDP in opposisie teenoor die ANC staan, maar aan die ander kant is dit ook so dat hy die ANC/SAKP ondersteun in die revolusie ten opsigte van die vorige staatsbestel. En soos sake ontwikkel het, werk hy tans saam met die ANC in Kwa-Zulu Natal teenoor die Inkhata-Vryheidsparty om sodoende die regering van die ANC te onderskraag.
Rob van der Kooy is impulsief-optimisties oor die Bybelse geloof van die oorwegend swart lede en ondersteuners van die ACDP. Prof dr GC Oosthuizen beskryf in Die Godsdienste van die Wêreld (1977. Pretoria. NG Kerkboekhandel, bl 296), daar teenoor as volg:
Enige studie wat nie diep op die Afrikagodsdienste ingaan nie, sal oppervlakkige gevolgtrekkinge oor die seperatistebeweging maak. ...
Daar is ekonomiese, sosiologiese, historiese, etniese, religieuse oorsake en die Bybel self is natuurlik 'n belangrike oorsaak. Waar die "Gees" en sy "influisteringe" prominent word en die verhouding tussen die Heilige Gees en die Bybel dun word, lei dit tot die invloei van tradisionele elemente. Toe die Bybel in die moedertaal verskyn het, het hulle veral in die Ou Testament hul tradisionele wêreld herontdek. Die Bybel self het in sommige gevalle 'n boek met magiese krag geword.
Daar bestaan diepgaande verskille tussen werklike Gereformeerde politiek en dié van die ACDP. Nieteenstaande sy Christelike masker, is die ACDP betreffende die "Nuwe Nasie", polities net so revolusionêr as die ANC.