Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYGEREFORMEERDE KERK PIETERSBURG-NOORD
TEKEN BESWAAR AAN TEEN DIE BELYDENIS EN KERKLIKE BELEID VAN DIE DEPUTATE VIR OWERHEIDSAKE
"n Goeie geleentheid is nie benut nie"
- Briewekolom Die Kerkblad, Mei 2004, bl 46 -
Die kerkraad van Pietersburg-Noord het op 'n vergadering met kommer van die inhoud van bovermelde artikel deur dr Nico Vorster kennisgeneem, omdat die kerk in sy profetiese amp nie aan die woord kom nie. Sien Romeine 13 en Nederlandse Geloofsbelydenis , artikel 36.
1 Petrus 2:13-16: "Omdat die Here dit wil , moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moet nie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien."
Alhoewel die afvaardiging 'n kerklike afvaardiging was, is die verslag, indien enkele verwysings na "kerke" weggelaat word, nie veel van 'n verslag wat noemenswaardig verskil van enige wêreldlike organisasie nie. Hierdie verslag meld dan ook nie wat die ANC se reaksie hierop was nie. Die ANC het die geleentheid gebruik om die kerk in te sleep by politiekery. 'n Goeie geleentheid is vir die kerk geskep om profeties vermanend en opbouend te wees, maar dit is nie benut nie. Geen tereg-wysings of vermanings uit Gods Woord of verwysing na Gods Woord kom voor nie.
Die lofrede aan die ANC-leierskap in die inleidende pa-ragraaf staan in skrille kontras met die bekende en harde werklikheid waarvan die redakteur, prof JH van Wyk, in die hoofartikel van dieselfde uitgawe melding maak. Na die skokkende statistiek gaan hy voort en meld tereg: "Die statistiek is oorweldigend en kan 'n mens tot waansin dryf." Tog sê die afvaardiging aan die ANC dat "oor die algemeen is Suid-Afrika 'n beter land om in te leef as tien jaar gelede." Dit is nie die ervaring van die kerke in die algemeen nie en elke kerk moet self oordeel of dit werklik so is.
Verder is dit die primêre taak van almal in die regering om die swaardmag te hanteer. Vergelyk Romeine 13:14 - "Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen te straf." Die lewe is 'n geskenk van God (vergelyk die sesde gebod). Die regering faal in sy opdrag van God om deur die uitoefening van die swaardmag die doodslag te weer. Ons deputate het hierdie ongehoorsaamheid nie aan die ANC uitgewys nie.
Die voorstelle aan die ANC handel wel met ernstige vraag-stukke, maar weer eens kom die kerk in sy profetiese amp nie aan die woord nie. Daar is geen vermanings uit die Woord van God oor die maatskaplike en geestelike verval wat deur wetgewing goedgekeur word nie, soos aborsie, dobbelary, sabbatsontheiliging en minagting van die huwelik deur vigsvoorkomingsprogramme. Daar moes aangetoon gewees het dat sulke praktyke God se toorn oor die land en sy volke bring en dat dit nie beredeneer moet word vanuit die menseregtekultuur, grondhervorming en grondroof nie.
Dit is nie moontlik vir die GKSA om 'n bydrae te maak tot "geregtigheid vir almal" sonder om te getuig dat geregtigheid slegs deur Christuis in die hele samelewing moontlik is nie. Vergelyk Jesaja 9:13-15: "Daarom sal die HERE vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie afsny. Die leiers en die koning se gunstelinge is die kop-, die profete wat die leuens verkondig, is die stert. Dié wat die volk moet lei, het hulle mislei, en dié wat gelei moes word, is verwar."
Die beswaar is hoe die deputate die saak aangepak het, meer in besonder of hulle voor menseregte gebuig het. Ons kerke moet versigtig wees om nie verlei te word deur politieke programme te propageer nie. Ons as gemeente teken daarom beswaar aan teen die belydenis en kerklike beleid van die deputate.