Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
OPVOEDING EN ONDERWYSWENDING IN DIE ONDERWYS?
Perspektief op onlangse gebeure
- DR PE VAN DER DUSSEN -
Sekere gebeurtenisse en uitsprake op onderwysterrein het die laaste tyd by sommige ‘n gevoel laat posvat dat ‘n gunstige wending in die onderwys plaasgevind het, plaasvind, of voorlê. Van die gebeurtenisse is die vervanging van dr Kader Asmal as minister van onderwys die opspraakwekkendste. Dit is nodig om hierdie en voortvloeiende gebeurtenisse en uitsprake in perspektief te plaas teneinde ‘n nugter en gesonde beoordeling van sake te behou.
Na die ANC-SAKP se verkiesings op 16 April, is Asmal onverwags op vernederende wyse as Minister van Onderwys vervang. Nadat hy verlede jaar te kenne gegee het dat hy wil uittree, is hy onder die eerste tien van die ANC se kandidaatslys vir die verkiesings geplaas. Dit het hy klaarblyklik as ‘n mosie van vertroue ervaar, veral ook omdat hy in die top van die SAKP sit wat die ANC-regime se toutjies trek.
Asmal het in die aanloop tot die verkiesing voortgegaan om met ‘n houding van gesagsvolheid ingrypende beleidsuitsprake oor alle fasette van onderwys te maak. Daarmee het hy te kenne gegee hoe seker hy van heraanstelling is. Eers op 21 April, twee dae voor Mbeki sy kabinet aangekondig het, het Asmal die eerste keer twyfel oor sy heraanstelling getoon toe hy tydens ‘n toespraak vir joernaliste gesê het dat hy vir die eerste keer in sy loopbaan nie ‘n uittreksel vir hulle gereed het nie. Dit is geskiedenis dat Asmal sonder enige erkentlikheidsverklaring of lofrede eenvoudig eenkant toe gestoot is.
Mev Naledi Pandor is as Asmal se opvolger aangestel. Sy is volgens mediaberigte ‘n opgeleide en ervare onderwyseres met baie ervaring van administrasie, ‘n aktiewe Moslem (waaruit dan die gevolgtrekking gemaak word dat sy nie ‘n kommunis kan wees nie) en getroud met ‘n Indiër (wat die slag van Asmal se weglating in daardie geledere versag het). ‘n Gevoel het posgevat en is deur propaganda versterk en verbrei dat ‘n nuwe wind deur onderwys in Suid-Afrika gaan waai. Pandor het wel deeglik aan die ontstaan van hierdie gevoel meegewerk. Een van haar eerste uitsprake was dat meer aandag aan onderwyspraktyk en minder aan onderliggende teorie en ideologie gegee moet word. Daarmee het sy die indruk opgewek dat Asmal te veel ideologie en te min onderwys beoefen het en vir die regime ‘n verleentheid geword het. Asmal se uitspraak in Maart dat (hoër) onderwys voortaan volgens die beginsels van Karl Marx – dit wil sê klassieke en kompromielose ideologiese kommunisme – gemodelleer moet word, is meermale genoem as die moontlike strooitjie wat die kameel se rug geknak het.
Hierdie uitspraak van Pandor was ‘n uiting van gevoelens wat al sterker in die onderwysomgewing uitgespreek is en het aangedui hoe die wind in die regime se raadsale waai. Uit die geledere van die Suid-Afrikaanse Gesagsliggaam vir Gehalteversekering (SAGG, in Engels as SAQA bekend) is laat hoor dat daar bietjie gewag moet word voordat private instellings vir onderwys drastiese besluite neem wat uit Asmal se uitsprake kon voortvloei.
Ook Pandor se reaksie op die bevin-dinge oor kinders se onvermoë om na 3 tot 5 jaar op skool te kan lees, skryf en reken, het op sigwaarde moed aan onderwyskundiges gegee. Haar nuutste uitspraak ten gunste van moedertaalonderrig in die lae grade val selfs sterker in hierdie kategorie. Ook haar uitsprake oor Outcomes-based education (OBE – die Engelse benaming word behou teneinde Afrikaans nie met ‘n deur en deur vreemde en vir gelowiges totaal onaanvaarbare begrip te besoedel nie) is eweneens merkwaardig en ‘n duidelike politieke breuk met Asmal. OBE was immers Asmal se troetelkind en die speerpunt van sy onvermoeide aanslag teen Christelike en Afrikaner onderwys. Hy het daarop geroem dat Suid-Afrika ‘n unieke onderwysstelsel in die wêreld het; inderdaad, want geen ander land wat daarmee begin het, het dit nie verwerp nie.
Ook Pandor het OBE nie verwerp nie. Sy was wel krities oor die toepassing daarvan, maar nie teen die beginsel nie. Wat haar betref, gaan Kurrikulum 2005 deur. Dit sal daarom naïef wees om te aanvaar dat ‘n wending op onderwysgebied plaasgevind het. Inderdaad sal dit onverantwoordelik en misdadig teenoor die huidige jong geslag wees wat reeds onder die verraad en rewolusie van 1994 ly, en des te meer teenoor hulle kinders en kleinkinders – die opkomende geslagte.
Dit bly die doelwit van die kommunisties-geleide regime om elke oorblyfsel van Christelike en Afrikaner-onderwys te vernietig, en OBE is ‘n deurslaggewende onderdeel van die vernietigingsmasjinerie. Die leiers van die Kommunistiese rewolusie in Rusland in 1917 het verklaar: Gee aan ons een geslag kinders en ons vernietig die Christendom. En sien ons die ontkerstening nie voor ons oë plaasvind skaars tien jaar na die Rewolusie in Suid-Afrika nie!
Meelopers van die SAKP-ANC in blanke geledere het hulle taak vergemaklik. Nadat die Blanke en veral die Afrikaner se gevoel vir eie identiteit en hulle volkstrots stelselmatig twee dekades lank voor 1990 afgetakel is, onder meer deur twyfel oor hulle geskiedenis deur die destydse onderwysstelsel te laat ontstaan, kon die Kommunistiese regime van 1994 bloot daarop voortbou om deur die Afrikaner en die blankes die Christendom aan te val deur ook binne die Christendom ‘n identiteitskrisis te skep.
Die onrustigheid in al die kerke het nie "toevallig" gekom nie, maar is doelbewus aangevoor en ingevoer deur die rewolusionêre magte wat daarin geslaag het om binne die kerke vrywillige medewerkers te bekom.
Dit is verblydend en moedgewend dat daar aanduidings is dat die weerstand teen die SAKP-ANC-regime se voortgesette aanslag nie in alle afdelings van Christelike en Afrikaneronderwys verminder het sedert Asmal se verdwyning nie. Aan die ander kant is dit onrusbarend dat in sekere geledere, selfs geledere op gereformeerde grondslag in die onderwys, met die uitvoering van Kurrikulum 2005 saamgewerk word. Daar moet besef word dat die Kommunisties-geleide aanslag op die Christendom en die Afrikanerdom kompromieloos is met OBE soos dit in Kurrikulum 2005 beliggaam word as speerpunt. Samewerking en kompromie met of binne hierdie raamwerk is daarom nie net onmoontlik nie, dit moet van Christelike en Afrikanerkant so sterk as moontlik verwerp en bestry word.