Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
SKRIFOORDENKING
DIE HERE ROEP ONS TOT AKTIEWE BETROKKENHEID TEEN DIE VERVAL IN GODDELOOSHEID
Hosea 2
- DS PJ JANSEN VAN NIEUWENHUIZEN _ MARBLE HALL -
Twis met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg. Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos 'n woestyn, ja, haar stel soos 'n dor land en haar van dors laat sterwe. (Hosea 2 : 1 en 2)
Ons leef in 'n interessante tyd. Die lewe het opwindend geword. Ons kan in nuwe strukture dink. Ons hoef nie meer 'n enkele waarheid te aanvaar nie. Dié nuutgevonde vryheid, wat niks anders as vrysinnigheid is nie, vreet al hoe vinniger aan die fondamente van volk en kerk. In die kerk word al sterker gesteun op die menslike opinie. In die volkslewe sien ons die geestelike agteruitgang in die verslawing aan die genotkultuur.
Hoe reageer u daarop? Met - dit het met my niks te doen nie? Of met - dit is wonderlik dat ons uiteindelik 'n demokratiese samelewing het waarin ons die vryheid het om te kan dink en maak soos ons wil? Of dalk met - ek het vrede met alles en almal, want ek kan nog my eie gang gaan? Miskien soos Pilatus met - Gaan julle maar aan soos julle wil, ek het geen verantwoordelikheid in alles wat gebeur nie?
Watter getuienis gaan van u uit? Gelatenheid? 'n Laat Gods water maar oor Gods akker loop, houding? Word iets van u gehoor en deur u gedoen, meer as om net te loop en brom en kla? Dat ons rede het tot kommer is waar. Ons volkshuis val uitmekaar en elkeen wat iets oor die eie volk durf sê, word uitge-kryt as 'n verleentheid uit die apartheidsjare. Op kerklike terrein beleef ons dieselfde. Nie meer die Woord nie, maar die rede en gevoel en omstandighede word bepalende rigtingwysers in ons godsdiens en besluite.
Het ons met dit alles niks te make nie? Het ons geen rol te speel nie? Hoor: Die HERE roep ons op om aktief betrokke te wees teen die verval in goddeloosheid.
Hy praat in ons teks met individue. Ons is elkeen persoonlik hierby betrokke Die kinders en die moeder is 'n bekende beeld in die Hosea profesieë. Met beide terme word Israel aangedui. Die volk is die moeder en die volksgenote is die kinders. Hulle, die enkelinge, bepaal die swakheid of die krag van die volk en daarom roep die HERE hulle, die lede, op om betrokke te raak. Hoewel geen volk vandag direk met Israel vergelyk kan word nie, het die Bybel nie die volksbegrip verloor nie. Volke is gegewe van die HERE. Hy bepaal die woonplek van die volke. Hy wil deur die volke gedien word. Hy red die volke in die gelowiges uit die volke. Waar ons so ryklik geseën is met ons volkswortels in die gereformeerde leer, moet ons aandag gee aan God se eer. Elke gelowige Afrikaner moet betrokke wees teen die verval van ons volk in goddeloosheid. Elke Christenlid moet iets doen om sake reg te stel.
So ook in die kerk. Elke lidmaat het 'n taak. Elkeen moet betrokke wees, aktief betrokke om die verval teen te werk. Die HERE gee aan elkeen 'n persoonlike verantwoordelikheid, waarvan nie mag weggeskram word nie.
Ons kerm gedurig oor leiers. Ons soek altyd na iemand langs ons vir wie ons die bal kan aangee. Ons het so gemaklik geraak dat opns nie meer oog vir ons persoonlike verantwoordelikheid het nie. Terwyl ons tog sê: Die ketting is so sterk of swak soos sy skakels is.
Hieroor het die HERE dit met ons. Ons moet sin kry in ons persoonlike verantwoordelikheid. Elke - ek - moet aktief betrokke raak waar hy hom of haar bevind tot eer van God.
Hiervoor is nodig dat ons op die verval bedag moet wees. Die profeet moet die kinders se oë oopmaak, sodat hulle kan sien wat gebeur. Die verhouding tussen Israel en die HERE is verbreek. Nie omdat Hy 'n skeidbrief aan haar gegee het nie! Nie omdat Hy haar verstoot het nie (Jes 50:1), maar omdat sy ontrou is. Israel het afvallig geword, sy het hoerery en owerspel bedryf.
Sy het ontrou geword deur die afgode van die Kanaäniete te aanbid en haar oor te gee aaan die natuurgodsdiens van die land. Die Kanaäniete het verskillende afgode gedien in die oortuiging dat hulle verantwoordelik was vir die vrugbaarheid van die land. Die natuurgode het gesorg vir reën en brood en klere en olie en drank. Sonder hulle seën sou daar geen oeste wees nie en geen voorspoed nie. En Israel het hulle nagevolg!
Sy het die HERE se liefde verag. Sy skryf sy sorg en gawes aan die natuurgode toe. Sy vertrou op alles behalwe die HERE. Vandaar dat sy, soos die Kanaäniete in allerhande sondige bedrywe betrokke raak om die gode tevrede te hou. Sy het van die HERE vergeet. Vergeet dat dit deur sy genade en seën is dat sy lewe (Eseg 16), daarom het sy die verbond verbreek. Die moeder was ontrou.
Ons mag hierdie saak nie mis nie. Verval in die volkslewe en in die kerklike lewe is ontrou aan die HERE. Dit is verbreking van die verbond. Dit is 'n ernstige saak. Dit is nie 'n geval van druk maar die oë en ore toe nie.
Ons verantwoordelikheid is om die die verval raak te sien en te erken vir wat dit werklik is. Die gestry en redenasies oor die waarheid van die Bybel; die invoer van mense se gevoel en oortuigings in die bediening van die Woord, sakramente en tug; die miskenning van God se werk in die wetenskap; skending van die dag van die Here deur werk en sport en ontspanning; die opstand teen gesag, die sedeloosheid, is in die eerste plek opstand teen God.
So moet die kinders die optrede van hulle moeder sien. Sy het die wil van God verbreek. Daarteen moet hulle optree en so moet ons doen in ons volks- en kerklike lewe. Die kwaad waarmee gespog word. Die ontrou wat soos 'n halssieraad om die nek van die moeder hang om haar ontug te beklemtoon en die trotse oë van opstand, daaroor moet ons met die moeder twis. Persoonlik moet ons, elke ek, daarteen stry. Twis beteken om te bestraf en te verwyt oor ontroue optrede. Die kinders moet die moeder bestraf oor haar ontrou. Ons moet persoonlik die verkeerde, die sonde uitwys en dit bestraf. Ons moet ons verwyte aan die regte adres rig. my volk wat so graag roem dat sy gelowig is, die kerk waarvan ék lidmaat is.
U en ek moet optree teen die verval. Ons moet dit uitwys en daarteen waarsku. Die HERE het 'n besondere doel met hierdie opdrag. Hy bewys daarin sy genade. Merk op, daar staan - anders! Twis, en laat sy verwyder, anders! "Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte".
Dit is 'n verwysing na Esegiël 16. Daar word die geboorte van Israel beskryf. Sy was die slawevolk in Egipte. Sy was niks sonder die genade van die HERE nie. Soos 'n pasgebore kind wat in 'n plas bloed in die veld lê, so was sy! Vandaar het die HERE haar gered en haar groot en mooi gemaak. Nou loop sy gevaar om dit alles te verloor vanweë haar ontrou. Sy sal word soos niks as sy in ballingskap gaan. Behalwe die karakter van straf, was daar ook genade in die ballingskap Dit was nog nie die laaste gerig nie, maar 'n ernstige ingrype van die HERE om haar na Hom toe terug te roep.
Toe het die volk duidelik gesien dat dit die HERE is wat reën gee en koring en olywe en goud en silwer. Vir dié wat dit ingesien het, was daar redding. Vir dié wat dit verwerp het, verwerping. Met hierdie waarskuwing moet ons optree teen die verval in goddeloosheid. Die voorbeelde skreeu tot ons en ons mag nie swyg nie.
Ons moet ons verantwoordelikheid persoonlik en ernstig opneem. Die liefde van God wat in Christus aan ons bewys is, dring daarop aan. In Hom geheilig, moet ons die eer van God van harte soek. Onder die dringende leiding van die Heilige Gees moet ons die Woord bestudeer, sodat ons kan opstaan en sê: So sê die HERE.
Laat ons biddende stry teen die verval in goddeloosheid.