Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
FORMULIERE: LANK OF KORT?
Ds Hennie de Villiers bespreek in "Kwarteltjie", kwartaalblad van Die Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk"), namens sy kerkraad, die saak van die gebruik van die lang of kort liturgiese formuliere tydens die eredienste.
Inleidend
In die vergadering van 13 Mei 2004 het die Kerkraad besluit dat teruggekeer word na die gebruik van die volle formuliere. Die volgende studie van die Nagmaalsformuliere toon hoeveel belangrike sake uitgelaat is in die verkorte formulier. ...
Lengte-verskil tussen die formuliere
Die volgende het dadelik opgeval:-
1. Die verskil is veral na die beginaanhaling oor die instelling van die Heilige Nagmaal. Die woorde tydens Nagmaalviering bly dieselfde, en by die Lofverheffing en Gebed is die verskille juis opsigtelik.
2. Die grootste gedeelte van die ou formulier bestaan uit ongeveer 2200 woorde, waarvan omtrent 1200 woorde in die verkorte formulier uitgelaat is. Net 'n skamele 1000 woorde van daardie gedeelte bly oor.
3. Op een plek is 'n hele gedeelte van 314 woorde uitgelaat.
4. Van die Lofverheffing af tot by die slot-"Amen" is bykans 22 reëls uitgelaat, byvoorbeeld die verhewe aanhaling uit Romeine 5 : 8 - 10.
Dit behoort reeds 'n idee te gee dat iets verlore geraak het. Is daar maar nie net verkort, ter wille van verkorting nie? Lees mens die tydsgees van vervlakking hierin?
Kom ons kyk na die inhoud
Ek noem maar enkele voorbeelde van belangrike Bybelse gedagtes wat verlore gegaan het.
1. By die eerste deel oor "selfondersoek" is die woorde uitgelaat dat ons sondes so groot is, dat God, eerder as om dit ongestraf te laat bly, dit in Christus met sy bittere en smadelike dood gestraf het. By die tweede deel: dat ons moet weet dat die geregtigheid ons toegereken word, asof ons self vir al ons sondes betaal het. By die derde deel is uitgelaat dat ons die voorneme by onsself moet soek dat ons eerlik alle vyandskap, haat en nyd moet laat vaar.
2. Wie mag nie Nagmaal gebruik nie?
(Ook 'n paar voorbeelde van weglatings): "almal wat weet dat hulle met die volgende aanstootlike sondes besmet is"; "ons verkondig aan hulle ...";
"almal wat afgestorwe heiliges, engele of ander geskape dinge aanroep, en die wat beelde vereer"; by "waarsêers" moet bykom: "wat diere of mense of ander dinge besweer"; "alle veragters van God en sy Woord en die heilige sakramente"; "wat hulle ouers en owerhede ongehoorsaam is"; "en die wat in haat en nyd teen hulle naaste lewe". Ook: "Hulle almal moet, solank hulle in sulke sondes volhard ..." en: "sodat hulle oordeel en verdoemenis nie nog swaarder word nie." En ook: "die bedoeling is nie om die verslae harte van die gelowiges kleinmoedig te maak nie."
Kan ons hierdie dinge weglaat, wat soveel van die mens se boesemsondes is?
U sal opmerk dat ek meer klem gelê het op hele sinne. Daar is egter plekke waar slegs 'n enkele woord se weglating of verandering daartoe lei dat belangrike betekenisse verlore gaan.
3. In die volgende deel verdwyn ook groot sake in die vergetelheid.
" ... van die begin van sy menswording af tot aan die einde van sy lewe"
" ... veral toe die las van ons sonde en van die toorn van God Hom bloedsweet in Getsemane ontpers het"
" ... dat Hy Hom laat bind het om ons te ontbind en daarna ontelbare smaadhede gely het"
" ... dat Hy Hom aan die kruishout, na liggaam en siel tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder het"
Dan word die hele aanhaling uit 1 Korinthiërs 11 : 23 - 25 uitgelaat.
4. Hier verdwyn die gedagtes soos: dat Christus ons geloof en vertroue op sy volmaakte offer rig; dit is eenmaal aan die kruis volbring; dit is die enigste grondslag van ons saligheid; Hy word die ware voedsel en drank vir ons hongerige harte en neem die oorsaak van ons honger en kommer weg, naamlik die sonde.
Gebed
Tweederdes is weggelaat - belangrike dinge waaroor gebid word vòòr Nagmaal - en die "Onse Vader" ook.. Hartverheffing vòòr Nagmaal:- Weg is die vermaning om nie aan die uiterlike tekens van brood en wyn te bly hou nie, en dat ons nie moet twyfel nie.
Lofverheffing: Psalm 103 : 9 en 10 en Romeine 5 : 8 - 10 is uitgelaat.
Dankgebed: Die verkorte formulier het hier ook onnodig verkort en belangrike frases uitgelaat.