Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 4 Julie 2004
DIE "KERLIKE KLEED"
- DR PJ COETZEE - POTCHEFSTROOM -
In: Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859 - 1959: Gedenkboek by die Eeufees, bl 280, 281
Die opvatting dat daar in die Gereformeerde Kerk ook so iets as 'n gesanksioneerde, offisiële kerklike gewaad kan bestaan, soos by die Roomse Kerk byvoorbeeld die geval is, het klaarblyklik van tyd tot tyd in die kerklike praktyk sterk na vore getree. Die Sinode van 1879 het dit nodig geag om die volgende besluit te neem: "De synode kent onder het Nieuwe Testament geen ambtsgewaad voor de bedienaren des Goddelijken Woords; en kan alzoo ook niets voorschrijven, dan dat de leeraren zich in alles dienen te gedragen zooals er staat in 1 Timotheus 4 : 12 en Titus 2 : 7 en 8."
Op die Sinode van 1942 het hierdie aangeleentheid weer ter tafel gekom. In daardie tyd is juis in Die Kerkblad ook 'n geanimeerde polemiek gevoer oor die aanvaarbaarheid al dan nie van die kerklike kleed. In die rapport wat voor die Sinode gedien het, word uitdruklik verklaar dat die seremoniële ampsgewaad in die kerk van Christus geen reg van bestaan het nie, veral omdat Christus met sy lyde en dood die skadudiens opgehef het. Die simboliese onderskeiding tussen die clerus (die geestelike stand) en leke deur middel van 'n afsonderlike kleed, soos deur Rome vasgestel en gehandhaaf, mag op grond van Gods Woord nie gedoog word nie. Origens is die sogenaamde kerklike kleed 'n middelmatige saak wat nie nodeloos gedryf moet word nie en die een die ander nie moet verwerp nie; maar wat tot stigting kan dien, moet gesoek word. Die "kerklike kleed" kan nie beskou word as onontbeerlik by die vervulling van ampspligte nie. Dit word as iets verkeerds aangemerk dat so baie byvoorbeeld die manelpak, omdat dit 'n historiese gewordenheid in die kerk is, sonder meer as 'n soort onaantasbare usansie wil beskou. Aan die ander kant word die noodsaaklikheid beklemtoon dat daar nie by gebrek aan deftigheid en waardigheid opening gelaat moet word vir wanorde en onstigtelikheid wat in die Kerk baie nadelige gevolge kan hê.
Die Sinode van 1942 het die prinsipiële stellingname in hierdie rapport aanvaar maar het tog onder meer besluit dat manelpakke by die eredienste en swart pakke op kerklike vergaderings gedra behoort te word. Die Sinode van 1952 het egter op die saak teruggekom en die hele rapport wat in 1942 ter tafel was en by wyse van 'n beskrywingspunt weer aan die orde gestel is, aanvaar.
Die suiwere beginsel is dus weer vasgegryp dat daar op Skrifgronde geen "kerklike kleed" gesanksioneer mag word nie, maar dat daar tegelykertyd orde, dissipline, deftigheid en waardigheid gehandhaaf moet word. Elke kerkraad moet hieraan die nodige aandag gee.