|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
EENHEID OF VERSKEIDENHEID
> Prof Bouke Spoelstra <
IN: EVANGELIE LANDSWYD
Radiopreke deur predikante van die Gereformeerde Kerk
SAAMGESTEL DEUR DS MJ BOOYENS, 1973. POTCHEFSTROOM: PRO REGE - HOOFSTUK 22, BL 169 - 175
Genesis 11 : 4 - "En hulle sę: Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik, en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie." Eenheid of verskeidenheid. watter probleme hou dit nie vir die kerk, die volk, die huisgesin in nie? U ken al die sosiologiese, politieke, ekonomiese en godsdienstige teorieë om hierdie probleem te bekamp. Die mens sę: eenheid bind saam en maak sterk, terwyl verskille verstrooi en verwar. Dit is die groot probleme vir die moderne węreld ná die jongste Węreld-oorlog.
Hitler het die idee van eenheid binne die Ariese ras en Duitse volk opgeskroef en almal wat daar buite geval het (soos die Jode) was minderwaardig en moes uit die weg geruim word. Die węreld het daarteen in reaksie gekom. Hulle het geglo hierdie idee van ras en afsonderlike nasionaliteit het die Węreldoorlog ontketen. Uit vrees vir 'n herhaling daarvan, wil die Węreld vandag niks weet van afsonderlike volke of rasse nie. Die węreld glo liewer almal is mense, enerse individue. Die een oordryf soos Hitler na regs en die ander soos die liberalis na links en so worstel die mensdom met die probleme van eenheid en verskeidenheid. Die węreld is sy balans kwyt en strompel na regs en na links soos 'n dronk man.
Maar nou is dit vir ons as gelowiges nie 'n moderne nie, maar 'n stokou probleem waarmee die mensdom, wat sy balans deur die sondeval kwytgeraak het, worstel. Genesis 11 beskryf dieselfde worsteling van ongebanseerde sondaarmense in taal wat elke kind kan verstaan. Selfs die Here word op mensvormige wyse voorgestel. In hierdie eenvoudige beskrywing openbaar God hoe die planne van die ongebalanseerde sondaarmense ingaan teen die planne van God wanneer hulle die probleem van eenheid en verskeidenheid probeer oorbrug.
Wat was die plan van die mense?
Dit is die nageslag van Noag, die kinders van Sem, Gam en Jafet, wat hier ná die sondvloed in Sinear, dit wil sę, Babilonië, saampak. In die lae vlaktes langs die Eufraat en Tigris was dik slik ná die Sondvloed saamgespoel. In die vrugbare grond kon hulle boer en die teeragtige leemklei was uiters geskik om mee te bou. Daar het hulle heerlik saam gewoon, saam geboer en saam gebou.
Maar die nageslag van Noag het meer geword en die moontlikheid dat hulle uitmekaar sou moes gaan het hulle bekommer. Hulle het egter nog eners gedink, dieselfde taal en een en dieselfde woorde gehad, een groot familie.
Die Here het aan Adam sy roeping gegee. Hy moes die aarde bewerk en dit het hulle in Sinear gedoen. Hulle moes vermeerder, en dit het hulle gedoen. Dit was aangenaam en goed. Hulle het geheers oor die voëls, die diere en die visse. Maar die Here het vir Adam ook gesę: Vul die aarde! En hiervoor het die kinders van Noag nie lus gehad nie. Daarom het hulle 'n teenplan gemaak. "En hulle sę: Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik, en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie". Hulle wil een wees en een bly.
Die Here het gesę: Vul die aarde!
Húlle sę: Ons moet nie oor die aarde verstrooid raak nie.
Om hulle plan te verwesenlik doen hulle twee dinge; Hulle bou 'n geweldige toring en hulle wil 'n naam maak. Die bouwerk en naam moet hulle konsolideer en eenheid bewaar. Dit moes 'n familie-eenheid van naam wees. Almal wat die toring sien, moes die prestasie van die familie-eenheid bewonder. Niemand sou wou wegtrek van so 'n stad en mensheid van naam nie.
Ja, en die Here? Hy sou moes, sę hulle, is nou tot alles in staat en moes maar sy plan laat vaar en inval by die mensheid van prestige en naam, so het hulle gedink.
So probeer hulle dan by Babel hulle krag monster, hulle eenheid ten toon stel voor die mense en voor God. Die mense en God moes ontsag hę vir hierdie indrukwekkende stad en hoë toring. Hulle maak hulle stem dik. Nie die Naam van die Here nie, maar die naam van Babel moet geëer, gevrees en eerbiedig word!
Vlakby Babilon, die stad van Nebukadnesar, word twee reuse toringruďnes, die Birs-Nimroed en E-toemen-anki, aangetref. Doe Birs-Nimroed herinner aan die geweldige Nimrod uit die geslag van Gam (Gen 10). Al wat van hierdie ruďnes, gebou met die teeragtige klei, bekend is, is dat hulle fondamente in die oertyd gelę is. Hulle is tot ongeveer sewe verdiepings gebou en toe onvoltooid gelaat. Verskillende konings het later aan hulle voortgebou en Nebakadnesar het een van 'n spits voorsien.
Ons weet dat Babilon in die Skrif, van Genesis tot Openbaringe, die beeld geword het van die węreldmag, die eenheid van krag en naam. So het Nebukadnesar dan ook gesę: "Is dit nie die grote Babel, wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf deur die sterkte van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?" Babel is die simbool van die krag, heerlikheid en grootheid van die verenigde mense teenoor die majesteit en grootheid van God!
Daarom het God die skouspel gadegeslaan.
En wat het God gedoen?
Waar hulle uit die aarde 'n toring na die hemel wou bou, het God uit die hemel na die aarde gekom. Waar hulle so trots was op hulle menslike eenheid en enersheid in een stad, het God hulle bewussyn in 'n oomblik verwar en soos Psalm 146 sę, was dit op daardie dag met hulle planne gedaan. Hulle kon mekaar nie meer verstaan nie, nie meer eners dink en praat nie. hulle ideale het inmekaar getuimel.
So eenvoudig sę die Skrif: hulle het opgehou om die stad te bou en die HERE het hulle daarvandaan oor die hele aarde verstrooi. Ons weet Sem, die vader van die Semiete, het Asië binnegetrek, Jafet het na Europa gegaan en Gam na Wes-Arabië en Noord-Afrika. Dit was die gevolg van grootheidswaan wat hoog wou strewe. God se plan is volvoer. Hulle het die aarde bevolk, as verskillende volke, tale en nasies. Die eenheid van Babel het 'n deurmekaar gebabbel van nasies geword.
Die volke het herinnering aan die toringbou van Babel met hulle saam in die verstrooiing geneem, al het dit verduister geraak. So is daar 'n Indiese sage van 'n groot boom waarmee die mense na die hemel wou klim, maar die Godheid het gekom en het dit afgekap en sy takke oor die aarde verstrooi. (Dink ook aan die boom in die droom van Nebukadnesar, waar hyself die boom was waaronder al die nasies verenig is.) Die Grieke het 'n mite dat twee reuse die berge opmekaar wou stapel om die hemel te bestorm, maar die oppergod het dit neergeslaan.
U moet egter nie dink dat die idee van Babel net in die Bybel of in mites of sages leef nie.
Die ongebalanseerde mensdom het vir 'n tyd berus by die onvermydelike verstrooiing van afsonderlike rasse, nasies, volke en tale. Maar dieselfde Satan wat die kinders van Noag geďnspireer het om hulle aardse eenheid en krag te monster, werk vandag nog. Die idee het geleef in die groot węreldryke, by Nebukadnesar, Julius Ceasar, Konstantyn die Grote, Karel die Grote, Napoleon, Hitler, Chroet-sjof en al die ander. Dit was die siel van die Nu-Babiloniese, Romeinse, Franse, Hollandse en Britse Empirers waar nasionale en geografiese grense weggekap is om die eenheid van die węreldryk te bou.
Waar nasionale grense vandag weggekap word, staan die Volkebondgebou in Geneve as 'n Brits-Nimroed, 'n ruďne wat deur spraakverwarring en 'n deurmekaar gebabbel van nasies uitmekaar geval het toe daar 'n superwęreldeenheid gesoek is. Aan die ander toring, die E-toemen-anki die VVO, bou die nasies weer. Hulle wil God se daad by Babel uitwis en die ideaal van Babel verwesenlik. Hulle wil 'n stad met 'n hoë toring hę waar almal een taal praat en met 'n dik stem verklaringe oor die hele węreld uitreik. Hulle praat met mekaar oor alle taal-, nasionale, denkbeeld-, begrips- en godsdiensverskille heen. Ja, hulle het taal- en nasionale verskille byna uitgewis.
Maar sal hierdie Verenigde VVO klaargebou kom? Sal dit die eenheid van menslike krag en prestasie bring? Sal die VVO die horlosie terug draai tot die tyd van die kinders van Noag, toe hulle 'n toring wou bou en 'n naam wou maak? Sal hulle die verskille en die verwarring uitwis?
Ons weet nie. Ons weet hulle dryf nie meer nasionale verskille op die spits nie, maar hulle verskil nou oor denkbeelde. Amerika wil die węreldkapitaal verenig tot 'n ekonomiese węreldstad van naam - Rusland wil die węreldarbeiders bou tot sy toring van sterkte, 'n kommunistiese eenheid van naam. Dit babbel deurmekaar oor ideologieë.
Nogtans is die węreld aangegryp deur eenheid bo-oor alle verskille heen. Selfs die ou meneertjies en dametjies op straat droom van 'n Meneer en Mejuffrou Heelal - 'n Babel-mens teenoor die God van die heelal.
Die Babelgedagte sit in die sondaarbloed en daarom ook in ons. Is die gevaar nie dat 'n Gereformeerde Ekumeniese Sinode (tans Raad - PvdK) gedra word deur die ideaal om 'n gereformeerde stad en 'n gereformeerde toring te bou en 'n gereformeerde naam oor die hele węreld te maak nie? Ander het die Węreldraad van Kerke gestig. Hulle praat reeds met 'n dik stem en dan wil hulle hę dat regerings moet luister en koninkryke moet wankel, want hulle praat uit 'n verenigde kerklike węreldstad wat hulle oor alle belydenis- en geloofsverskille heen gebou het. Oor die eenvoudige waarheid van God se Woord en die suiwere belydenis maak hulle hul nie moeg nie. Al die dogmatiese en belydenisverskille, so sę hulle, verdeel net en verstrooi. Dit moet weggekap word. Oor God se Woord en God se Reg, maak hulle hul nie moeg nie. Maar oor die MENS se regte, die mens se woord en die menslike verhoudinge en menslike eenheid, daaroor praat hulle as manne van naam! Ons weet dit babbel deurmekaar in die VVO en Węreldraad van Kerke.
Sal die moderne politieke en kerklike Babel klaarkom? Die Bybel leer in Openbaringe dat dit byna klaar sal kom. Sy getal sal drie sesse wees, gelukkig nie drie sewes van God nie! Sy eenheid, krag en majesteit sal groot wees en dit sal gelei word deur 'n man van naam, die antichris! Ook die Kerk sal, soos Openbaring 18 dit teken, betower word deur dié grootheid. Sy sal gemeenskap hou met die węreldgrotes en ryk handelaars. Die kerklike Babel is soos 'n ontugtige vrou wat weier om die weduwee van haar Hemelse Bruidegom Christus te wees. Sy harloop die węreldgrotes agterna.
God waarsku u en my! "Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hę en van haar plae mag ontvang nie" (Openb 18 : 4). God waarsku u en my teen die planne van die mense, hetsy kerklik, hetsy ekonomies, sosiologies of politiek, wat hoog wil strewe en die hemel bestorm.
Die barmhartige en genadige God en Vader van ons Here Jesus Christus, waarsku u en my ter wille van ons lewe hier en ewig, teen alle menslike grootdoenery en ver-uitwendigde en uiterlike grootheidsug. Hy waarsku u en my teen alle stede en torings van sterkte wat die mense bou met hulle indrukwekkende getalle, waarmee hulle met 'n dik stem wil praat tussen die mense en teenoor God.
Hy wys ons dat daar maar een stad is, wat nie die mens nie, maar God bou op die hoeksteen Jesus Christus, die nuwe Jerusalem. Daar is maar net een toring wat hemel en aarde verbind. Dit word nie vanuit die aarde opgebou nie, maar dit is Jesus Christus wat uit die hemel neergedaal het na die aarde.
Daar is net een Naam waardeur die mense gered kan word en dit is nie die naam van enige President of Eerste Minister nie. "En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie . . ." as alleen die "die Naam van Jesus Christus, die Nasirener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het . . ." (Hand 4 : 10 - 12). Lees weer u Bybel en merk hoe dikwels dit u wys op die Naam van God en Jesus Christus!
Wat beteken die Stad en die Naam vir u in hierdie węreld wat die naam van Babel met banieropskrifte uitspel?
Die geloof in hierdie Naam bring die ware eenheid. "Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie, want julle is almal een in Christus. Hier vind ons, in die onsigbare heilige algemene Christelike kerk, die ware eenheid in die gebou van God wat geen nasionale of seksverskille ken nie.
Maar net so min as wat man en vrou hier en nou op die aarde uiterlik en uitwendig eners word omdat hulle Christene is, net so min hef die eenheid in Christus die volkeverskeidenheid op. Die eenheid in Christus is primęr.
Dit is nie iets wat deur mensebouwerk of organisasie verwesenlik hoef te word nie. Die stad van God word węreldwyd gebou, maar is in Jesus één! Dit is 'n dieperliggende geestelike eenheid, wat deur die baie nasies, volke en tale in verstrooiing nie opgehef word nie.
Is u deur die geloof 'n lid van hierdie stad van God? Het u die bouwerk en Naam van God as u toring van sterkte?
Dan sal God u nie saam met Babilon verwoes nie.