|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
BOODSKAP VAN STAATSPRESIDENT SJP KRUGER AAN "JULLE, LIEWE KINDERS"
Uit die toespraak gehou by geleentheid van die plegtige inswering van SJP Kruger as Staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek op Donderdag, 12 Mei 1898
> Die Gedenkskrifte van Paul Kruger, Pretoria 1947, bl 206 <
. . . Nou 'n paar woorde aan julle, liewe kinders!Julle is diegene op wie julle staatspresident sy oë hou omdat ek ons toekomstige Kerk en staat in julle hande sien, want wanneer alle bejaarde mense weggeval het, dan sal julle die Kerk en staat wees; maar as julle die waarheid verlaat en afdwaal, dan verlei julle die nageslag. Hou vas aan Gods Woord waarmee julle ouers julle opgevoed het. Laat daardie Woord vir julle dierbaar wees. Ek sal met al my kragte probeer om Kerk en skool te ondersteun, om julle deur Christelike onderwys te laat opvoed, sodat julle kerklik sowel as maatskaplik nuttige lede sal word van Kerk en staat, en ek vertrou dat die leraars en leiers ook hulle bes daarvoor sal doen.
Dit is 'n groot voorreg dat julle regering bepaal het dat onderwys Christelik moet wees, en julle is baie bevoorreg omdat julle Christelike onderwys kan geniet, en dis nie net vir julle alleen nie, maar ons doel is om dit so uit te brei dat elkeen in die geleentheid gestel sal word om dit deelagtig te word en nut daaruit te trek. Dit is 'n groot voorreg vir julle dat julle regering en wetgewende mag die wet op Christelike onderwys so vasgestel het.
Ook is dit vir julle 'n groot voorreg dat regering en volksraad julle taal as taal van die staat aangeneem het. Hou daaraan vas, aan die taal waarin julle voorouers wat God uitgelei het, geworstel en God aanbid het, en wat hulle met verloop van tyd nog liewer gekry het - die taal waarin julle Bybel geskryf is en waarin julle voorouers hierdie Bybel wat die godsdiens van ons voorouers bevat, gelees het.
As julle onverskillig word teenoor julle taal, dan word julle dit ook teenoor julle voorouers en teenoor julle Bybel, asook teenoor julle godsdiens; dan dwaal julle spoedig heeltemal af en julle beroof die nageslag van julle Hollandse Bybel en julle geloof wat God op wonderbaarlike wyse aan ons voorouers geskenk het, Wees dan standvastig sodat daar nie tevergeefs op julle vertrou word nie, en hou vas aan julle taal, Bybel en godsdiens.
Dit is wel goed om vreemde tale te leer, veral die taal van julle buurman met wie julle die meeste in aanraking kom, maar laat 'n vreemde taal vir julle 'n ondergeskikte taal wees. Vra die Here om julle daar standvastig te laat wees en nie te laat afdwaal nie, sodat die Here in julle midde kan bly, en dan sal die nageslag julle dank vir julle getrouheid. . . .
Die doop het vir ons 'n heerlike betekenis, selfs vandag nog as 'n volwassene. Elke keer moet ons weer teruggaan om met hart en siel daaraan vas te gryp as 'n ankerpaal daar aan die begin van ons lewe.
Volgens die doopformulier is verbondskinders erfge-name van die ryk van God. Hulle is in Christus geheilig. As dit ons sou wees wat so van onsself en van ons kinders sou praat, sou dit aanmatiging wees. Maar die mond van die Here het dit gespreek. Dis 'n uitgemaakte saak daar aan die begin van ons lewe. Dis nie 'n ideaal nie, iets wat onseker is of ons dit ooit sal bereik nie. Nee, dit is 'n vaste fondament waarop ons lewe gebou is. Dit rus op God se trouverbond.
As dit dan die heerlike betekenis van die doop is, daar aan ons lewensbegin, hoe noodsaaklik is dit dan nie dat ons moet vashou wat ons het nie. Dit is noodsaaklik dat ons die heerlike gedagte van ons doop moet handhaaf. Dit wat die kosbaarste in 'n mens se lewe is, word baie keer die meeste bedreig. So is ook die doop in die loop van die kerkgeskiedenis baiekeer bedreig. Vandag is daar nog 'n stryd oor die doop. Ons dink aan die opvattings van die Roomse Kerk en van die Wederdopers. Vandag word die kinderdoop ook verwerp deur 'n sogenaamde Gerefor-meerde teoloog soos Karl Barth. Die stryd en die skeuring in die Gereformeerde Kerke in Nederland (1944) het ook gegaan oor die opvatting van die doop.
Die gevare waardeur die doop bedreig word, is (a) oor-skatting en (b) geringskatting van die betekenis van die doop en (c) twyfel oor die kinderdoop.