|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
BEDIENING VAN DIE HEILIGE DOOP IN GEREFORMEERDE KERKE
Heidelbergse Kategismus, Sondae 26 - 27(a) Volgens die Roomse Kerk, en in 'n sekere mate die Lutherse Kerk ook, is daar in die doopwater 'n verborge krag wat inwerk op die siel van die persoon wat gedoop word. Hierdie doopwater bring die wedergeboorte tot stand. Daarom is die doop ook noodsaaklik vir die saligheid. As daar lewensgevaar is, byvoorbeeld 'n ernstige siekte en so 'n persoon is nog nie gedoop nie, dan moet daar 'n nooddoop plaasvind. As daar nie 'n priester byderhand is nie, kan ook 'n leek of 'n gewone lidmaat die doop bedien. Is dit dan nie 'n Roomse gedagte by sommige lidmate in Protestantse kerke wat daarop aandring dat kindertjies wat siek is by die huis of selfs in die hospitaal gedoop moet word uit vrees dat sulke kindertjies ongedoop sal sterwe?
Ook die Wederdopers heg te veel waarde aan die doopwater. Dit is vir hulle meer as net 'n teken. Volgens hulle moet 'n mens heeltemal in die water ondergedompel word om as 'n nuwe mens daaruit te kom asof dit die water is wat die sondes afwas. Die water is egter net 'n teken en daarom is 'n klein bietjie water genoeg. Die Wederdopers beroep hulle op die gevalle waar die doop bedien is waar daar baie water was, byvoorbeeld waar Johannes die Doper gedoop het en waar ons lees dat Filippus en die kamerling van Ethiopië afgeklim het in die water. Op sigself geneem kan 'n mens nog nie daaruit aflei dat die doop by wyse van onderdompeling bedien is nie. Dit staan nie daar dat die dopeling onder die water was nie.
(b) Vir baie mense is die doop 'n blote formaliteit, net 'n mooi seremonie wanneer daar 'n naam aan 'n kindjie gegee word. Daar is dan ook mense wat nooit of baie min in die kerk kom, maar as daar 'n kindjie is wat gedoop moet word, dan kom hulle, miskien ook net vir daardie keer. Fatsoenlikheidshalwe moet so 'n kindjie darem gedoop word. In baie gevalle is dit dan ook meer te doen met die uitwendige dinge soos die klere. Partykeer word van die doop so 'n soort partytjie gemaak daar in die huis, so 'n sosiale funksie. Partykeer word die doop ook onnodig uitgestel, ook omdat die betekenis van die doop nie reg verstaan word nie. Dis 'n beseëling dat vir die verbondskind daar 'n ryke erfenis weggelê is. As dit 'n stoflike erfenis sou wees , hoe gou sou sulke ouers nie wees om hulle kind na die gewer daarvan te bring nie?
(c) Die reg van die kinderdoop word deur baie in twyfel getrek. Hulle beweer dat net volwassenes wat tot bewuste geloof en bekering gekom het mag gedoop word. Hulle verwys na wat hulle noem die doopsbevel: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matt 28:19). Hieruit lei hulle af dat die persone wat gedoop moet word volwassenes moet wees, mense wat eers hulle geloof kan bely. Ons sê: Dis nie in die eerste plek 'n doopsbevel nie maar 'n sendingsbevel. Die ou Christelike kerk was dan ook 'n sendingskerk wat die evangelie uitgedra het buitekant die grense van Israel se volksbestaan. Toe is daar ook volwassenes gedoop, maar dit was mense wat as volwassenes die evangelie van Jesus Christus aangeneem het en gedoop is. maar hulle kinders is as verbondskinders gedoop. . . .
Die fout by die bestryders van die kinderdoop is dat hulle meen dat dit in die doop die mens is wat na God toe kom. Hy moet eers glo en hom bekeer en wys dat hy 'n kind van die Here is. In werklikheid is dit God wat in die doop na die mens toekom en vir hom verseker: Ek is jou God, jy is my kind. 'n Mens verdien nie sy doop nie. Dis 'n heerlike gawe van God daar aan die begin van die geloofsweg. Daarop is ons toekoms gebou. . . .
Die groot rede waarom die kinderdoop bestry word, is omdat die gedagte van die verbond losgelaat word. Mense word beskou as losse individue langs mekaar. God sien die gelowiges anders. Hy sien sy Kerk op aarde nie soos 'n hoop klippe wat los langs mekaar lê nie. Hy sien sy Kerk as 'n liggaam wat verbind is aan Hom as die Hoof en as lede aan mekaar. Van hierdie lede is sommige volgroeid en ander nie. Kinders van gelowige ouers maak ook deel uit van hierdie liggaam van Christus. Daarom praat ons ook nie van aanneming nie, asof 'n mens dán eers lidmaat word nie. Nee, reeds in die doop het God tot die kind gekom om dit vir hom te sê: Jy is my kind. Deur Christus het Ek jou reeds aangeneem. Dis nie die kerkraad wat aanneem nie. God het dit reeds klaar gedoen en met die doop beseël en bekragtig Hy dit. ...
Ds JL Vorster. In: Kategismuspreke 1957. Potchefstroom, bl 237 - 241