|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
MOTIVERING BETREFFENDE DIE OPENLIKE VERKLARING
GEREFORMEERDE PROTESTANTSE KERK BRAKPAN
Inleiding: Gereformeerd Kerkverband
‘n Gereformeerde Kerk glo met die hart en bely met die mond dat die Bybel die geopenbaarde en geïnspireerde Woord van God is. Die Skrif is nie die produk van mense se nadenke oor of ervaringe van God nie. Dit wat die Bybelskrywers neergeskryf het is deur die Heilige Gees aan hulle geopenbaar. Hy het so in en deur hulle gewerk dat hulle Sy Woord korrek en betroubaar op skrif gestel het. Daarom bely ons dat die Skrif in sy geheel en al sy dele deur God geïnspireer is. Hierdie geopenbaarde en geïnspireerde Woord dra God se gesag. Wat die Woord sê, sê God. Daarom is die Woord, volledig en alleen, ook die volmaakte en finale maatstaf vir die leer en die lewe van die kerk.
Die leer (dit wat die kerk glo, bely en verkondig)
Die lewe (die denke, gesindhede, motiewe, woorde en dade van die kerk)
Vir ‘n Gereformeerde kerk of kerkverband is die gesag van die Woord nie net lippetaal nie. Gereformeerdes toets hulself (hul leer en lewe) voordurend aan die Skrif en streef daarna om, hoe langer, hoe meer aan die Woord gehoorsaam te word.
Tweedens is ‘n Gereformeerde kerk ‘n kerk met ‘n gereformeerde belydenisgrondslag. Daar is diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle gereformeerd is terwyl hulle nie die gereformeerde belydenisse onderskryf nie. Om gereformeerd te wees - so word gesê - beteken om voortdurend te reformeer. Natuurlik is dit waar dat gereformeerdes voortdurend moet reformeer – met ander woorde hul leer en lewe aan die Skrif moet toets en daarna moet streef om, hoe langer, hoe meer aan die Here gehoorsaam te word. Dit is egter nie wat hulle met reformasie bedoel nie. Vir hulle is reformasie "verandering’ of ‘vernuwing’. Dat verandering nie noodwendig reformasie beteken nie maar ook deformasie, misvorming, agteruitgang en verwording kan beteken, word dikwels nie mee rekening gehou nie.
Die NG Kerkverband: Gereformeerd?
Teoreties handhaaf die Nederduitse Gereformeerde kerkverband die gereformeerde belydenis soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid. In Artikel 1 van Die Kerkorde staan geskrywe: "Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordtrecht in 1618 - 1619, naamlik die sewe-en-dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Vyf Dordtse Leerreëls."
Die plegtige legitimasieverklaring wat onderteken moet word deur elkeen wat tot die bediening toegelaat wil word, lui: "Ek, die ondergetekende, ... verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Enigheid - naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, deur die Sinode van Dordrecht in die jare 1618 en 1619 aangeneem - ooreenkom met die Woord van God. En net soos ek hierdie leer te goede trou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwaling wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer." Elkeen wat die verklaring aflê bely, in die lig van die NGB artikels 1-7, dat die Skrif die onfeilbare en gesagvolle Woord van God is.
In beginsel onderskryf ouderlinge en diakens die gereformeerde belydenis wanneer hulle in die amp bevestig word. Dit geld ook van elke lidmaat wat by die openbare belydenis van geloof "ja" geantwoord het op onder andere die vraag: "Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus, deur Sy genade in die belydenis van dié leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp?"
Teorie en praktyk is egter ver van mekaar verwyder. Daar het ‘n grondverskuiwing met betrekking tot die Skrifbeskouing in die harte van baie lidmate en gelegitimeerdes (diegene wat amptelik tot die bediening van Woord toegelaat is) in die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband plaasgevind. Die verskuiwing het sigbaar geword in hul standpunte met betrekking tot die selfgetuienis, die totstandkoming, die betroubaarheid (onfeilbaarheid), die volkomenheid, die duidelikheid en die gesag van die Skrif. Hierdie grondverskuiwing het 'n ingrypende invloed gehad op hul verstaan van en onderwerping aan die gesag van die Skrif. Op papier word die gesag van die Skrif bely maar die praktyk bewys dat papier die geduld van Job oortref! Talle lidmate en gelegitimeerdes word onverhinderd toegelaat om die betroubaarheid en gesag van die Skrif te bevraagteken en onskriftuurlike standpunte te huldig en te verkondig. Teologiese dosente wat die gereformeerde Skrifbeskouing en belydenis loën, word vertrou met die opleiding en toerusting van die bedienaars van die Woord. Kerkvergaderings neem besluite wat in stryd met die Bybel is. Lidmate en gemeentes ignoreer duidelike uitsprake van die Bybel en van tug oor leer of lewe kom weinig (of niks) tereg.
Dit is daarom nie vreemd dat die belydenisgrondslag van die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband stelselmatig al hoe meer in gedrang gekom het nie. Die betwyfeling van die betroubaarheid en gesag van die Skrif lei noodwendig tot die bevraagtekening van die gesag van die Drie Formuliere van Eenheid. Die Heilige Skrif is die bron en die norm van die gereformeerde belydenisskrifte. Die belydenisskrifte het slegs gesag omdat dit die Skrif suiwer vertolk en omdat dit in alles met die Skrif ooreenstem. Wanneer die betroubaarheid en gesag van die Skrif in gedrang kom, lei dit noodwendig tot die bevraagtekening van die gesag van die belydenisskrifte. Uit ‘n onsuiwer fontein vloei daar tog nie suiwer water nie. ‘n Onbetroubare bron kan tog nie geboorte gee aan ‘n betroubare belydenis nie. Anders gestel, wanneer Artikel 1 - 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis nie meer van harte bely word nie, verloor die res van die belydenis en die ander belydenisskrifte hul gesag.
Dit is wat in die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband gebeur het. Vir baie lidmate en gelegitimeerdes is die bely-denisskrifte verouderd en uitgediend.
Die erns van die situasie word bevestig deur die:
Stelselmatige verdwyning van die Drie Formuliere van Eenheid uit die kerklike lewe.
Verkondiging van standpunte wat met die gereformeerde belydenisskrifte in stryd is.
Besluite wat deur kerkvergaderinge geneem is wat nie met die belydenisgrondslag van die kerkverband versoen kan word nie.
Subtiele vervanging van die Formuliere van Eenheid met "eietydse belydenisse".
Die stelselmatige verdwyning van die Drie Formuliere van Eenheid uit die kerklike lewe
In die praktyk het die belydenisskrifte vir baie (die meeste?) lidmate en gelegitimeerdes van gemeentes in die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband weinig waarde. In baie gemeentes funksioneer die belydenisskrifte glad nie. Prediking aan die hand van die belydenisskrifte - en leerstellige prediking in die algemeen - het byna uitgesterf. Waar die belydenisskrifte nog in die kategese hanteer word, is dit oor die algemeen baie oppervlakkig. Daar is selfs jongmense wat belydenis van geloof aflê wat nie eers in staat is om die name van die Drie Formuliere van Eenheid op te noem nie. Die belydenisskrifte het ook uit die Liederebundel verdwyn. In die huise van lidmate is die belydenisskrifte ‘n vergete boek. So min belangstelling is daar in die Drie Formuliere van Eenheid dat daar nie in die afgelope dekades ‘n goed versorgde publikasie van die belydenisskrifte verskyn het nie.
Die openlike verkondiging van standpunte wat in stryd met die gereformeerde belydenis is
Die afgelope dekade het al hoe meer lidmate en gelegitimeerdes openlik standpunte verkondig wat in stryd met die gereformeerde belydenis is. Wat betref die:
Skrifbeskouing: Die Bybel is nie die Woord van God nie maar mense se woorde oor God. As mensewoord is dit in wese onbetroubaar en tydgebonde en is groot gedeeltes verouderd en uitgedien.
Godsbeskouing: Omdat die Bybel nie God se woorde oor Homself is nie maar slegs die Bybelskrywers se woorde oor Hom, mag ons maar op ‘n ander manier oor God praat as hulle. Daarom word Hy "Moeder" genoem, word gesê dat Hy nie in beheer is nie en dat Hy nooit mense tot die ewige verderf sal verdoem nie.
Christologie: Die Godheid, maagdelike geboorte, plaasvervangende lyding, liggaamlike opstanding en wederkoms van ons Here word geloën.
Verlossingsleer: Die erfsonde is ‘n uitdinksel van mense en Jesus Christus kan tog nie die enigste Verlosser, die enigste Weg na God wees nie.
Kerkbegrip en kerkwees: Die Bybel gee nie duidelike beginsels en opdragte wat vir die kerk van alle tye geld nie, maar slegs ‘n breë raamwerk vir ons kerkwees. Daarom het ons die vryheid om die erediens in te rig volgens die voorkeure en smake van lidmate, kan ons self bepaal hoeveel en watter besondere ampte (dienste) in die gemeente mag funksioneer, wie daarin mag dien en dat die nagmaal aan klein kindertjies bedien mag word.
Etiek: Dit wat die Skrif oor die etiek, onder andere die huwelik en seksualiteit leer is tyd- en kultuur-gebonde. Daarom word daar nuwe inhoude aan die roeping van man en vrou in die huwelik gegee. Volgens sommige is selfs die monogame huwelik in gedrang. Wat seksualiteit betref – homoseksualiteit is nie sonde nie maar deel van die ryke verskeidenheid van God se skepping.
Daar word soms beweer dat die probleem beperk is tot die uitsprake van enkelinge en dat daar nie op grond daarvan gesê kan word dat die hele kerkverband besig is om die Gereformeerde Belydenis te verlaat nie. Die argument hou egter nie rekening daarmee dat:
die getal "enkelinge" by die dag toeneem nie.
‘n klein bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie.
die leertug wat nie funksioneer nie en die leuen wat toegelaat word om soos kanker voort te woeker, ‘n bewys is dat die liggaam dodelik siek is en die vermoë verloor het om "dwalingsinfeksie" te oorwin nie.
talle van hierdie dwalinge al in die standpunte en besluite van kerkvergaderings sigbaar geword het nie.
Die besluite van kerkvergaderings wat nie met die gereformeerde belydenisse versoen kan word nie
Sonder dat daar in besonderhede op bepaalde besluite ingegaan word of ‘n uitgebreide lys van besluite genoem word, behoort dit vir alle gereformeerdes duidelik te wees dat talle besluite van die Algemene Sinode soos dié oor die Skrifgesag (2002), die sogenaamde Kindernagmaal (1998) en homoseksualiteit (2002 en 2004) nie die toets van die Drie Formuliere van Eenheid kan deurstaan nie. As ons werklik oortuig is dat die Belydenisskrifte in alles met die Woord ooreenstem kan ons nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat besluite wat met die Belydenis in stryd is ook nie met die Skrif versoen kan word nie. Nie alleen is daar besluite wat duidelik met die Belydenisskrifte in stryd is nie, maar daar is ook talle besluite wat die grense van "gereformeerde verdraag-saamheid" tot by die speekwoordelike afgrond verskuif.
Die subtiele vervanging van die Formuliere van Eenheid met "eietydse" belydenisse
Dit is opmerklik dat wanneer die kerkverband se standpunt gestel word, dit bykans nooit vanuit die Drie Formuliere van Eenheid gemotiveer word nie. Indien daar wel ‘n begronding gegee word, word dit vanuit die sogenaamde eietydse belydenisse gedoen. Eers is "Kerk en Samelewing" in die praktyk van die kerklike lewe met meer gesag as die Belydenisskrifte beklee. Daarna was dit "So glo ons" (‘n eietydse geloofsverantwoording van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat in 1992 in opdrag van die Algemene Sinodale Kommissie gepubliseer is). Alhoewel dit in die voorwoord van die geloofsverantwoording duidelik gestel word dat dit nie ‘n belydenisskrif is nie en dat dit saam met die Drie Formuliere van Eenheid gelees behoort te word, het dit in die praktyk van die kerklike lewe nie so gefunksioneer nie. Daarná is Geloofsverklaring 2000 dikwels gehanteer as of dit die dokument is wat die geloof van die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband verwoord.
Daarom is dit nie vreemd dat die aandrang om ‘n "eietydse" geloofsverklaring al hoe sterker word nie. Die Drie For-muliere van Eenheid is uitgedien. Die kerk het "nuwe lig" ontvang en in die lig van nuwe omstandighede "nuut" geformuleer. Ons glo nie meer met die hart en bely nie meer met die mond dié geloof wat eenmaal (eens en vir altyd) aan die heiliges oorgelewer is nie.
As Geloofsverklaring 2000 ‘n aanduiding van die styl en inhoud van die "eietydse belydenis" is, gaan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband ‘n ramp tegemoet.
Die vervreemding van die belydenis het die weg geopen vir die onskriftuurlike invloede wat die kerkverband oorspoel het. Die invloed van die ekumeniese beweging, die pinksterbeweging, die humanistiese geestes- en bestuurswetenskappe, die Rooms Katolieke spiritualiteit (godsdiensbelewing)…. het die kerkverband so deursuur dat dit in die praktyk ‘n "hotelkerk" geword het. Die wagwoord is verdraagsaamheid. In die naam van "liefde" en "verdraagsaamheid" word daar vir alles en almal ruimte geskep - selfs vir ongehoorsaamheid aan die Woord en ontrouheid aan die belydenis.
Dit is wel waar dat daar nog sommige (baie?) lidmate en gemeentes is wat daarna streef om Bybelgetrou en Belydenisgebonde te leef en te werk. Tog is die lewe van die kerkverband soos dit sigbaar word in sy teologie, die besluite van kerklike vergaderings en die inrigting van die gemeentelike lewe, beslis nie gereformeerd nie!
In die lig van die proses van deformasie wat hierbo beskryf is en die feit dat die jarelange protes van die gemeente op dowe ore geval het, het ons geen ander keuse gehad as om uit die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband te tree nie.