|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
KERKLIKE JOERNAALWOELINGE IN DIE NG KERK KRY NUWE KLIMAKS
NG Kerk Coligny-Oos verwerp onherroeplik Belhar belydenis
Die kerkraad van die NG gemeente Coligny-Oos het in 'n "finale besluit" waaroor hulle "geen korrespon-densie" sal voer nie, die belydenis van Belhar verwerp en gevra dat alle bande van die NG Kerk met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) verbreek word.
Die kerkraad sê in 'n besluit wat aan Beeld en verskeie persone in die kerk, asook op ons versoek aan Die Kerkpad, gestuur is onder meer dat die belydenis van Belhar "getuig dat ons mense God wil herinterpreteer vanuit die mens se oorweging en beredenering".
Onder die hofie "kerkeenheid" vra die kerkraad dat die VGK "losgemaak moet word van enige verbintenis met die NG Kerk".
Die kerkraad van Coligny-Oos meen die VGK het met sy aanvaarding van die Belydenis van Belhar in stryd met die aanvaarde Gereformeerde belydenis opgetree. Daarmee het hy afgewyk van die aanvaarde norm, kerkeenheid verswak en homself "buite die NG Kerk geplaas".
NG gemeentes wat die belydenis van Belhar aanvaar, moet buite die NG Kerk geag word. Hulle kan, volgens die kerkraad, by die VGK gaan aansluit.
Die kerkraad maak ook "ten sterkste beswaar teen kerklui en professore wat hulle ten gunste van die Belhar belydenis uitspreek". Dat daar boonop foto's gepubliseer word waar hulle die belydenis onderteken, is volgens die kerkraad misleidend vir NG lidmate.
Die kerkraad sê verskeie lidmate dreig om die kerk te verlaat as Belhar aanvaar word - "skeuring blyk 'n groter werklikheid te wees as eenheid".
(Berig Neels Jackson. In: BEELD, Dinsdag 31 Mei 2005)