Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die ewige beginsels van God se Woord

AKTUEEL: Dit gaan om veel meer as 'n stad se naam 

SKRIFOORDENKING:
Mal. 3:16 Die name van die gelowiges....

Diskussie oor Ger. Skrifbeskouing

Aanhef tot Ierse Grondwet

Eenheid of verskeidenheid

Boodskap SJP Kruger aan kinders

Die betekenis van Heilige Doop

Motivering Openlike Verklaring GP Kerk Brakpan

KERKLIKE JOERNAAL: 
Woelinge in die NG Kerk kry nuwe klimaks

Behoudende predikante takel dwalinge by kweekskole

"The Da Vinci Code"

Openlike Verklaring - Die GPK Brakpan

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akkrediering en Registrasie - Ja of Nee?

Die "wortels" van Karate

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Liberalisme op Kerklike Terrein

Die gebruik van "Kinderbybels"

Stiltetyd

PERSRUBRIEK: Die ontstaan van verskillende soorte apartheid

Die Marxistiese insypeling in die Gereformeerde Belydenis

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Die Afdanking van Zuma

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van die Sadduseërs

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 9  No 4 Julie 2005

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

LIBERALISME OP KERKLIKE TERREIN

-  DR JD VORSTER. IN: "AFRIKANER-LIBERALISME"  1977: BOEKENHOUT UITGEWERS BPK,BL 30 VV  -

Die begrip Liberalisme is soos 'n verkleurmannetjie. Dit verander maklik van kleur en het vir verskillende mense verskillende betekenisse. Ook het dit oor die eeue met verskillende betekenisse van vryheidstrewe tot progressiewe denke geopereer en in verskillende kleure verskyn.

In die vroeë geskiedenis van Spanje het die begrip hom egter openbaar in die betekenis waarvan die woord vandag algemeen gebruik word. Die aanhangers van die Revolusie het hulself verheerlikende "liberale" genoem en minagtend van die teenstanders as die "slaafses" gepraat. Hier het die liberalisme 'n paar trekke ontwikkel wat by alle versklil in nuanse tog onveranderd en kenmerkend gebly het. Dit het as denkrigting steeds die nodige voorarbeid vir die Revolusie verrig, as stootskraper opgetree om alle hindernisse vir die Revolusie weg te stoot en die terrein voor te berei. Dit is in latere jare deur Kerensky, die liberale leier in Rusland, met jammer erken. In werklikheid is die liberalisme dan ook net die ligpienk broer van die rooi Revolusie. Dit beoog dieselfde doel en verskil net in metode. Die liberalis het nie die moed of die aard om soos die Revolusie geweld as die hoofmetode in sy aksie te gebruik nie. Die liberalis skrik terug vir Mao se sentrale stelling: "politieke mag groei uit die loop van 'n geweer" en verkies liewer om alle beginsels te ondermyn, alle ankers van die behoudendes uit te trek en alle bastions teen die Revolusie te breek. Die geskiedenis van die afgelope eeu bewys dat die liberalis tog maar net 'n revolusionêr is sonder 'n masjiengeweer.

'n Ander interessante trek wat die liberalisme behou het, is die onveranderlike neiging om homself as die vrye en verligte voor te stel en die behoudende as die bekrompe en stagnante uit te kryt. Dit het oor die eeue 'n buitengewone vaardigheid openbaar om hierdie holruggeryde propagandategniek altyd weer met nuwe benaminge te verbloem en te versier en te gebruik. So is ou verslete woorde in ons tyd met nuwes vervang; die liberaliste is vandag die "verligtes", die wat "groot dink", en die behoudendes is die "verkramptes". Die ou hoek is met 'n nuwe aas gekamoefleer en baie word gevang. Een van die wesenstrekke van die liberalisme is egter dat dit nie 'n eie stelsel is of 'n eie sisteem het wat eie oplossings vir probleme bied of 'n eie uitgewerkte stelsel het wat naas andere kan staan nie. Dit bied nie positief iets aan nie maar is volkome negatief. Dit breek af sonder om iets anders in die plek op te bou. Dit kan nie teenoor die verkeerde 'n eie lewensisteem daarstel nie, maar help net die linkse magte om deur afbreek te oorwin. En as laasgenoemde oorwin het, word eersgenoemde as uitgedien en van geen nut of betekenis meer beskou. Die liberalisme kan nie die ateïsme bestry nie, maar bewus of onbewus dit net help. Dit kan nie, soos Kerensky erken het, die kommunisme bestry nie, maar heel naïef, sonder om dit te besef, dit net op sy triomftog dien. Dit het 'n geweldige mag om af te breek, maar is nie in staat om iets op te bou nie. En as dit deur afbraak van die goeie en behoudene, die slegte en die Revolusie help vestig het, sterf dit net. As negatiewe mag kan dit net die anargie of die ateïsme of die despotisme of die Revolusie voorberei. En as sy voorbereidingstaak afgehandel is, sterf dit. ...

Die tipiese van die Liberalisme is ook dat dit graag in godsdienstige vorm optree. Dit soek nie slegs 'n religieuse anker vir sy denkbeelde en strewe nie, maar poseer graag as die aanneemlikste religieuse denke. Die Liberalisme sal nooit enige verbinding met die Ateïsme of Kommunisme of enige ander stelsel erken nie, maar hang graag 'n godsdienstige manteltjie om. Dit is dan ook die diaboliese van die moderne liberalisme dat dit graag as 'n engel van die lig optree. Dis so soetelik en vroom, so mensliewend onselfsugtig, maar in werklikheid is dit die ondergrawer van die kerk, die vernietiger van alle godsdiens en die vyand van die mens. Met 'n soet gefluit verlei dit die Christendom soos die sirene die seevaardes strelend gelok het om hulle op die rotse te verpletter. Dit begin met godsdiens maar eindig met mensverheerliking. Dit opereer met die Skrif maar uiteindelik is die Bybel net 'n gewone boek. Dit begin met God maar op die end is God dood.

Dit is die onvermydelike gang omdat die liberalisme, in sy verskyning op kerklike terrein, in grondslag en wese humanisties is. Dit is dan ook onbetwisbaar dat die Liberalisme eers op kerklike erf met die Verligting (Aufkläring) welig begin woeker het. Dit wou nie, soos die Ateïsme, met God en godsdiens breek nie, maar het in naam van ware godsdiens met 'n groot aftakelingsproses begin. Die menslike rede is bo alles, ook bo die Skrif, verhef, en in godsdienstige vernis is die selfstandigheid, selfgenoegsaamheid en die soewereiniteit van die mens gehandhaaf. Daar is wel nog met God, deug en onsterflikheid gedweep, maar kerk en godsdiens is in werklikheid gaandeweg ondermyn. In die Deïsme is God uit die lewe en wêreld verban. Ver buite en bo die mens is Hy geskei. Lewende gemeenskap in en deur Christus is verwerp. God is nie soos die moderne liberalis doen, dood verklaar nie, maar van die mens geskei om net as 'n opperwese van veraf te aanskou. Die Skrif is nie verwerp nie maar rasioneel moes die mens, met sy verligte verstand, self uitmaak wat die Woord van God is.

Die inspirasieleer is aangetas en die mens moes maar in die Bybel soek na goddelike waarhede. Met behulp van die hoër kritiek is die Bybel ontleed en is daar probeer om waarheid van leuen en goddelike van mensewerk te skei. Die Bybel is nie weggegooi nie maar versnipper. Die Skrif het nie oor die mens geoordeel nie maar die mens oor die Skrif. Die verligte verstand was die hoogste beginsel en die oordeelsnorm. En die ergste van alles: Christus is nog aanvaar. Daar is selfs boeke oor Hom geskryf. Maar hy was nie meer die Seun van God nie, maar blote mens. Hy is van sy goddelike eienskappe gestroop. Hy was net 'n mooi voorbeeld en toonbeeld van weekheid en bleke liefde maar nie 'n verlosser deur plaasvervangende lyding nie.

Wat vir die Christendom kardinaal en absoluut onontbeerlik was, is bevraagteken of afgewater. Selfs die kerk is van sy ware karakter as planting van Christus beroof en verlaag tot 'n blote vereniging, wel nog daar om te gebruik na die oordeel van die verligte verstand, maar nie meer die bastion wat nie deur die poorte van die doderyk oorweldig sal word nie. Immers, die duiwel was 'n fiksie en die mens het vanself al beter geword. Deug en onsterflikheid was twee van die regte van die mens, en ver buite hom was sy God.

In die agttiende en negentiende eeu het die Liberalisme hom so as Modernisme aangedien. Die Christendom het op 'n lydensweg gegaan, nie deur vervolging van buite nie, maar deur verrotting van binne. In konventikels is na warme geloofslewe gesoek en teen die rasionalisme is die ervaring beklemtoon. Dit kon die afval en afbraak egter nie stuit nie. Immers, ware gods-dien bloei nie op uit ervaring nie, maar deur geloof alleen deur Christus alleen na die Skrif alleen. En die kerk van Christus kan nie buite Christus bestaan nie. Tog het dit God behaag om baie van hierdie beweginge te gebruik om eindelik 'n reformatoriese aksie terug na die Woord van God, na die lewende Heiland, te begin. En al was dit nie 'n aksie van dieselfde krag en omvang as die Reformasie van die vyftiende eeu nie, is die Liberalisme tog in sy aftakelingsproses enigsins gestuit.

Ontsettend veel skade is egter gedoen. Die geloof is ondermyn en die heidendom het in eertydse christenlande weer die oorhand gekry. 'n Orkaan het deur die kerke getrek en die Christelike beskawing is aan flarde gelaat, maar die negatiewe en verwoestende mag is enigsins gekeer. Die ou Liberalisme is nie net in die tweede helfte van die negentiende eeu in Suid-Afrika op kerklike terrein gestuit nie, maar het in ander lande homself ook uitgewoed. Die onfeilbaarheid van die Skrif is weer deur sommige voorop gestel en die Evangelie is weer deur baie verkondig. In sommige lande soos Nederland en Skotland het weer kerke ontstaan wat opnuut draers van die Evangelie was en waarin die koninkryk van God weer naby die mense gekom het.

Sendingwerk het weer iets van die essensie van die opdrag van Christus openbaar, en op 'n veroweringstog teen die heidendom uitgegaan. Maar die Liberalisme wat egter self dood maak, sterf nie. Die kiem van die dood lewe. Miskien het die fantastiese prestasies van die mens in die twintigste eeu weer die swoel klam klimaat geskep waarin die Liberalisme kon gedy. Weer het die Liberalisme in en deur die kerk geopereer. Die mag van aftakeling het weer 'n toga aangetrek. Terwyl die kommunisme onbeskaamd en brutaal met magsgeweld die kerk en die Christendom agter die ystergordyn probeer uitstamp het, het die Liberalisme in die Weste met metodes van die sagte dood die Westerse beskawing afgekraak. Terwyl agter die ystergordyn weer die ou revolusiekreet "ni Dieu ni Maitre" - geen God en geen Meester nie - aangehef is, het die Liberalisme met sy dodelike gif onder sy godsdienstige mantel deur die kerke geloop.

Weer het die Liberaisme nie die godsdiens oorboord gegooi en die kerk as instituut oorbodig verklaar nie. Inteendeel, predikante het op die kansels geklim, mense het in kerke saamgekom, en kerklike rade en konferensies is gehou, nie om in die Skrif die steunpunt vir lewe en verlossing, hoop en vryheid te soek nie, maar om menseregte, menslike wil en vryheid en losmaking van die bande, selfs van die Woord van God, te bepleit. Die Liberalisme het in ons eeu die mag van organisasie ontdek en gebruik. Die kerk van Jesus Christus word al meer en meer gebruik om die outonomie van die mens te benadruk. Die hiernamaals ontvang minder klem as die hiermaals. Die godsdiens word verhorisontaliseer.

'n Evangelie word nog gebring maar dis 'n "Social Gospel". Die mens word nie meer vir die wêreld hierná voorberei nie, maar hierdie wêreld vir die mens. Die ewigheidslig word verdof en die kerk word al meer 'n wêreldse instelling, uit die aarde aards. Tog het die Liberalisme op kerklike erf nooit sy toga uitgetrek nie. Hierdie wesenstrek openbaar hom op baie maniere op die kerklike terrein.

Die Skrif word nie oorboord gegooi nie en sy Goddelike inspirasie word nie in drieste taal ontken nie, maar word op drieërlei wyse van sy ware betekenis beroof. Die Woord word deur parafrase of vertaling ontkrag en misbruik. Die vertikale dimensie verdwyn en die horisontalisme seëvier. Die Skrif word omvorm om die liberalistiese siening te verkondig. Verder word die Skrif so verklaar dat dit die geliefkoosde denkbeelde van die mens onderskryf. Versoening word rekonsiliasie. Verlossing word verlossing van armoede en onderdrukking. Teologie word "theology of Liberation". Bekering maak plek vir verandering. Sekere geliefkoosde tekste word gedraai en gebuig om die mens te bevredig. Deur besondere hermeneutiese opvattinge en beskouinge word die gesag van die Skrif vir die mens van vandag afgetakel deur die lering dat dit vir daardie tyd en daardie omstandighede gegeld het, maar nie vir vandag nie. Die Skrif word van sy universele betekenis beroof sonder openlik en reguit die inspirasieleer aan te tas. Voorbeelde hiervan kan vermenigvuldig word. Dit word gedoen in elke spoor van menslike aktiwiteit, kuns, letterkunde, teologie en ook op sedelike gebied veral in verband met seks, homoseksualiteit en voorhuwelike gemeenskap.

Word vervolg ...