|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDIE GEBRUIK VAN "KINDERBYBELS"
- DR JAE ADENDORFF. IN: DIE BOODSKAPPER, JUNIE 2005, BL 31,32 -
Ouers wil dikwels raad hê oor die gebruik van sogenaamde Kinderbybels: Kan ons dit gebruik? Watter Kinderbybel is die beste? Van watter ouderdom af kan 'n mens dit gebruik? Ensovoorts.
In hierdie artikel wil ons riglyne oor die keuring en gebruik van "Kinderbybels" probeer gee. 'n Mens kan nie sommer in 'n boekwinkel instap en die eerste die beste "Kinderbybel" van die rak haal nie. Nee! 'n Verbondsouer moet groot sorg aan die dag lê in die keuse van 'n "Kinderbybel". Wat is die dinge wat u in gedagte moet hou?
'n "Kinderbybel" is nie Die Bybel nie
Reg aan die begin moet ons dit duidelik vir mekaar sê: Daar is maar net één Bybel, en dit is die kanonieke boeke van die Ou en die Nuwe Testament (vergelyk Nederlandse Geloofsbelydenis, art 4). Hierdie ses en sestig boeke alleen en volledig is die onfeilbare en geïnspireerde Woord van God. Daarin openbaar God Homself aan die mens. Daarin is die volkome leer van die saligheid vir ons opgeteken. "Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid daarin geleer word" (NGB, art 7). Daarom is dit ook verbode om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12 : 32).
Uit wat ons hierbo gesê het, is dit duidelik dat ons nie eintlik van "Kinderbybels" kan praat nie. Gewoonlik word net sekere Bybelgedeeltes (veral die verhalende gedeeltes) in "Kinderbybels" behandel Dit kom dus neer op 'n uittreksel uit die Bybel wat dan op 'n meer bevatlike wyse vir kleiner kinders geskryf word. Daarmee is op sigself niks verkeerd nie, solank die kind (en ouer!) verstaan dit, die "Kinderbybel", net sekere gedeeltes uit die Bybel vir kinders oorvertel. Anders sou dit beteken dat daar twee Bybels is: een vir kinders en een vir groot mense. En dis tog nie waar nie. 'n Meer gepaste naam vir sogenaamde Kinderbybels sou seker "Geskiedenisse/Verhale uit die Bybel" of "Bybelgeskiedenis(se) vir kinders" of iets soortgelyks gewees het. Ons moet dus nooit by kinders die indruk skep dat die "Kinderbybel" die Bybel is nie. Die Bybel moet altyd sy ereplek in ons huise behou.
'n "Kinderbybel" moet nie op een lyn met storieboeke gestel word nie
Ons het hierbo gesien ons kan die "Kinderbybel" nie op dieselfde vlak as die Bybel stel nie. Die ander kant van die muntstuk is wanneer ouers die "Kinderbybel" op dieselfde vlak as storieboeke stel. Ouers moet die "Kinderbybel" altyd só hanteer dat 'n kind duidelik die verskil tussen die geskiedenis van Dawid en Goliat aan die een kant en die verhaal van Rooikappie aan die ander kant verstaan. Dit wat in die Bybels staan, is immers waar en betroubaar: Dit het regtig gebeur. Dawid hét vir Goliat met sy slingervel verslaan. En deur hierdie geskiedenis wil God 'n boodskap vir ons gee. Rooikappie is egter net 'n storie.
'n "Kinderbybel" moet nie die tweede gebod oortree nie
'n Ernstige probleem probleem met baie "Kinderbybels" is die illustrasies waarin Jesus voorkom. Die tweede gebod verbied ons om 'n beeld van God te maak, al is dit God in die menslike gestalte van Jesus. Hy alleen het die reg om 'n beeld van God te maak, en dit het Hy in die mens en veral die mens Jesus Christus gemaak. Omdat ons nie weet hoe Jesus gelyk het nie, mag ons nie 'n voorstelling van Hom maak nie. Die gevaar is dat 'n kind die assosiasie tussen Jesus en die kunstenaarsvoorstelling van Jesus maak. Wanneer die kind dan aan Jesus dink, sien hy onwillekeurig hierdie prentjie van Jesus voor hom.
Daar is "Kinderbybels" wat hierdie probleem oorbrug deur in illustrasies Jesus van agter af te teken. Jy sien dus eintlik net 'n figuur gekleed in lang rok van agter af, nooit die gesig van Jesus nie. In hierdie verband kan ek verwys na "Die Bybel vir kleuters"deur Louise Smit met kleurillustrasies deur Brigette Smith.
Die gebruik van illustrasies kan ook gevare inhou. Baie mense is geneig om, wanneer hulle uit 'n "Kinderbybel" voorlees, meer op die illustrasies te fokus as op die geskrewe teks. Dan kan 'n ouer byvoorbeeld maklik sê: "Kyk hoe bang lyk Petrus" waar hy op die water loop en begin sink. Of: "Kyk hoe lekker eet Eva aan die appel!" So word dinge soms in kinders se koppe ingeprent wat nie in die Bybel staan nie.
'n "Kinderbybel" moet Bybelgetrou wees
Omdatnie iets by die Woord van God mag bygevoeg of iets daarvan mag weggelaat word nie, moet ouers seker maak dat 'n "kinderbybel" so getrou as moontlik aan die teks van die Bybel self is. Waar staan dit byvvoorbeeld in die Bybel dat die verbode vrug wat Eva geëet het, 'n appel was? Of dat Abel se offerrook opgegaan het en Kain s'n platgeval het? Of dat Absalom aan sy hare gehang het? Sodanige foutiewe voorstellings bly 'n kind sy lewe lank by.
'n "Kinderbybel" moet rekening hou met die kind se ontwikkeling
'n Kind se verstandelike, morele en emosionele ontwikkeling speel 'n belangrike rol ten opsigte van sy/haar verstaan van die Bybel. 'n Ouer moet dit in gedagte hou wanneer daar vir die kind uit die Bybel voorgelees word. Gabrielle Malan (God en die kleuter) gee byvoorbeeld die volgende beginsels wanneer Bybelverhale vir die kleuter gekeur word:
Die verhale moet bevatlik vir die kleuters wees en binne hul ervaring en begripsvermoë val.
Die verhale moet aansluit by hulle belangstelling.
Dit moet die geloof en vertroue van die kleuter bou.
Dit moet konkreet wees. Kleuters kan simboliek nog nie verwerk nie.
Godsdienstige begrippe wat moeilik verstaanbaar is, moet liewer tot later gebêre word of op 'n vereenvou-dige wyse wyse aangebied word.
Die taal moet eenvoudig wees en moeilike woorde moet verduidelik word.
'n "Kinderbybel" is net 'n hulpmiddel
'n "Kinderbybel" probeer eintlik net doen wat die ouer self moes gedoen het, naamlik om die Bybelgedeeltes op 'n bevatlike wyse aan hulle kinders oor te vertel. Daarom is en bly 'n "Kinderbybel" net 'n hulpmiddel. Die gevaar bestaan dat ouers self nie die Bybel ken nie en dus uit die "Kinderbybel" verhale voorlees wat vir hulle self vreemd is.
Die beste manier om u kind met die Bybel vertroud te maak, is om uit die Bybel self aan die kinders voor te lees. Met die ontwikkelingspeil van die kind in gedagte kan u as ouer gedeeltes uit die Bybel kies wat u aan hom/haar wil voorlees. Met sorgvuldige voorbereiding kan 'n mens selfs 'n langerige gedeelte soos Dawid en Goliat se geveg voorlees. Sekere gedeeltes kan die ouer aan die kind in sy/haar eie woorde oorvertel terwyl die kerngedeeltes voorgelees kan word.
Dit vra egter iets van u as ouer: U moet die Bybel self lees en goed ken. U moet ook die gedeeltes wat u aan u kind wil voorlees, deeglik voorberei. Met die tyd sal u die vaardigheid om dit te doen, bemeester. Onthou altyd: U arbeid in hierdie verband is oor en oor die moeite werd. Deur u arbeid hoor u kind die Woord van die Here.