|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
Mediese Etiek
DIE PROBLEEM VAN DIE SADDUSEëRS
- DR MC DURAND -
Die begrafnisondernemer bel die arts – daar is ‘n kremasievorm om in te vul. Die familie wil gehoor gee aan oupa se wens om veras te word
Die pasiënt weier om die operasie te ontvang – hy verduidelik dat die arts sy outonomie moet respekteer.
Die arts verklaar die pasiënt breindood – hy stel voor dat daar met die oesing van organe voortgegaan kan word.
Die moeder van vyf kinders vra die arts om haar raad te gee ten opsigte van voorbehoeding.
Wat sę die Skrif oor verassings? Wat sę die Skrif oor die outonomie van die mens? Wat sę die Skrif oor die afsterwing van die mens? Wat sę die Skrif oor voorbehoeding?
Is dit so dat die mediese wetenskap so ver gevorder het dat die morele onderrigting van die Skrif onvoldoende is? Moet ons nie maar die Skrif EN ons gesonde verstand gebruik nie? Die een sę: "Maar die Here het jou `n nugter verstand gegee!" Die ander spot: "Die Bybel is geen handboek vir die Geneeskunde nie!" Die een paai: "Ons is vry van die wet." En ‘n ander waarsku: "Fundamentalis!"
Hier het ons te doen met die probleem van die gaping tussen die Skrif en die alledaagse lewe. Enersyds het ons die eties-morele gegewens in die Skrif. Deur die hele verloop van die Skrif kry ons duidelike morele uitsprake, voorbeelde en bevele. Maar andersyds het ons die werklike węreld. Dit is nie maklik om uit die Skrif ons morele dilemmas regstreeks op te los nie. Dit lyk vir ons asof daar ‘n groot gaping is tussen ons moderne węreld en die węreld van die Skrif.
Hoe kan ons hierdie dilemma oplos? Gaan ons hierdie gaping oorbrug met eie, self uitgedinkte morele reëls? Sien ons met ons nugter verstand en goeie verstand kans om die brug tussen die alledaagse morele dilemmas en die Skrif eiehandig te timmer? Wel, die Fariseërs het daarvoor kans gesien. Hulle het moedig hierdie gaping tussen die wette van Moses en węreld oorbrug met hulle mondelingse tradisies. Hulle het nuwe morele reëls self uitgedink – hulle het gedink dat hulle waarheid self kon uitdink (vergelyk Matt 23:10). Hulle het die harde onpopulęre wette van God sagter gemaak vir die mense (vergelyk Matt 19:3; Mark 7:11; 10:2). Iemand wat meen dat hy ‘n gesonde verstand het sal net soos ‘n Moses van ouds flink morele wette kan uitdink (vergelyk Matt 7:3-5; 23:16-18) en bestaande wette aanpas vir sy tyd. Die Here Jesus keur hierdie gedrag van die Fariseërs af. Die Here verwyt die Fariseërs dat hulle dink hulle sit op die stoel van Moses (Matt 23:2).
Die Sadduseërs het ‘n ander opsie aangebied. Hulle het die morele gesag van die Skrif uit die alledaagse lewe onttrek. Hulle het geleer dat die Skrif se morele toepassings slegs gegeld het vir die tempel en die tempeldiens en die priesters wat in die tempel aan diens was. Die Sadduseërs het nie die krag van God geken nie (Matt 22:29-32) en hulle het nie in die opstanding geglo nie (Mat 22:23; Mark 12:18; Luk 20:27; Hand 4:1). Hulle het hulle eie posisie in die tempel beskerm. Hulle het die Skrif geëien vir die tempel en het niemand toegelaat om met hulle te kompeteer nie – die apostels wat gepreek het in die tempel het hulle gevang en gedreig (vergelyk Hand 4 en 5).
Hierdie Sadduseër-opsie is steeds vandag vir talle ‘n maklike uitweg. Alhoewel daar dikwels voorgedoen word dat die Skrif gesag het, ‘n belangrike boek is en selfs ‘n boek van waarheid is – word die Bybel nie beskikbaar vir die alledaagse węreld gestel nie. Die Skrif is waarheid maar nie waarheid vir die alledaagse lewe nie. Die Skrif hoef nie ondersoek te word vir die probleme van die daaglikse lewe nie. Die probleme van verassing, aktiewe eutanasie en voorbehoeding kan oorgelaat word aan die gesonde verstand om op te los. In Suid Afrika word die moraliteit van die samelewing gemeet aan die Grondwet. Dit wat die Grondwet bied aan die publiek is die waarheid waaraan alle wette en oplossings gemeet word.
Die gevolg van hierdie beleid: Die Skrif is waarheid van die tempel maar nie vir die alledaagse nie het veroorsaak dat ons samelewing in twee węrelde leef. Enersyds het ons die węreld van die kerk – naamlik die plek waar die Skrif nog gelees word en soms geraadpleeg word, en mooi verhale oor vertel kan word. Andersyds het ons die alledaagse węreld – naamlik waar die Skrif nie ‘n morele handboek is nie. Die beleide en die morele dilemmas in die geneeskunde, skole, universiteite, politiek, en howe word eerder aan die hand van die grondwet getoets en opgelos, as wat dit ooit inhoudelik aan die Skrif getoets word. Moeilike vrae en moeilike oplossing is die werk van die kundiges van die samelewing om op te los.
Ons vind onder hierdie nieu-Sadduseërs talle vromes en "baie godsdienstige" mense wat steeds tevrede is met die haglike toestande van Suid Afrika. Hulle meen dat ons niks het om oor ontevrede te wees nie – "solank ons twee onversteurde samekomste op `n Sondag het" het ons genoeg. Wanneer gewone "leke" op straat die Woord van God as die enigste morele gesag vir die alledaagse lewe wil gebruik sal die nieu-Sadduseërs van ons tyd hom vinnig verwyt: "Fundamentalis" - want hulle weet die Skrif is vir die kansel, en moontlik vir `n stil tydtjie in die binnekamer. Die nieu-Sadduseër duld nie kompetisie nie. Die Skrif is vir die tempel en nie vir die stad nie.
Dit is interessant dat alhoewel die Sadduseërs in die wettige ampte van die tempel aangestel was – naamlik die ampte van priesters en hoëpriesters – het hulle ampte as sulks hulle nie beskerm teen die oordeel van hulle dwaalleer nie. Ten spyte van hulle priestersampte waarsku die Here Jesus Christus die volk teen die leer van die Sadduseërs (Matt 16:6,12) – en veroordeel Hy die Sadduseërs as ‘n addergeslag en as geveinsdes (Matt 3:7).
Die nieu-Sadduseërs ken ook nie die krag van God nie. Hulle onderskat die alwetenheid en almag van God. Ons kan nooit tussen reg en verkeerd onderskei buite die openbaring van God in Sy Woord nie. God se Woord is die enigste lig vir ons voete in elke pad van gehoorsaamheid – sowel in die erediens as ons omvattende lewensdiens.