|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
OPVOEDING EN ONDERWYSOnderwys en Opleiding voor ‘n kruispad:
AKKREDITERING EN REGISTRASIE – JA OF NEE?
- Dr Pieter van der Dussen -
Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwy
Owerhede word van God gewil om die orde daar te stel. Die sondeval het die orde van die skepping omvergewerp. Die mens het die owerheidskap van God as Skepper en Onderhouer vir die verskeurende en vernietigende wanorde van Satan verruil. Die orde is in beginsel herstel toe die Here Jesus Christus die Wet in die mens se plek volbring het. Nogtans duur die sonde voort en het dit God behaag om menslike ordebewakers daar te stel om te sorg dat kwaaddoeners gestraf en die sonde aan bande gelę word, sodat elkeen ‘n stil en rustige lewe kan lei en sy roeping kan nakom. Hierdie ordebewakers is die aardse owerhede wie se taak en roeping in Romeine 13 omskryf word.
Ons bely in die Nederlandse Geloofs-belydenis Art 36 dat God konings, vorste en owerhede verorden het omdat Hy wil dat die węreld deur wette en owerhede regeer word. Dit spreek vanself dat dit om die nakoming van die Godgegewe orde gaan ooreenkomstig die Wet van God. Daarom bely ons dat elkeen verplig is om eer en eerbied aan owerhede te betoon en hulle gehoorsaam te wees in alles wat nie met die Woord van God stry nie. Dit kan ook so gestel word: Hulle gehoorsaam te wees tensy hulle in stryd met die Woord van God handel. Dan moet ons God meer gehoorsaam wees as die mense, die owerheid vermaan, ook daarvoor bid dat hy hom sal bekeer. Maar as hy in sy ongehoorsaamheid volhard, verbeur hy die amp van owerheidskap omdat hy soos Saul die sonde van wederstrewigheid en eiesinnigheid pleeg en daarom as owerheid verwerp is.
Daarmee kom die vraag ter sprake: Wie of wat is die owerheid? Met die afsetting van Saul het die owerheidstoestand in Israel nie verval nie. Daar was steeds wette en verordeninge, ordebewakers, toesighouers, howe en dies meer. Saul is as die oppergesagsdraer verwerp, maar hy het steeds regeer en is daarin selfs deur sy opvolger Dawid erken. Dawid was egter ook die wreker wat deur God geroep is om die regeeramp van Saul af weg en oor te neem. Hiermee word skeiding gemaak tussen owerheid en regering van die dag. Die teokratiese owerheidstruktuur van wette wat Saul as eerste koning geërf het, was goed gewees omdat dit oor eeue heen van God self tot Moses, Josua en die Rigters gekom het. Maar Saul het as koning daaraan ongehoorsaam geword en is daarom as koning verwerp.
Dit is belangrik dat geen regering self owerheid is of hoef te wees nie. Inteendeel is elke regering, elke koning en elke pre-sident en elke minister persoonlik, maar ook gesamentlik, aan die owerheidskap onderworpe. Hulle staan nie bo die wet nie – dink weer aan Saul. Soos in art 29 NGB die valse kerk aan net een kenmerk uitgeken word, naamlik dat hy aan sy eie insettinge meer gesag as aan die Woord van God toeskryf, so word ‘n regering vals as hy homself bo die wet of owerheidskap verhef. Dan orden hy nie – dan skep hy wanorde. Dit kom na vore as ‘n regering hom nie aan sy ordenende opdrag hou nie, maar dwingend en voorskriftelik word om sy eiesinnige insigte in woord en daad te omskep. Dit is wat in die onderwys en opleiding in Suid-Afrika aan die gang is.
Die Skrifgetroue gelowige is sekerlik die laaste wat die ordeningstaak van die owerheid ontken en misken. Terwyl elke gelo-wige seker daarna verlang om deur ‘n gelowige regering geregeer te word, is hy nogtans bereid om ooreenkomstig die Woord van God ook aan ‘n ongelowige regering eerbied te betoon solank daardie regering die vryheid erken dat die gelowige sy lewe na die Woord van God inrig en sy kinders daarvolgens opvoed. Dat die regering reëls neerlę om die optrede van alle mense te orden, aanvaar hy en onderwerp hom daaraan. In die onderwys kan dit sake soos gehaltebeheer insluit, asook die beskerming van bepaalde kwalifikasies sodat daar orde in die gemeenskap kan wees. Wanneer die regering egter op die vryheid inbreuk maak en sy ordeningstaak in voorskriftelike dwingelandy laat oorgaan, word die punt bereik waar die gelowige geen keuse het as om God meer gehoorsaam as die mense te wees nie.
Dit is die toestand waarin Suid-Afrika hom vandag bevind, veral betreffende onder-wys en opleiding. Die onderwys is deur die regering-van-die-dag as speerpunt van die tweede fase van sy rewolusie aan-gewys. So kan hy deur die onderwys sy rewolusionęre insigte by die opkomende geslag inprent. Daarvan getuig die op-dwing van ewolusie, geslagsonderrig, die verheffing van rewolusionęre geskiedenis, die afskaffing van religieuse onderrig en prinsipiële inslag in die onderwys.
Naas die inhoudelike van die onderwys word die rewolusie ook in die ondersteu-ningstruktuur van onderwys en opleiding deurgevoer. Huistaalonderrig word afge-skaf, waarmee die gedagte aan moeders- knie as die opvoedkundige grondslag van die gelowige ouer misken word. Kinders word tot onderrig in ‘n vreemde, uitheem-se taal gedwing wat hulle kultuur-agter-grond aantas en hulle prestasievermoë kortwiek. Dit geld nie net Afrikanerkinders nie – hulle sal hierdie struikelblok wel oorkom - dit is veral die Swart kinders wat hieronder ly en wat na jare se onder-wys nog nie kan lees of skryf nie.
Verder word wetgewing gewysig wat aan die (nominale) ouerseggenskap in staat-skole ‘n einde maak omdat die beheer-liggame nie genoeg doen om die rewolusie te bevorder nie. Ook word die afskaffing van Afrikaans as taal in hoër onderwys openlik van regeringskant af bepleit. Dit is sake wat wesenlik niks met onderwys te make het nie, maar uiting van die re-wolusionęre program is.
Onder hierdie omstandighede dwing die regering sy wil op deur ‘n stelsel wat die skyn van ordening het, maar niks anders as dwingelandy is nie. Voorsiening word wel in hulle eie (ANC) grondwet gemaak dat dit elke religieuse en kultuurgroep vrystaan om sy eie instellings, bepaaldelik onderwysinstellings, op te rig en te bedryf. Dat sulke instellings deur die owerheid erken (akrediteer) en geregistreer moet word, is ‘n ordenende saak en op sigself nie onaanvaarbaar nie. Die werklikheid is egter dat owerheidserkenning en registrasie slegs plaasvind as aansoeke aan bepaalde voorskriftelike vereistes voldoen. Op die vlakke van hoër onderwys word onder meer die volgende vereis:
Volledige personeelstate.
Volledige leerprogramme wat aan bepaalde voorsrkifte moet voldoen.
Volledige vak-leerplanne wat op die meriete van inhoud deur die owerheidsliggame beoordeel word.
Allerlei praktiese sake wat die interne werking van ‘n instelling raak.
Talle vereistes gestel, het niks met onderwys en opleiding te doen nie en bevorder slegs die rewolusieproses. ‘n Voorbeeld is die fiasko in Mei 2004 toe slegs ‘n klein aantal MBA-kursusse goedgekeur is wat daartoe gelei het dat minstens twee buitelandse instellings hulle onttrek het. Die rede was dat die owerheid alhier ‘n vereiste by die internasionaal erkende vereistes gevoeg het, naamlik equity in die bevolkingsverhouding van dosente en studente.
Dit bring die vraag na vore of die gelowige ouer en die gelowige samelewing hom aan die stelsel van akkreditering en registrasie van instellings vir opvoeding en onderwys kan onderwerp soos dit tans in Suid-Afrika toegepas word. Dit is ‘n stelsel van dwingelandy wat selfs die Godsdiens nie ontsien nie en in stryd met die Woord van God wat Verbondsonderrig voorop stel (Deut 6).
Benewens die beginsel is daar praktiese sake soos die erkenning van kwalifikasies wat kinders en jongmense se aardse toekoms raak. Daaroor sal ‘n volgende arti-kel handel. Hier word afgesluit met die stelling dat God sy kinders bewaar en nie bo hulle kragte beproef nie. Gelowige ouers sal hulle kinders moet opvoed om ter wille van hulle geloof offers te bring en kerk-rade sal die ouers hierin moet steun. Daar is reeds kinders en jongmense wat sonder erkende kwalifikasies goeie werk kry. Daar is ook ‘n toenemende getal kinders wat van hulle ouers tuisonderrig ontvang.
Erkenning vanuit die Woord van God is die eerste en die laaste beginsel. Akkreditering en registrasie van instellings by ‘n owerheid is nie die begin en die einde van onderwys en opleiding nie.