|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
OPVOEDING EN ONDERWYSDie "wortels" van Karate
"Steeds effektief die beginsels en leerstellings van die Zen Boeddhisme"
Die Erdekruik lewer in sy uitgawe van Mei/Junie 2005 'n kritiese beskouing oor wat deurgaans as 'n sportbeoefening met die oog op selfverdediging beskou word, maar wat in werklikheid as 'n lewe uit die Oosterse wyse van geloofsbeoefening is. Dit is geskryf deur Tiaan Gildenhuys met die Seltelnommer 082 803 3326. "Onthou dat karate nie uit die sport ontwikkel het nie, maar dat die sport uit karate-do ontwikkel het ... Beoefenaars glo karate is uiteindelik een van die "vele weë" wat na die lewe lei."
Die Bybel sê: "Kom, huis van Jakob en laat ons wandel in die lig van die HERE! Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied en van goëlaars soos die Filistyne en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel" (Jes 2 : 5, 6)
"Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Want elke boom word geken aan sy eie vrugte, Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie" (Luk 6 : 43, 44)
Kom ons kyk nou kortliks na karate se "boom" - na sy ware "wortels".
Karate-do beteken "die weg van die leë hand". Die Bybel sê daar is geen ander "weg" as Jesus Christus nie. "Jesus antwoord hom (Thomas) Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh 14 : 6).
Kung fu en ander leerstellings is deur ene Bodhirarma, 'n Indiese Zen Boeddhis, ongeveer die sesde eeu nC, in die Song Shan Shaolin-tempel in Noord China ontwikkel.
Bodhirarma leer die monnike om hulleself met sy tegnieke te verdedig, wat persoonlike meditasie en oefeninge ingesluit het. Hy ontwikkel "katas" (reeks oefeninge wat in 'n vorm saamgevat is) as meditasiehulpmiddel. Die Bybel sê ons kan slegs op God se Woord mediteer. Hy verenig leerstellinge van die Zen Boedhisme (afgodery) met die gevegskunste. Zen is dus baie duidelik afgodery, want dit kom nie van die Here af nie.
Gichen Funakoshi is in Japan onderrig in die Shaolin tempel-gevegskunste en gee in 1917 sy eerste openbare demonstrasie van karate-do in Japan (Karate-do staan in China bekend as Shokotan). Funakoshi word gereken as die "vader van karate-do". Die "dojo" waar geoefen word, beteken: "The place of the way). Karate-do staan vandag nog bekend as "moving Zen". Dit het niks anders as die suiwer leer van Zen-Boeddhisme as basis. Zen glo aan geen eksterne God nie, maar glo wél dat die mens eintlik self 'n god is wat daardie waarheid deur die dissiplinering van sy brein moet ontdek. "Ki"-kragte word in Taoïsme as 'n bonatuurlike krag gesien wat deur almal vloei en alles en almal aan die lewe hou. Volgens die Bybel verrig slegs die Heilige Gees van God hierdie funksie. ... Die "kiai" in karate word onder andere gebruik om die persoon se "innerlike krag" te aktiveer. Dit is egter niks anders as die aanroep van sekere van Satan se bose geeste nie.
Karate as sport - onthou dat karate nie uit die sport ontwikkel het nie, maar dat die sport uit karate-do ontwikkel het. Die "wortel" bly dus steeds effektief die beginsels en leerstellings van die Zen-Boeddhisme. Kan die "vrug" dan goed wees? "Julle moet òf die boom (met sy wortels) goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken (Matt 12 : 33).
Karate word deur die beoefenaars daarvan as 'n lewenswyse gesien. Dit verg baie toewyding en daardie toewyding lei uiteindelik tot 'n leefwyse. ... Karate-beoefenaars lewe uit die Oosterse wyse van geloofsbeoefening en nié God s'n nie. Beoefenaars glo karate is uiteindelik een van die "vele weë" wat na die lewe lei. ... Maar Jesus sê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh 14 : 6).
In karate begin studente met 'n wit gordel (suiwer/lig) en eindig uiteindelik met 'n swart gordel (donker/duister). Is dit tekenend van positiewe groei? ...
Studente buig voor die "sensei" of leermeester en in sommige gevalle voor 'n beeld of afbeelding in die "dojo". Die Bybel bepaal: "Maar die HERE ..., Hom moet julle vrees en voor Hom buig ..." (2Kon 17 : 36). Maar hande wat seermaak, slaan en stukkend breek, "terg" God, aangesien dit teen sy Bybelse opdragte is.
Karate se logo is gewoonlik óf die draak, óf die swart Yin/Yang-simbool. ... Die betekenis van die Yin/Yang-simbool is as volg: "The unification of opposites. There is good in every evil, even in Satan and evil in every good, even in God". Daardie logo word gewoonlik reg bokant die hart gedra. Waaraan onderwerp die student dus sy hart?
Hoekom laat ouers hulle kinders karate beoefen? Om hulleself te verdedig, is die antwoord altyd. kyk net wat sê die Bybel: "Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied en aan hom wat jou bokleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie" (Luk 6 : 29) en "... want Hy sal sy engele aan-gaande jou (en jou kinders) bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jou voet teen geen klip stamp nie" (Psalm 91 : 11, 12). Indien ons werklik sélf ons verdediging wil behartig, waarom beroep ons ons as Christene nie éérstens op God se Woord nie? Waarom beroep ons ons op dinge wat uit Oosterse gelowe uitkom en só duidelik direk met God se Woord teenstrydig is? Is dit dalk omdat ons as Christene God en sy Woord nie wérklik uit ons hart uit glo nie? Onthou: Daar is net twee koninkryke op aarde, God se koninkryk van Lig en Satan se koninkryk van duisternis. As ek ongehoorsaam is aan die baie duidelike opdragte in God se Woord, is ek gehoorsaam aan Satan en sy magte van duisternis en het hulle volle en wettige reg in my en my kinders se liggame en lewens.