|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 9 No 4 Julie 2005
SKRIFOORDENKING
Die name van die gelowiges is in God se gedenkboek
Maleagi 3 : 13 - 4 : 2
- DS PIETER VAN WYK - PRETORIA-NOORD -
Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en dit gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. Maleagi 3 : 16 Ons bemerk in hierdie gedeelte ‘n sterk ooreenkoms tussen die vierde en hierdie laaste dialoog. By beide handel die gesprek oor die uitbly van God se reaksie oor die dade van mense. In die vierde gesprek vra die volk waarom God nie die goddeloses straf nie. Dit lyk asof God hulle bose dade verdra. In die laaste dialoog word gevra: Waar is die beloning vir die vromes? Hierdie gesprek vind plaas na aan-leiding van ‘n klag wat teenoor God uitgespreek is.
Die klag van die volk.
Hierdie klagte vind ons in vers 14 opgeskryf: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel?
Met hierdie klag vra die volk: Watter wins of voordeel is daarin vir ons om die Here te bly dien? Daar word verskriklike klem geplaas op die regte aanbidding van die Here, maar watter nut het dit tog? Want dit gaan nie met ons beter in ons omstandighede nie. Ons kry nog net so swaar as in die verlede!
In die vorige gesprek het die Here mos ‘n uitdaging aan die volk gerig dat hulle die hele tiende na sy huis moet bring en Hy sal oorvloedige seën aan hulle gee. Uit hìèrdie klag wil dit lyk of die volk dit uiterlik wel gedoen het, maar nie die seën van die Here ervaar het nie. Die vensters van die hemel is nie vir hulle oopgemaak en oorvloedige seën oor hulle uitgestort nie. Daarom die klagte teenoor God.
Maar waarom het Hy dan nie hulle poginge beloon nie? Hiermee het die volk geworstel: Ons probeer so hard om die HERE tevrede te stel, maar dit gaan nie beter nie!
Waarom nie? Want hulle het vasgehaak by die uitwendige dade. Tiendes is gegee, voorskrifte is nagekom, Noukeurig is God se verordeninge onderhou. Die belangrikste is egter nie gedoen nie: hulle harte is nie voluit vir die Here gegee nie!
God kan nie omgekoop en gedwing word deur uiterlike optrede om sy seën te gee nie. Nee, die hart moet daarin wees. Dit moet ‘n opregte offergawe vanuit die hart wees en nie iets wat met bybedoelings aan die Here gegee word sodat ‘n mens dalk meer kan kry nie.
Hìerdie punt het nog nie tot die volk deurgedring nie. Hulle kla: dit is nutteloos, daar is geen voordeel daarin om God te dien nie. Godsdiens het sy betekenis verloor.
Dit is nie onverskillige mense wat die vrae vra en die klag uiter nie. Vers 16 sê dit is mense wat eerbied voor die Naam van die Here het. Maar nou maak sake nie meer vir hulle sin nie!
Hierdie klag was baie vermetel teen-oor die Here. Letterlik staan daar hulle het harde, kras taal gebruik. Die vermetelheid bestaan daarin dat die volk nie selfondersoek doen nie. Nee, dadelik word tot die konklusie gekom: Ons is reg! Ons bring ons kant, maar God kom nie sy ooreen-koms na nie! Wat help dit tog, daar is geen voordeel vir ons om God te dien nie.
In die profesie van Sagaria word dieselfde uitdrukking vir die onder-houding van God se gebooie gebruik, waar dit gaan oor die diens van die hoëpriester Josua. Die Here het sy seën verbind aan Josua se amps-werk wat hy noukeurig en nougeset moes doen.
Hieroor gaan dit in die laaste dialoog. Die volk sê: Ons het ons dienswerk nougeset gedoen! Maar ons bemerk nie die effek daarvan in ons lewens nie! Dit gaan nie met ons beter in ons lewensomstandighede nie!
Wat baat dit dan ‘n mens, wat baat dit ‘n ampsdraer, wat baat dit ‘n kerk as hulle hul afsloof vir die Here maar geen voordeel daaruit kry nie?
Vir die volk het dit gegaan om die uiterlike voordeel. Hulle het ‘n soort ekonomiese opvatting van die gods-vrug gehad. As die Here hulle gawes, hulle gehoorsaamheid, hulle aanbid-ding kry, dan is dit sy plig om hulle daarvoor rojaal te vergoed met stofli-ke welvaart. Die lewe moet mos meer aangenaam wees!
Bly hierdie dinge egter uit, waartoe dien dan al die naleef van die voorskrifte, al die offerdienspraktyke?
Dit help selfs nie om met rouklere voor die aangesig van die Here te loop nie. Die "voor" kan ons ook met "vanweë" vertaal. Dan staan daar: Ons het in rouklere gewandel vanweë die HERE van die leërskare. Dit beteken dat die volk gesê het: Ons is bewus daarvan dat God ons sien en op ons wandel let en ons hou daarmee rekening. Uit ontsag vir die "goddelike oog" trek ons rouklere aan anders sou ons nooit voor Hom durf verskyn nie.
Hierdie uiterlike optrede lyk heeltemal vroom, maar in werklikheid wou hulle by God indruk maak met hulle prestasies en optrede. En dan is die Here baie kwalik geneem dat Hy nie met teenprestasies vorendag gekom het nie.
Hierin sien ons ‘n voorspel tot die Fariseïsme, die kenmerk deur uitwendige vroomheid. Die Fariseërs het geroem dat hulle volgens die voorskrifte lewe en gemeen het dat God op grond van hulle prestasies groter beloning sal gee. Maar Jesus het hulle "geveinsdes" genoem.
Edog hulle klag bevat nog meer. Ons hoor by hulle die eeue-oue Asafsklag. Daarvan lees ons in Psalm 73. Asaf kla dat dit met die goddeloses voorspoedig gaan en met die gelowiges sleg. Die ironie wat ons bemerk in die lewe van die gelowiges en die goddeloses, maak dat die volk die ongelowiges as die gelukkiges prys. Want hulle ervaar dan groter welvaart en hulle dien nie eens die Here nie!
Dat die klaers die goddeloses as "gelukkig prys", beteken nie dat hulle nie ware vromes was nie. Hulle verkeer in die "Asafstemming" wat slegs met die hede rekening hou.
Van hierdie kortsigtige "let op omstandighede" sê Paulus in 1 Korintiërs 15: 19: As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
Sò kla die volk in ontevredenheid. Kla en vra ons nie maar ook so nie? Al is dit op ‘n ander manier en met ander woorde, tog is dit dieselfde klag.
Wat help dit om "my kant te bring" teenoor God sonder dat dit aan my waarborg bied dat dit met my goed en voorspoedig sal gaan? Hoekom beleef mense wat duidelik onverskillig teenoor die Here lewe klaarblyklik voorspoed? Hoekom gebeur goeie dinge met slegte mense?
Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? Hoekom lyk dit asof mense wat teen die Here in opstand is, voorspoed ervaar?Hoe kry mense dit reg om God uit te daag en dan skotvry daarvan af te kom? Hoe klop die regverdigheid van God met die sogenaamde onregverdigheid van die lewe?
Alhoewel hierdie vermetele woor-de teenoor die Here is, veroordeel Hy nie sy volk daaroor nie. Op ‘n liefdevolle manier gee Hy antwoorde aan sy kinders wat met hierdie sake worstel.
Die troos van die Here.
Die antwoord wat die Here gee en die troos daardeur is ‘n ontsaglike troos!
Daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. Want Hy het gehoor en Hy het gemerk en Hy wil troos.
‘n Gedenkboek. Hierdie gedagte kry ons meermale in die Bybel. In Eksodus 32: 32 vra Moses na aanleiding van die sonde van die volk toe hulle ‘n goue kalf gemaak het: ..delg my uit u boek wat U geskryf het.
In Jesaja 4: 3 lees ons: En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dìe sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem..
In Esegiël 13: 9 het die profeet dit oor die valse profete wat nie ingeskryf sal word in die boek van die huis van Israel nie. Ook Daniël praat in hoofstuk 7: 10 van die "oopmaak van die boeke." In Openbaring 20: 12 lees ons: En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
In hierdie gedeeltes is daar telkens die voorstelling dat voor die Here ‘n boek lê. Die herinnering wat daarin geskrywe is, word by Hom lewendig gehou. En wat staan daarin geskrywe?
Soms is die voorstelling dat die name van God se kinders daarin opgeskrywe staan. Dan is daar ook sprake van die dade wat hulle verrig het.
Dit is duidelik dat met die op-tekening van die name in hierdie boek, ‘n skeiding voltrek word. Hoewel Israel die volk van God genoem word, is daar in die volk ware gelowiges en skyn gelowiges. Net die ware gelowiges se name is in die gedenkboek opgeskrywe. In die boek is opgeskryf die name en die dade van Sy kinders. Daaraan dink God gedurig.
Met die optekening van die name in die gedenkboek het ons ‘n heenwysing na die Nuwe Testamentiese kerk wat uit Israel vergader is.
Die twee groepe staan teenoor mekaar: diegene wie se name in die boek opgeskryf staan en diegene wie se name nie daar staan nie. Dit wys op God se uitverkiesende genade. In hulle vrae, worstelinge en klagtes word die volk met hierdie antwoord getroos.
Julle kla: wat baat dit om die HERE te dien? Dit lyk asof die goddeloses ‘n groter voordeel het, want dit gaan met hulle materiëel beter terwyl ons swaarkry.
Maar kyk net verder! Hùlle name is nie in die gedenkboek opgeskryf nie! Hùlle is nie uitverkies nie. Die Here gedenk hulle nie.
En wat is tog die beste: om nou ryk te wees, maar arm aan God? Of om nou arm te wees, maar in die ewige lewe die ryke gemeenskap van God te beleef?
Hierop het Jesus ook in Lukas 10: 20 die klem gelê toe Hy die sewentig dissipels uitgestuur het en hulle weer teruggerapporteer het: Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer daaroor bly dat julle name in die hemele opgeskryf is.
Om duiwels uit te dryf is wel ‘n geweldige groot saak. Maar dit is tydelik. Dit loop ten einde want dit behoort tot hierdie bedeling. Maar om ingeskrewe te staan in die boek van die lewe in die hemel, is alles oortreflik! Want daardeur is ek erfge-naam van die ewige lewe en van die skatte wat nooit vergaan nie. Hierdie heerlikheid gaan uit ver bo alle aardse skatte en voorspoed en magte.
Wat maak jou werklik bly? Jou gesondheid, besittings, voorspoed? Ja, daaroor kan en moet ons werklik bly wees en aan God die eer gee. Want ons ontvang dit alles uit sy hand. Maar is jy bly oor die geestelike voorspoed wat jy as uitverkore kind van God het? Ten spyte daarvan dat dit materiëel dalk nie so voorspoedig gaan nie. Is jy bly dat jou naam in God se gedenkboek opgeskryf staan? Dit bied groter voordeel as enige aardse voorspoed.
Met hierdie woorde word die worstelende kerk van die Here getroos: as ons rondom ons kyk en die lewe en die onregverdigheid van die lewe nie vir ons sin maak nie. Ons harte word opgehef om ‘n hemelse perspektief te hê.
Die vraag is vandag nog baie aktueel: Wat se voordeel is daarin om God te dien?
Kyk, jou naam is in die gedenkboek in die hemel opgeskryf! En God hou jou naam en jou dade in gedagtenis. Laat ons daarom spreek en sing van die wonderlike weë van die Here! En laat ons sy Naam in ere hou. Want dit is nie nutteloos om God te dien nie!
Die klag van Maleagi se dae en die worstellinge in ons eie gemoed kry ‘n positiewe beantwoording in die Paaslied van Paulus in 1 Korintiërs 15: 57, 58: Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
Met ons name in God se gedenkboek word ons getroos. Hieroor kan ons bly wees. Kan ‘n mens hierdie blydskap in jou lewe sien? Ook as dit swaar gaan?