Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die ewige beginsels van God se Woord

AKTUEEL: Dit gaan om veel meer as 'n stad se naam 

SKRIFOORDENKING:
Mal. 3:16 Die name van die gelowiges....

Diskussie oor Ger. Skrifbeskouing

Aanhef tot Ierse Grondwet

Eenheid of verskeidenheid

Boodskap SJP Kruger aan kinders

Die betekenis van Heilige Doop

Motivering Openlike Verklaring GP Kerk Brakpan

KERKLIKE JOERNAAL: 
Woelinge in die NG Kerk kry nuwe klimaks

Behoudende predikante takel dwalinge by kweekskole

"The Da Vinci Code"

Openlike Verklaring - Die GPK Brakpan

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akkrediering en Registrasie - Ja of Nee?

Die "wortels" van Karate

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Liberalisme op Kerklike Terrein

Die gebruik van "Kinderbybels"

Stiltetyd

PERSRUBRIEK: Die ontstaan van verskillende soorte apartheid

Die Marxistiese insypeling in die Gereformeerde Belydenis

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Die Afdanking van Zuma

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van die Sadduseërs

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 9  No 4 Julie 2005

DIE MARXISTIESE INSYPELING IN DIE GEREFORMEERDE BELYDENIS

-  BAS GOED HART IN: "DIE ADEL VAN JOU NAAM": SUID_AFRIKA - WENTELPUNT VAN WêRELDSTRATEGIE  -

(UITGEWER: BOEKHANDEL DE JONG, JOHANNESBURG 1972, BL 75 VV)

"'Eenheid' en 'solidariteit' is tipies Marxistiese begrippe, soos dit tipies Marxisties is om te praat van 'strukture', waar dit om die menslike samelewing gaan."

Die kern van wat genoem word die "moderne teologie" kan teruggevoer word tot die gedagte van die eenheid van die mensheid. In die verlede het daar teologiese storme gewoed oor die wese van God, soos geopenbaar in die Drieëenheid. Maar in ons tyd is die nadruk, onder invloed van humanistiese, sosialistiese en kommunistiese teorieë, verskuif van God na die mens en die menslike samelewing.

Dit is 'n vrywel onbegonne taak om te probeer die "moderne teologie" in 'n sluitende stelsel eerlik en oorsigtelik saam te vat, omdat dié teologie so baie fasette het, dat met reg die ou gesegde "elke ketter het sy letter" hier van toepassing is. Maar in al hierdie fasette blink tog die begrippe eenheid en mensheid, wat in voortdurende wisselwerking tot mekaar voorgestel word. Hierdie koppeling is egter volkome onbybels, soos duidelik blyk as ons 'n poging waag tot ontleding van die Minderheidsrapport insake Rasseverhoudings, soos dit op die Gereformeerde Ekumeniese Sinode wat in 1968 te Lunteren, Nederland, gehou is, ingedien is. Dit is saamgestel deur 'n studiekommissie met as rapporteur die bekende hoogleraar in die Sendingswetenskappe aan die Vrye Universiteit te Amsterdam, prof dr J Verkuyl. Dié minderheidsrapport is ter Sinode met 30 teen 16 stemme verwerp, dit beteken dat 'n derde van die stemgeregtigde afgevaardigde sy gedagtesfeer as goeie gereformeerde teologie beskou het - wel 'n bewys hoe diep die Marxistiese denkwyse in die gereformeerde wêreld deurgedring het. Aangesien dit ondoenlik is om die hele rapport van elf digbedrukte bladsye aan te haal, sal ons hier en daar 'n greep moet doen.

Punt 7. "Die bybelse raamwerk wat ons moet help en lei met betrekking tot hierdie vraagstuk (van die verhoudinge tussen die rasse), het die volgende inhoud:

a. DIE EENHEID EN SOLIDARITEIT VAN DIE MENS-HEID. Alle mense is na Gods beeld geskape en is gelyk voor God. Dit is die boodskap van Genesis 1 en 2. Dit is 'n deel van die boodskap in Romeine 5. So ook in Handelinge 17 : 26: "Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die ganse hele aarde te woon". Hierdie boodskap van eenheid en solidariteit van die mensheid het die wêreld van die volkere onderstebo gekeer.

Hierdie boodskap, hierdie waarheid moet die toetssteen wees waaraan die sosiale, ekonomiese en politieke strukture gemeet moet word".

Wat 'n mens ook uit hierdie stelling kan lees, geen gereformeerde teologie nie. Nòg eenheid, nòg "solidariteit" is volgens die Skrif die kenmerk van die mensheid. Hierdie begrippe kom reëlreg uit die Marxistiese gedagtegang. Sekerlik, God het die mens na sy beeld geskape, maar dat hieruit sou volg dat alle mense "voor God gelyk is" - dit is humanistiese inlegkunde.

Daar is gelykheid voor God, ja, maar slegs in soverre dat die hele mensheid uit één enkele - Adam - deur God na sy beeld geskape is, en deur die één enkele se opstandsdaad teen God voor God doemwaardig is. Maar onmiddellik na die sondeval het God self 'n skeidslyn aangebring, en wel tussen die "saad van die vrou" en die "saad van die slang", selfs in die onversoenlike vorm van "vyandskap". Die "saad van die vrou" - dit is Christus en almal wat Hy geroep het om sy kinders te wees. Die "saad van die slang" - dit is die Satan en almal wat in sy sonde van opstand teen God wil bly en hom daarin navolg.

Hoe kan daar "solidariteit" wees tussen die kinders van die Lig en die kinders van die duisternis? "As die wêreld julle haat", sê die Here Jesus in Johannes 14, "moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle in die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle". En 'n bietjie later in die Hoëpriesterlike gebed, bid die Here: "Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U my gegee het, omdat hulle aan U toebehoort".

"Omdat Ek julle uit die wêreld uitverkies het" - op grond van hierdie Skrifopenbaring het Calvyn die gereformeerde leer van die uitverkiesing, die predestinasie ontwikkel. In sy Institusie sê hy daarvan:

Die predestinasie noem ons die ewige voorneme en besluit van God, waardeur Hy by Homself vasgestel het wat Hy wil dat met elke mens sal geskied. Want alle mense word nie met gelyke kondisie geskape nie. Vir sommiges word die ewige lewe, vir andere die ewige oordeel verordineer.

Hierdie predestinasie word nie slegs openbaar in die mens persoonlik nie, maar ook in die nasies. Hiervan het God 'n duidelike bewys gegee deur die verkiesing van die geslag van Abraham. Daar is ook 'n besondere verkiesing, waarin die genade van God nog meer openbaar word. Uit daardie geslag van Abraham het Hy sommiges verwerp, soos Ismael en Esau, ja, ten slotte byna alle tien stamme van Israel. Andere het Hy in sy kerk gehou en daarmee getoon, dat Hy hulle as sy kinders wil bewaar.

Die Skrif laat ons dus duidelik sien dat daar nie so iets soos "solidariteit en eenheid van die mensheid" is nie. Tog durf die teoloë wat die Minderheidsrapport saamgestel het en wat hulleself "Gereformeerd" noem, beweer dat "hierdie boodskap van eenheid en solidariteit van die mensheid die wêreld van die volkere onderstebo gekeer het". Hulle is reg - maar alleen omdat die wêreld só van die Marxisme besete is, dat die mense nie meer sien dat hier 'n volkome onskriftuurlike, revolusionêre stelling verkondig word nie.

Dit is merkwaardig om te sien dat die moderne eenheidsteoloë hulle ter stawing van hul standpunt altyd beroep op die eerste deel van Handelinge 17 : 26: "Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon" - maar nie wat daarop volg en die hele teks in 'n totaal andere perspektief stel nie: ". . . terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, SODAT HULLE DIE HERE KON SOEK, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie".

"Bepaalde tye", "die grense van hul woonplek" - lê hierin nie reeds die ongelykheid van die mensdom opgesluit nie? Die een volk het sy "bepaalde tyd" in die oudheid, die ander in die Middeleeue, 'n derde in ons tegnologiese eeu. En wat meer is: die een volk het sy "bepaalde tyd" onder die Christelike bedeling met sy openbaring van God, die ander onder die heidense bedeling, waarin Gods reddende lig nie straal nie. En wat betref die "grense van hul woonplek" - is daar goter ongelykheid denk-baar dan tussen die magtige Babilon en die "wurmpie Jakob, volkie Israel", soos God in Jesaja 41 sy volk aanspreek? En waar is die "gelykheid voor Gods aangesig" as die Here in Jesaja 43 sê: "Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe"?

Die revolusionêr-Marxistiese inslag is ook merkbaar waar die Minderheidsrapport onskriftuurlik-dogmaties dekreteer: "Hierdie boodskap, hierdie waarheid (naamlik dié van eenheid en solidariteit van die mensheid) moet die toetssteen wees waaraan die sosiale, ekonomiese en politieke strukture gemeet moet word".

"Eenheid" en "solidariteit" is tipies-Marxistiese begrippe, soos dit tipies-Marxisties is om te praat van "strukture", waar dit om die menslike samelewing gaan.

'n Struktuur is iets meganies, iets wat 'n mens maak, iets wat jy na beliewe kan opbou en afbreek. Dit is 'n swaargelaaide woord. Want dit impliseer dat al wat daar staan tussen die hede en 'n volmaakte maatskappy, slegs strukture is, wat maar net afgebreek, verbeter of herbou moet word om 'n paradyslike samelewing te bewerkstellig. In hierdie teologiese sienswyse word die almal en alles versiekende begrip "sonde" op die agtergrond geskuif om ten slotte heeltemal te verdwyn. Die onvolmaaktheid van die maatskappy word gesoek in die omstandighede waarin die mens verkeer, nie in die mens self nie. Dit is Christelik-klinkende napratery van pure Marxisties-materialistiese bog. Dink maar aan Friedrich Engels se stelling by die graf van Karl Marx: "Dit is nie die bewussyn van die mense wat hul syn bepaal nie, maar juis omgekeerd hul maatskaplike syn wat hul bewussyn bepaal. Die laaste oorsake van alle maatskaplike en politieke veranderinge moet nie gesoek word in die koppe van die mense, in hul toenemende insig in die ewige waarheid en geregtigheid nie, maar in die veranderinge van die produksie- en ruilwyse. Hulle moet nie in die filosofie (in oorwegings van lewensbeskoulike en teologiese aard dus) gesoek word nie, maar in die ekonomie van elke tydvak".

Eenmaal in hierdie dwaalredenering gevang, is die moderne vernuwingsteoloë lief vir 'n pragtig-klinkende woord wat hulle - of praat hulle ook hier maar Marxiste na - ge-smee het: "herstruktureer". Om "sosiale geregtigheid" te verwesenlik moet die samelewing herstruktureer word: hier die wet byskaaf, daar 'n sosiale onreg wegneem, ginds 'n "dialoog" open, elders weer ontwikkelingshulp verstrek. As dit nie voldoende blyk te wees nie, moet die hele maatskaplike struktuur maar teen die vlakte, en as dit nie anders kan nie, met revolusionêre geweld.

Die Bybel ken egter geen "strukture" nie, maar wel "lewensverbande". Die Bybelse maatskappybeeld het geen weet van meganies-gekonstrueerde politieke, ekonomiese en sosiale stelsels nie, omdat die Skrif uitgaan van die organiese samehang van die skepping.

Waar hierdie organiese samehang, wat die Skrif vir ons leer, misken word gaan die menslike denke skeef. So word daar volkome onskriftuurlik - om 'n skerpe woord van Calvyn te gebruik - "gebasel" in die Minderheidsrapport, naamlik in Punt 9:

Punt 9. "Ons glo dat volgens die Heilige Skrif die onderskeid tussen Israel en 'die volkere' die enigste onderskeid is wat tussen die mense 'n skeidslyn getrek het. Die skeidende funksie van hierdie onderskeid was van tydelike aard. Dit was die bedoeling van God dat dit in Jesus Christus teniet gedaan sou word. 'Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van afskeiding afgebreek het' (Ef 2 : 14). In die lig van hierdie boodskap oor Israel en 'die volkere' moet alle onderlinge verskil tussen die mense slegs as relatief beskou word. Dikwels is hierdie verskille sondig en die gevolg van die sonde. Geen enkele skeidingmakende betekenis mag aan hierdie verskille toegeken word nie".

Ongelooflik, dat teoloë wat hulle self gereformeerd noem, só gruwelik die Skrif kan mishandel! Allereers het die aangehaalde teks glad nie betrekking op skeiding tussen mense nie, maar op die skeiding wat deur die sonde tussen God en mense teweeggebring is. Dit blyk duidelik uit wat onmiddelllik daarna volg: ". . . deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep".

Volgens die Skrif is daar baie skeidslyne wat dwarsdeur die mensheid loop, nie net die skeidslyn tussen Israel en die volkere nie, reeds vanaf die instelling van "vyandskap tussen die saad van die vrou en die saad van die slang", 'n vyandskap wat tot aan die wederkoms van Christus sal bly bestaan. Of is daar geen onderskeid tussen hulle wat die merkteken van die dier op hulle regterhand en voorhoofde dra en die 144 000 op wie se voorhoofde die naam van die Lam en sy Vader geskrywe is nie?

En gee die Skrif nie duidelik skeidslyne tussen volkere aan nie? In die Volkeretafel van Genesis 10 word uitdruklik vasgestel: dit is die seuns van Jafet, van Gam, van Sem, "volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies".

Was daar geen onderskeid tussen die Nederland van die Reformasie en die Spanje wat aan Roomse bygeloof vasgeklou het nie? Was daar geen verskil tussen die vertrapte Nederland en die verdierlikte Duitsland van die Nazityd nie? Is daar geen onderskeid tussen Suid-Afrika wat God se almag in sy (1961) Grondwet bely en Sovjet-Rusland wat Hom dood verklaar het nie?

En as in Handelinge 17 gepraat word van "bepaalde tye" en "grense van woonplekke", wat is dit anders dan dat God bewustelik en opsetlik skeidslyne trek? Selfs die doel waarvoor Hy dit doen word duidelik gestel: "sodat hulle die Here kon soek". Met ander woorde: as God die skeidslyne van "bepaalde tye" nie sou gestel het nie, sou hulle nie in staat wees om Hom te vind nie. Dit was sekerlik straf toe die Here die volk van Babel oor die aarde verstrooi het, maar ook genade, al het die mens die lig van die Skrif nodig om dit in te sien.

Tot selfs in die hemelse Jerusalem toe sal daar skeidslyne wees, ook al word die geheel oorstraal deur die lig van die Lam: "En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin"

Kom ons doen nòg 'n greep in die Minderheidsrapport.

Punt 13. "Die kerk is na God se bedoeling die eersteling van die nuwe mensheid. Daarom is dit die roeping van die kerk om te wees soos 'n sout, 'n suurdeeg, 'n lig, ook in die verhouding tussen die rasse. Binne die kerk vind die eenheidvan die mensheid sy duidelike openbaring in die gemeenskaplike deelneming aan die Nagmaal van die Here, wat 'n teken is van die gemeenskaplike band aan die verlossing deur Jesus Christus geskenk. Dit is moontlik dat verskille in taal of kultuur die vorming van afsonderlike gemeentes, dikwels met hulle eie vorm van prediking en erediens, raadsaam maak, gesien vanuit die sendingsituasie of uit pastorale oorwegings. In hierdie gevalle kan dit verstandig wees om nie 'n uitwendige vorm van eenheid te forseer nie, maar die verskeidenheid binne die kring van God se volk te erken.

Andersyds kan ewewel die gesamentlike viering van die erediens deur mense met 'n uit oogpunt van ras verskillende agtergrond, 'n positiewe betekenis hê as 'n teken van die dieper eenheid van die kerk en op hierdie wyse tot voorbeeld wees aan die samelewing in sy geheel.

In elk geval moet duidelik wees dat rasverskille as sodanig, los van ander oorwegings, nooit 'n legitieme motief kan wees vir afsonderlike kerkdienste nie. Bowendien mag die erkenning van 'n sekere verskeidenheid binne die kerk slegs van 'n betreklike en tydelike aard wees; in die kerk moet 'n oop situasie bestaan, waarin geen vasgestelde grens die samegroeiing tot 'n meer volledige eenheid kan belemmer of die demonstrasie van die eenheid deur middel van gesamentlike kerkdienste onmoontlik kan maak nie. Die eenheid van die kerk moet so spoedig moontlik en so volledig as wat die omstandighede dit toelaat, tot uiting kom in gesamentlike viering van die erediens, met inbegrip van die Heilige Nagmaal".

In gemoede: waar haal die moderne gereformeerde teoloë dit vandaan dat "die kerk na Gods bedoeling die eersteling van die nuwe mensheid" is? Gods Woord ken slegs één eersteling: Christus - die Eersgeborene uit die dode, nie die "eersteling van die nuwe mensheid" nie. Daar sal 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde kom, maar die mensheid - dit wil sê, hulle wat daarvan gered word - bly as herkenbare persone tot in ewigheid dieselfde, selfs tot die liggaam toe, wat sal opstaan in heerlikheid.

En dis nie wáár dat "binne die kerk die eenheid van die mensheid sy duidelike openbaring in die gemeenskaplike deelneming aan die Nagmaal van die Here" vind nie. Daar word in die Nagmaal niks geopenbaar nie, en as daar in die Nagmaal iets tot uiting kom dan is dit die eenheid in Christus van dié wat in Hom glo, soos saamgebundel in die plaaslike gemeente, nie die eenheid van die mense nie.

Die Nagmaal is volgens die Skrif nie 'n "teken" van enigiets nie. Dit is, soos die Here Jesus self gesê het, 'n gedagtenismaal, en in die woorde van die Nagmaalsformulier, " 'n gewisse aandenking en pand" om Christus se hartlike liefde en trou jeens ons te verseker.

In die bewering dat die Nagmaal bedoel is as 'n "demonstrasie van die eenheid" breek 'n ongereformeerde, kerkistiese begrip deur wat die eenheid en selfstandigheid van die plaaslike gemeente ten enemale loën. Hier word 'n kunsmatige eenheid geleer, wat nêrens in die Woord steun vind nie. Die Nagmaal is deur ons Here ingestel as 'n liefdemaal tot gedagtenis van sy dood en tot versterking van ons siele. Die opvatting dat die Nagmaal 'n demonstrasie van watter soort ook al sou wees, as altyd deur die ware gereformeerdes verwerp. Selfs die Gereformeerde Ekumeniese Sinode, wat tog kerke omvat wat op dieselfde belydenis gegrond is, het om dié rede besluit geen "Sinodale" Nagmaal te hou nie.

Die Christengelowige hóéf, Goddank, die eenheid van Christus se kerk nie te "demonstreer" deur aan alle moontlike tussenkerklike dienste en Nagmaalsvieringe deel te neem nie. Want as hy, heel doodgewoon, deelneem aan die Nagmaal en die erediens in die gemeente van die plek van sy inwoning, die gemeente waartoe hy plaaslik behoort, dan bely hy daarmee sy eenheid met sy Here en al sy kinders oor die hele wêreld, van watter nasionaliteit of ras hulle mag wees. As dit nie so was nie, sou hy alle kerke en gemeentes ter wêreld moet afren om gesamentlik met hul-le Nagmaal en erediens te hou. En daarby sou hy gevaar loop om die suiwerheid van die belydenis te verwaarloos ter wille van 'n "demonstrasie" wat volkome wesensvreemd aan die gemeente van Christus is.

Al daardie ostentiewe gejaag na "eenheid" is so vreeslik gespanne, nerveus, so teennatuurlik. Ek weet één ding: dat ek eens, met al God se uitverkorenes, die Lied van die Verlostes sal sing, nadat my sterflike liggaam onsterflikheid aangedoen het. In hierdie lewe moet ek dit doen in die gebrokenheid van die menslike bestaan, waarvan ook ek 'n deel is - en bowendien: dit is juis die heerlikheid van die gereformeerde belydenis dat ek die saligheid nie hoef te verdien deur eindelose "demonstasies" vir of teen wat ook al nie, want alles is louter genade. "Want in Hom leef ons, beweeg ons en is ons" - dit is 'n vasstaande feit, wat geen demonstrasie nodig het nie!

Ten slotte - dis 'n vermoeiende besigheid om kettery te ontleed, maar dit moet nou eenmaal gebeur! - kyk ons na nog 'n beslissende punt van die Minderheidsrapport.

(Vervolg van hierdie aktuele kopie in ons September-uitgawe)