|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 2 Maart 2002
Aktueel
350 JAAR GEREFORMEERD - DS MC ADENDORFF - OORSPRONKLIKE PUBLIKASIE IN DIE BOODSKAPPER, APRIL 2002 (BL 5Met die oog op die landwye herdenking onder die tema 350 Jaar gereformeerd stel ds Adendorff voor dat herdenking van die volksplanting moontlik op Saterdag 6 April en die planting van die gerefor-meerde geloof op Sondag 7 April kan geskied. Vervolgens skryf hy:
In sy wysheid het God dit so beskik dat die Rooms- Katolieke seevaarders van Portugal nie belanggestel het in die Suidpunt van Afrika nie. Die mooiste Kaap ter wêreld is deur God verkies as wieg vir die Afrikanervolk, en nog belangriker, as bodem waar die gereformeerde geloof in Afrika geplant is.
Op menslike vlak het handelsmotiewe die deurslag gegee. 'n Aantal maatskappye is in 1602 in Nederland op federale grondslag verenig as Die Verenigde Nederlandse Geoktrooieerde Oost-Indiese Kompanjie (VOC), met as hoofdireksie Die Here XVII. In 1650 besluit hulle (Die Here XVII) om aan die Kaap een rendevouz en sterckte op te rig - met ander woorde 'n verversingspos waar hulle skepe kon aandoen vir vars water en kosvoorrade, en terselfdertyd ook, waar nodig, herstelwerk kon onder-gaan. Daarbenewens kon die matrose daar rus en herstel. Van 'n volksplanting was daar in dié beplanning geen sprake nie.
Uit verslae wat voor Die Here XVII gedien het, nog voor die sending van Jan van Riebeeck, blyk duidelik dat nie net geld nie, maar ook geloof 'n woord meegespreek het. Janszen en Proot sê ondermeer in hulle verslag dat dit duidelik is dat die inboorlinge wel die Nederlandse taal sal aanleer. Deur goeie verhoudinge met hulle te handhaaf, kan mettertyd van hulle kinders in diens geneem word en in die Christelike godsdiens opgevoed word.
"waer door als Godt Almachtigh dese goede saecke geliefden te zegenen ... veel sielen tot de Christelijcke gereformeerde religie ende Godt toegebracht werden."
Voorts, lui die verslag, sal die oprigting van 'n fort en 'n tuin nie alleen strek tot die voordeel van die VOC nie, maar ook tot behoud van vele menselewens, tot die grootmaking van God se allerheiligste Naam en die voortplanting van die heilige Evangelie.
'n Tweede verslag wat deur Jan van Riebeeck self in 1651 opgestel is, bevestig dié beklemtoning van die voortplanting van die Christelike godsdiens.
Ter uitvoering van die besluit van Die Here XVII kom Jan van Riebeeck en sy geselskap op 6 April 1652 in die Kaap aan. In sy gebed hoor ons weer die vroom verlange:
"... ende onder deze wilde brutale menschen mogelijck sijnde, Uwe ware gereformeerde Christelijcke leere metter tijt mochte voortgeplant ende verbreijt worden, tot Uwes Heiligen naems loff ende Eere ..."
Twee jaar na hulle aankoms lê Jan van Riebeeck 'n gelofte af wat vertaald so lui:
"Waar dit vandag die tweede verjaardag is van die dag waarop ons deur die Here gelei met die skepe Drommedaris, Reyger en Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters (Die Here XVII) te bou en te bestendig, en opgelet het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wesne laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die sesde April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot 'n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering.
In hierdie gelofte skemer daar tog iets deur van 'n verwagting van permanensie in die vestiging van Nederlanders aan die Kaap. Wie anders moes waar anders die dank- en biddag handhaaf?
Of Jan van Riebeeck gesnap het dat hulle vestiging hier die geboorte van 'n nuwe volk is, is eintlik nie ter sake nie.Wat ter sake is, is dat God dit wel so beskik het, en dat ons steeds deel van daardie volk mag wees, en dat ons steeds dankbare belyers is van die kosbare geloof wat God deur sy Woord en Gees , geslag na geslag onder Afrikaners, en veral deur hulle ook onder ander volke hier te lande verbrei het.
Die huidige afval, ongeloof en naloop van afgode deur vele gewaande volksgenote vloek natuurlik teen die gebed en gelofte van Jan van Riebeeck, ja ook teen God en sy Woord. Maar vir ons wat glo, is dit 'n kosbare erfenis. Kom ons maak daarvan 'n vreugdevolle fees op 6 en 7 April 2002, tot eer van die Here, Beskikker van die lotgevalle van volke en nasies.