Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 2 Maart 2002
DR ANDREW MURRAY
Terwyl daar gewag gemaak word van die toekenning van die Andrew Murrayprys, vanjaar aan prof TT Cloete, is dit goed om kennis te neem van wat hierdie gevierde predikant vir die NG Kerk beteken het. In 'n publikasie van 68 bladsye oor "Nuwe Ongeloof" (Pretoria: Sentik 2000) beskryf Prof dr (em) HG van der Westhuizen (NHK), hom soos volg (bl 16 - 19):
Soos ons Kerk (Die Nederduitsch Hervormde Kerk) rondom 1962 'n stryd gehad het met modernistiese ongeloofselemente by prof AS Geyser, het die NG Kerk rondom 1862, 'n eeu vroeër, 'n stryd teen die nuwe ongeloof gehad.Veral ds JJ Kotzé van Darling, ds TF Burgers van Hanover en DP Faure, wat toe nie eers predikant in die NG Kerk kon word nie, was voorpraters van die nuwe ongeloof in daardie tyd.
Dr Murray
Dr Andrew Murray was die moderator toe Kotzé en Burgers op die sinode skuldig bevind is. Die NG Kerk se advokaat het ongesteld geraak net voor die hofsaak moes begin wat Kotzé teen die kerk aanhangig gemaak het. Murray het toe self die advokaat se werk gedoen. Daarvan het die regter gesê: "Er zijn weinig advocaten die het even goed hebben kunnen doen."
Met dieselfde bekwaamheid het Murray ook teen die saak van Burgers self die verdediging waargeneem, met dieselfde lof van die regter.
Nadat DP Faure uit Nederland van Scholten-hulle terug is, het hy op uitnodiging wel in die Groote Kerk op die aand 25 November 1866 gepreek. Sy teks was Matteus 22: 37-39 - die dubbele liefdesgebod. Self het hy gesê dat hy sekere dinge in verband met Jesus nie gesê het nie: "Oor die godsdiens van Jesus sou ek preek, maar nie oor die aanbidding van Jesus nie".
Faure het die stigter geword van 'n eie kerkorganisasie, die Vrye Protestantse Kerk. Sy redevoerinngs is later in 'n boek gepubliseer: De Moderne Theologie.
Dr Murray het op baie ewewigtige wyse op weeksaande in die Groote Kerk Faure se redevoerings ontleed. Hiervan het Faure self gesê: "... Mr Murray's lectures were far superior to those previously referred to, and they regressent the only serious attempt made to meet argument with argument."
Dr Murray was 'n seun van ds Andrew Murray van Graaff-Reinet, die eerste Murray in Suid-Afrika. Daar word gesê dat toe dr Murray moderator was, het sy vader, ds Andrew Murray, hom elke keer in die sinode as hoogeerwaarde aangespreek - soos die gebruik was van daardie tyd. Die hoogeerwaarde seun het dan klokslag sy vader staande aangehoor!
Voortrekkers en Murray
Voordat dr Murray predikant van Kaapstad geword het, het hy as predikant van Bloemfontein, van Bloemfontein af op sy eie, verskeie besoeke aan die Voortrekkers en lidmate van die Hervormde Kerk gebring. Sy eerste besoek was van 3 Desember 1849 tot ongeveer 21 Januarie 1850. Op Potchefstroom, Maga-liesburg en Zwartruggens is dienste gehou, kinders gedoop en Nagmaal bedien. In Oktober 1850 het hy ook Heidelberg en Lydenburg besoek. Sy derde besoek was saam met sy broer, ds John Murray, in April 1851. Sy swaer, ds JH Neethling van Prins Albert, het hom gedurende Maart en April 1852 in 'n amptelike deputasie vergesel tot in die latere Louis Trichardt. Op Saterdag 10 April 1852 is 54 kinders gedoop en 24 katkisante het belydenis gedoen in Zoutpansbergdorp. ...
Die Hervormde Gemeente Rustenburg se eerste beroep, toe hulle in 1850 gestig is, was op hierdie regsinnige Andrew Murray.
Dr Murray het in Kaapstad na Faure se redevoerings as Toesprake verwys. Sy eie dertien leerredes, waarin die nuwe ongeloof met die kerklike leer as dwalings uitgewys is, is getiteld: Die Moderne Ongeloof. Dit is in 1868 gepubliseer. Uit hierdie werk van 'n geloofwaardige regsinnige van byna 'n eeu en 'n half gelede, sal ons vrylik aanhaal.
... Ons moet daarop let dat die aktualiteit van die nuwe ongeloof nie maar histories van belang is nie, maar steeds te midde van die postmodernisme ook in ons Kerk vandag verder kanker.