|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 2 Maart 2002
Hoofartikel
Ons lewe in 'n gebroke wêreld. Dit geld sowel die persoonlike as die maatskaplike, die materiële, maar ook die geestelike bestaan. ''Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek'', sê Paulus in Romeine 7 : 19. Die gebrokenheid raak nie slegs die ongelowiges nie, maar ook die Christene wat poog om uit die geloof en tot eer van Christus te lewe. Ons bevind ons op die grens van twee wêrelde wat op verskeie wyses ervaar word. In die Bybelse tyd het die volk Israel dit ondervind deur enersyds onder die gesag van God se gebooie, wat op die berg Sinai afgekondig is (Ex 20) te staan en om tegelykertyd aan die sedes en gewoontes van die vyandige heidense buurvolke en stamme blootgestel te wees. Dat die weerstand daarteen nie altyd suksesvol was nie, blyk uit die geskiedenis, dat God sy verbondsvolk aan laasgenoemdes se tugtiging oorgelewer het, as hulle nie by Sy insettinge en verordeninge vasgestaan het nie en Sy diens verontagsaam het. Dis nodig om daaroor te besin in die teenswoordige omstandighede van ons bestaan.DIE GRENS VAN TWEE WêRELDE
Die lewe word gekenmerk deur 'n dualisme (tweeslagtigheid), oor die normatiewe teenoor die praktiese werklikheid. Daar bestaan uiteenlopende benaderings. Is die feitlike omstandighede, dit wat ons ondervind, wat ons kan waarneem en ontleed, normatief vir die voorskriftelike inkleding en leiding van ons daaglikse bestaan? Of is daar 'n hoër gesag waaraan die samelewing behoort te beantwoord? Ons lewe as Christene in 'n wêreld van teëstellings.
In die ou Griekse wysbegeerte was dit veral Plato, maar ook Aristoteles, wat die bestaande werklikheid onderskei het van die "Idees" wat hulle vanuit hul heidense denke oor die ideale samelewing gefilosofeer het. Plato's bekende werk Politeia (Die Staat of Die Republiek) vertoon 'n vorm van dualisme. Volgens hom was die Idee die ware werklikheid - ewig, onveranderlik en onvernietigbaar. Die Staat was die belangrikste faktor vir die welsyn van die menslike bestaan. By hom het dit gegaan oor die begin, oorsprong en doel van die staat vir die hele denke en doen. Feitlik kom dit daarop neer, soos wat dit ook tans in die praktyk omgesit word, dat die staat die mense vorm en lei soos wat dit vir die regeerder (soms 'n tiran) nodig geag is.
Net so het Karl Marx, ook sy ideale staat beredeneer aangaande die sosialistiese stelsel wat hy in sy bekende werk: Das Kapital uiteengesit het. Verander die wêreld volgens die ideologie waaraan jy glo, wat jy desnoods deur middel van gewelddadige onderwerping of verowering bevorder, dan sal daar 'n beter wêreld kom. Dis ook die geval met die ANC se "Freedom Charter", die Vryheidsmanifes, wat op 26 Junie 1955 te Kliptown aanvaar is.
Ongelukkig het die Rooms-Katolieke Kerk in die persoon van Thomas van Aquino (die Griekse wysheid gechristianiseer. Volgens sy teologie wortel die staat in die natuurlike lewe, soos dit deur God geskape is. Opnuut die dualisme soos dit by Plato aangetref is. 'n Hoëre werklikheid, die Roomse Pous wat as die plaasvervanger van Christus, bokant en buite die daaglikse lewe staan en bestaan. Die amptelike diens van die kerk versoen op dié wyse en deur middel van die sakramente die natuurlike met die bonatuurlike bestaan.
Daar bestaan vandag ook in die Christelike kerke 'n hang na dualisme soos dit deur die Rooms-Katoliekes tot vandag toe gehandhaaf word. Aan die een kant om die kerk te gebruik om die sake van die staat en breë samelewing te versoen sonder die herskeppende verlossingswerk van Jesus Christus daarin te betrek. Die staat word met die mag wat aan hom toevertrou is, as 'n saak op homself beskou. Dis 'n kwessie van rasionaliteit, van gesonde verstand, om dit te bestuur en te regeer met wetgewende en uitvoerende magte sonder die betrekking van God se Woord en wetgewing. Die fundamentele basis van die staat is menseregte, wat ongelukkig deur sekere (Gereformeerde!) teoloë gechristianiseer en versoen word, sonder om net soos in die Rooms-Katolieke Kerk, die herskeppende verlossingswerk van ons Here Jesus Christus daarby te betrek. Dis 'n oorskryding van die grens tussen die twee wêrelde waarin ons lewe en in ons daaglikse bestaan verkeer en worstel. Vandaar dat die beginsels en die praktyk vir die wetgewing en regering van ons land berus op rasionale oorwegings waarby die feite en liberale doelstellings deurslaggewend is.
Het God se Woord nog 'n werklike gesag vir die norme en doelstellings van ons daaglikse bestaan? Wat is die boodskap van die kerk vandag? Die Skrifkritiese teologie, wat die historisiteit en betroubaarheid van God se Woord betwyfel dra in 'n sterke mate by om 'n tweeslagtige wêreldbeskouing (dualisme) te huldig. Die Bybel lewer dan immers geen gesaghebbende uitsprake meer met betrekking tot die norme en beginsels van die staatslewe nie?
Hoe staan sake vandag? Glo ons nog aan die gesag van God se Woord? Glo ons nog dat God regeer? Of is daar in die praktyk vandag twee terreine, die een waarop God (in die kerk en ons persoonlike lewe) gedien word en die ander van die staat en breë samelewing waarin die praktiese oorwegings en liberale wetgewing vir die materiële, ook vir die herstel van ons ekonomiese omstandighede en vermindering van misdaad en geweld, deurslaggewend is? Vertrou ons met die oog op die persoonlike en algemene veiligheid op 'n toekoms wat deur menslike idealisme verbeter kan word? Of is daar die vurige gebed dat die Here ons krag, bystand en wysheid sal verskaf om in sy diens te staan en ons lewe aan Hom toe te wy?
In hoeverre oefen die Woord van die Here nog gesag uit in ons persoonlike lewens en in dit van sy Kerk? Staan ons nog vas by die belydenisskrifte en die goeie tradisies van die Kerk? Of is ons ook op daardie terreine reeds dualisties? Word die Woord van die Here nie reeds onderwerp aan rasionalistiese kritiek nie en word die Kerk nie blootgestel aan ondermyning deur mensgerigte veranderings nie?
Die Here het in sy Woord die norme en reëls uitgespel waaraan sy verbondsvolk behoort te beantwoord. Dit betref alle terreine van die lewe. Daar is geen duimbreed wat nie aan God behoort nie. Daarom behoort ons te besin oor die toekoms van ons land en volk, oor ons persoonlike en kerklike bestaan.
As ons nie vir hierdie lewe die normatiewe gesag van God se Woord aanvaar nie en slegs aan God se Woord glo met die oog op die toekomstige ewige heerlikheid, dan is ons dualisties net soos Plato, Karl Marx en die ANC, wat almal 'n hoër ideaal aanvaar om die aardse daarna te rig. Maar God se gesag geld ook oor die aardse, die daaglikse bestaan.
Ons stryd is derhalwe geen aardse, rasionalistiese en ideologiese stryd om verbetering van omstandighede nie, maar om God se heerlikheid en sy mag te proklameer in die huidige beroerde omstandighede. Daarom kan ons nie saamgaan met die ANC en sy sosialistiese wetgewing nie. Daarom berus ons verwerping van die regeringstelsel nie uit revolusionêre en selfsugtige oorwegings nie, maar is dit prinsipieel gemotiveerd. Vandag se regering vra nie na die Woord van die Here nie en onderwerp hom nie daaraan nie. Dit is opportunisties om hierdie owerheid te ondersteun in sy aftakeling van die Christelike godsdiens, dit betref veral die terreine van die onderwys en sedewette.
Let wel dat daar 'n verskil is tussen aktiewe burgerlike ongehoorsaamheid en 'n vorm van verset in die weerhouding van ondersteuning.
Die doelstellings van die regerende party, die ANC, is onversoenbaar met ons Chriselike lewensoortuiging. Daar ontwikkel 'n tendens in die samelewing om onverskillig te raak oor die sake van hoër (Bybelse) belang. Dit raak ons kinders wat sodoende maklik afvallig raak van die Verbond. Daarom is dit prinsipieel noodsaaklik om te onderskei waarop dit aankom.
Die Here skenk in sy Woord die norme waaraan die samelewing van die kerk en die staat behoort te voldoen. As dié norme op die verskillende terreine geskei word, dan val ons terug in die dualistiese dwaling van die Rooms-Katolieke Kerk. Dit is ontoelaatbaar!