|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 2 Maart 2002
MEDIESE ETIEKDIE TWEEDE BEDE TYDENS SIEKTE EN GENESING
Laat u koninkryk kom ...
- DR MC DURAND -
Die gereformeerde gelowige word dikwels gekonfronteer deur die sogenaamde geloofsgenesings. Die gedagte is dat indien n sieke werklik glo en bid om genesing, God die genesing sal skenk. God roep sy gelowige kinders egter om al hul gebede te toets aan die gebed wat Hy vir ons geleer het in Mattheus 6 en Lukas 11. Die gelowige se hoogste doel is die heiliging van die Naam van God (1 Kor 10 : 31). Derhalwe word die gelowige opgeroep om vir sy daaglikse brood te bid nadat hy eers vir die heiliging van die Naam van die Here gebid het. Die mens is vanweë die sonde en die ryk van die Satan nie in staat om uit sy eie die Naam van God te heilig nie. Die mens se boosheid laat hom nie toe om homself uit die ryk van die Satan te verlos nie, daarom leer die Here Jesus Christus sy kinders om in die tweede gebed te bid dat die Koninkryk van God na hulle sal kom.Wat beteken die gebed van die gelowige sieke wanneer hy bid: "Laat u koninkryk kom"?
Die besef van sy eie onvermoë:
Die siekte herinner die sieke aan sy liggaamlike broosheid en onmag. Die aftakeling van die siekte verminder die liggaamlike reserwes. Die sieke is nie meer n onafhanklike, behendige self meer nie, maar alhoemeer afhanklik, weerloos en 'n verleë pasiënt. Die grense wat die eie persoon van die buitewêreld geweer het, word afgebreek. Die mediese fonds wat tydens sy gesondheid soveel troos gebied het, maak die diagnose nie ligter nie. Die brawade van krag is besig om te kwyn. Die aansprake op pasiënte se outonomiteit en seggenskap in die behandeling word betekenisloos. Hoe langer en ernstiger die siekte word, hoe skraler word die selfverlossing. Die toenemende dreiging van die lyding bring angs. Daar kom onrus by die sieke, en sy gees smag na uitkoms.
Die gelowige weet egter waar sy hulp vandaan kom. Die siekte maak die besef van eie onvermoë makliker. Terwyl die hele wêreld buite die bereik van die pasiënt gly, word dit by die gelowige duideliker dat slegs die Woord van God ewig, waar en vas is. Slegs in die Woord bring God deur sy Gees sy redding aan die mens. Die siekte maak dit duidelik, tasbaar en sigbaar dat slegs God ons hulp is (Ps 102). Die gelowige sieke word herinner dat al sy hoop op God is. Die siekte maak dit vir die gelowige makliker om te verstaan. Sy enigste hoop is om van Godsweë deur sy Woord en Gees geregeer word. Die siekte maak dit makliker op daarop te hoop. Daarom bid die gelowige nou dat die koninkryk van God sal kom, naamlik deur die prediking van die Evangelie, die berou van sy sondes, die bekering tot God, die vermeerdering van die geloof. Hy sal nie die Naam van God kan heilig sonder dat die koninkryk van God na hom kom nie.
Die bede vir die kerk.
Aangesien die enigste troos die Here Jesus Christus is, wat die Koning van sy koninkryk is en Hoof is van sy Kerk, sal die gelowige sieke nie eerstens bid vir sý liggaamlike gesondheid nie, maar eers sy oë ophef na sy Meester, die Here Jesus Christus. Daarom sal hy eers bid vir die liggaam van Christus, naamlik die Kerk. Nie eerstens die voortgang en groei van die eie liggaam nie, maar die voortgang en groei van die liggaam van die Here. Die gelowige sal bid vir die toename van die ware Kerk in getalle, die suiwerheid van die leer, die aftakeling van die eiesinnige godsdiens, die bekering van die huigelaars - naamlik die bewaring van die Kerk teen die aanvalle van die bose.
Die bede vir die hele wêreld.
Die gelowige sal nie eerstens bid om die vernieting van die indringende siektes van sý lewe nie, maar eerstens bid om vernietiging van die indringers en rowers van die koninkryk van die Here. Die gelowige sal bid dat die werke van die duiwel en al diegene wat bose planne teen die heilige Woord van God bedink vernietig sal word. (1 Joh 3:8; Rom 16:20). Die gelowige sal bid vir die gehoorsaamheid aan die wette van God, en dat die Gees hierdie wette op die harte van almal sal skryf en die heidene tot bekering bring en sodoende die werke van die bose (hetsy die huigelaars in die Kerk, hetsy die openbare vyande van God, naamlik die Jode, Mohammedane en almal wat die duisternis meer liefhet as die lig) sal uitdelg. Die gelowige weet dat aangesien God die Skepper en Regeerder van alle dinge is, die Here derhalwe alles kan gee wat hy nodig het na liggaam en siel. Hierdie wete bring by die gelowige sieke hoop sowel as troos: Hoop omdat hy weet dat aangesien God alles in Sy mag het, ook genesing kan skenk.. Troos omdat hy weet dat selfs sy siekte deel van God se ewige plan is (al kan ons die doel daarvan nie altyd verstaan nie), en niks buite Sy mag kan gebeur nie. Die siekte en dood is ook deel van God se regverdige Raadsplan.
Die bede vir die voleinding.
Die gelowige sien uit na die koninkryk van heerlikheid wat op pad is. Daarom bid hy vir die bespoediging daarvan. Wanneer God alles in almal sal wees. Geen kastyding sal meer nodig wees nie, geen tugroede tot bekering nie (vergelyk Ps 119 : 65 - 72). Geen smagting om uitkoms nie, geen traan of lyding nie (Joh 14 : 3, 12 : 26; 17 : 24; 1 Tess 4 : 17). Daar sal geen siektes of dood meer wees nie.
Die gelowige sal nie verblind wees deur die leuens van die Satan nie. Hy sal weet dat daar slegs geluk kan wees in die komende koninkryk van God. Die gelowige wat verlos is van die koninkryk van die Satan sal meer kan verwag as net die dood. Die dood bring vir die sterwende gelowige terselfdertyd die toegang tot n hemelse feesmaal - die voortsetting van die ewige lewe wat reeds op aarde begin het (Rom 6 : 22). Die gelowige wie sy lewe op hierdie aarde kon behou, mag met dankbaarheid sy taak in die Kerk sowel as sy taak tot oorwinning van die wêreld in die Here Jesus Christus voortsit en die Naam van die Here heilig.
Die gelowige weet dat sy gebed om die koms van die koninkryk van God nie tevergeefs is nie, want hy weet dat God hom beveel het om so te bid.