|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
Aktueel
FREEDOM PARK DRA ANTICHRISTELIKE KARAKTER
- JAKKIE BASSON, IN: DIE AFRIKANER, 30 JANUARIE 2004 -
HEIDENSE rituele wat by die ANC se Freedom Park op Salvokop net buite Pretoria uitgevoer is, dra ‘n tipiese anti-Christelike karakter waarmee ‘n Afrikaner en ‘n Christen hom hoegenaamd nie kan vereenselwig nie. Die okkultiese speel ‘n deurslaggewende rol wat dit ‘n kenmerkende Afrika-gees verteenwoordig.
Die projek is van stapel laat loop in die gees van "reiniging, gesondmaking en herstel", wat tipies is van talle projekte wat die kommunistiese ANC al geloods het, en wat kenmerkend is van hul heidense ingesteldheid. Dit spruit ook voort uit aartsbiskop Desmond Tutu se "Waarheids- en Versoeningskommissie". Tutu was al by meer as een geleentheid die voorganger by sinkretistiese gebedsgeleenthede waar verteenwoordigers van verskeie godsdienste voorgegaan het om tot hul gode te bid, met die veronderstelling dat almal tot dieselfde god bid, maar net volgens verskillende bedieningswyses. So was Tutu ook die "Christelike" voorganger tydens die inhuldiging van Nelson Mandela as president in 1994.Benewens die godsdienstige funksie wat op 16 Desember 2003 plaasgevind het, waar "reiniging, gesondmaking en herstel" die tema was, was daar ook al ‘n soortgelyke byeenkoms op 25 Mei 2003 tydens die 40-jarige herdenking van die bestaan van die OAE in Bloemfontein. Dieselfde grondslag is ook aanvaar vir die verrigtinge by Salvokop op 16 Desember verlede jaar, soos bevestig deur ‘n verklaring van Wally Serote as woordvoerder van die ANC.
Tydens daardie geleentheid in Bloemfontein is die doelstellings van hierdie heidense funksies duidelik uitgespel. Verskillende kulturele en godsdienstige groepe sou daarna in die nege provisies asook in Botswana en Mosambiek byeenkom om die gebiede te reinig van die sewe demoniese magte wat konflik veroorsaak. Hulle het neerslag gevind in verskynsels en gebeure soos slawerny, volksuitwissing, weerstand, bevrydingstryd, Anglo-Boereoorlog, Eerste Wêreldoorlog en Tweede Wêreldoorlog. Daar is gesê dat hierdie konflikgebiede die gedeelde pyn van die verlede uitbeeld, en help om ‘n gemeenskaplike bewustheid en begrip te midde van diep kulturele verskille te kweek wat die verskillende bevolkingsgroepe nader aan mekaar moet bring. Juis daarin lê die potensiaal van versoening. Dit is die rol wat die Tutu-kommissie moes speel om hierdie doelstellings ten uitvoer te bring.
Kenmerkend van die byeenkomste is bloedrituele waar diere geoffer is om reiniging te bewerkstellig, intergeloofgebede waaraan ook "Christene" deelgeneem het, intergeloofdanksegging, Boeddhistiese dreunsang, Christelike liedere, Afrikarituele, verbranding van bossies en muti, besprenkeling van die grond, Afrikadanse en -rituele en uitdeel van tradisionele medisyne vir gesondmaking.
Die geleenthede is bygewoon deur die nege provinsiale premiers, regeringsverteenwoordigers, verteenwoordi-gers van politieke partye en Christelike denominasies soos die Anglikane, Rooms-Katolieke en ander, asook godsdiensverteenwoordigers van Boeddhiste, Moslems, voorvadergeeste-aanbidders en rastafariërs.In Bloemfontein is ‘n monument opgerig om die helingsproses te gedenk. Dit sluit in ‘n tuin waarin gemediteer kan word.
Na afhandeling van die seremonies het geestelike en politieke leiers ‘n verklaring onderteken wat die ACDP darem geweier het om te doen. Van die opmerkings wat gemaak is tydens die verrigtinge, is dat die son, maan en sterre al hul kinders byeenroep om met die gesondmakingsproses te begin, die voorvadergeeste van die Boesman-Hottentotte gevra is om die teenwoordiges en die verrigtinge te seën, en Koranamedisyne beskikbaar gestel is om die Tokolos af te skrik.Daar is uitdruklik verklaar dat hierdie doelstellings wat hier in Bloemfontein geformuleer is, die grondslag moet vorm vir die Freedom Park, en dit was dan ook die uitgangspunt van die feesvieringe by Salvokop op 16 Desem-ber verlede jaar. Dit het gekulmineer in ‘n hele week van gesamentlike aanbidding van alle godsdiensgroepe vanaf 10 tot 16 Desember 2003.
Die Morele Herbewapeningsbeweging is nou verweef met hierdie verrigtinge en koester die ideaal dat dit sal uitloop op die geestelike vereniging van alle inwoners van Suid-Afrika. Hierdie beweging moes ook die leiding neem om die verskillende godsdienstige groepe voor te gaan in die reinigingsrituele. Verteenwoordigers van verskillende politieke party moes daarna ‘n verklaring onderteken waarin hulle hul solidariteit met die ideale, soos verteenwoordig in die oprigting van Freedom Park, betuig. Die doel is dat dit ‘n simbool of selfs ikoon moet word vir die vryheid van die ganse mensdom, aldus die ANC.
Tydens die funksies in die nege provinsies was die voorgangers veronderstel om as simbool van "reiniging, gesondmaking en herstel" grond van die grafte van diegene wat tydens die sewe konflikte omgekom het, te neem en na Freedom Park te bring waar dit dan as ‘n nagedagtenis versamel sal word. Dit sal deel uitmaak van die Tuin van Herinnering wat by Freedom Park ingerig sal word.
Dit moet gepaard gaan met ‘n politieke verbintenis van verteenwoordigers van die verskillende politieke partye wat hulle skriftelik moet onderteken. Die plan is dan ook om standbeelde en ander herinneringsimbole van alle groepe in die land by Freedom Park op te rig onder die sambreel van hierdie heidense, onchristelike aksies van "reiniging, gesondmaking en herstel".