|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
BEGIN MET 'N OPENLIKE AKSIE VIR VOORLIGTING VAN LIDMATE EN AMPSDRAERS IN HUL KERKVERBANDBEHOUDENDES IN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK
Hierdie aksie is bekendgestel en verskyn op 'n E-poslys onder die titel Leer- en Lewenskwessies. Die eerste uitgawe is gedateer Januarie 2004 en 'n tweede het verskyn in Februarie. Die redaksie bestaan agtereenvolgens (soos dit vermeld word) uit: Prof dr AD Pont, Ds PH Viljoen (sekretaris), Dr JJ Steenkamp, Dr JH Breytenbach, Ds PJ van der Merwe, Ds MM de Kock, Ds W Olivier, Dr C Pretorius, Prof dr HG van der Westhuizen. As Uitgewer word genoem die HCM Fourie-Stigting. Adres van die Redaksie: Posbus 20, Stella 8650. Die aksie is as volg in die Januarie-uitgawe bekendgestel:
Dit is noodsaaklik dat lidmate en ampsdraers wat al meer onvrede het met afwykings van ons Bybels-Reformatoriese tradisie met mekaar kan kommunikeer. Dit is noodsaaklik dat die Kerk ook kennis neem van hierdie onvrede wat plek-plek tot onrus lei.
Die blad Leer- en Lewenskwessies het oor jare van tyd tot tyd verskyn. Dit sal weer gebeur. Die referate wat in die kerk van Meyerspark op 17 Mei 2003 gelewer is, sal DV in genoemde tydskrif verskyn. Die referate was onder andere:
Die pad hiernatoe – prof dr AD Pont
Die dienswerk van die predikant – dr JJ Steenkamp
Die plek van die gedoopte kind – dr WA Dreyer
Moraliteitsverval in volk en kerk – prof dr HG van der Westhuizen
Op hierdie goed bygewoonde kongres het die noodsaak geblyk dat daar nie weer lang tye van stilte moet kom voordat die suiwerheid van leer en lewe verder hanteer word nie. Ongelukkig het daar reeds weer ’n lang tyd verloop want ons nood is ook om die nodige finansies te vekry, ook vir die versending van inligtingstukke.
Nogtans is nou besluit dat daar ’n deurlopende Leer- en Lewenskwessies-brief van tyd tot tyd sal verskyn. By ontvangs van ’n donasie – enigiets van R10 tot R50 of R100 of meer – sal u die briewe in hierdie formaat ontvang.
Dit is noodsaaklik in ons tyd van nuwe teologieë, nuwe hervormings, nuwe ongeloof, nuwe belydenisskrifte, nuwe formuliere, nuwe liturgieë binne en buite die Kerk en so meer wat soos paddastoele oornag opskiet, dat ons aandag daarop gevestig word! Hierdie fokus word nie voldoende in die bestaande amptelike kerklike tydskrifte geplaas nie.