|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
KINDERNAGMAAL IN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK?
Kommentaar in Leer- en Lewenskwessies, uitgawe Februarie 2004
Ons sal in opvolgende Briewe nog vollediger aandag gee aan die kragdadige poging om kindernagmaal waarskynlik so gou moontlik in die Kerk in te stel. Hiermee word net ’n paar voorlopige opmerkings gemaak.
Dit wil lyk asof die kindernagmaaldrywers dalk met die komende Algemene Kerkvergadering die kindernagmaal wil laat instel. Die massiewe studiestuk asook bewoording daarin en die spoedeisende reaksie waarop gewag word, dui in die rigting.
Die nuwe aanslag het behendig nuwe uitgangspunte geformuleer. As jy sonder meer die Raad se terminologie aanvaar "Nagmaal van die huisgesin van God", stem jy klaar in vir kindernagmaal! Dit is wáár dat die gemeente (of kerk) die huisgesin van God is, maar gesinslede het nie almal dieselfde regte of voorregte nie! By ’n Kersmaaltyd kan volwassenes in ’n gesin dalk twee/drie glase wyn drink – maar watter gek wil hê sy kinders van ses of sewe jaar aan die maaltyd moet ook wyn drink! Soos daar in ’n gesin onderskeding tussen man, vrou, kinders en so meer is, sonder negatiewe diskriminasie, so is daar in die gemeente ook onderskeiding – as die gawe van onderskeiding ten minste nog bestaan!
Beide doop en Nagmaal is sakramente maar dit is nie dieselfde nie! Dit is nie so dat die Kerk se praktyk om belydenis van geloof te laat doen voordat Nagmaal gebruik word, veronderstel dat kinders nie volwaardige lidmate van die Kerk is nie. Ons Kerkorde sê immers dat selfs nog nie-belydende kinders en selfs ongedoopte kinders van lidmate, lidmate van die gemeente is (Kerkorde 4.1.2). Nie alle lidmate kan Nagmaal gebruik nie. Dit is ’n herhalende sakrament wat afhang van die lidmaat se geloofsituasie. Die gesin van God weet vóór die opwassende kind se openbare belydenis nog nie of hierdie lidmaat dalk geestelik dronk sal word met ’n onnugtere begrip van die Nagmaalsakrament nie. Eers wanneer hy of sy hom- of haarself vooraf reg kan ondersoek, en van hierdie vermoë in die openbare geloofsbelydenis blyke gegee het, kan hy of sy Nagmaal gebruik.
Is dit Christelik, kerkordelik of selfs billik wanneer ringe wat reageer op die kindernagmaalstemme meer as ses teen een is, om die huidige parktyk te handhaaf en nogtans dryf die drywers asof daar algemene instemming vir kindernagmaal is?
Die teologie rondom die twee sakramente vertoon deesdae volkome onaanvaarbare tendense. En dit het verreikende gevolge – want die regte bediening van die sakramente is een van die drie merktekens van die ware kerk teenoor die valse kerk (NGB 29).
In die genoemde studiestuk van die Raad van Erediens, is al ’n aanbeveling aan die 67ste Algemene Kerkvergadering wat aanstaande is: "Op grond van die navorsing wat die Kerk gedoen het oor die bediening van Nagmaal aan kinders is die Kerk daarvan oortuig dat dit die wil van God is om Nagmaal ook aan gedoopte kinders te bedien. Verder aanvaar die Kerk dat daar geen prinsipiële gronde is waarom die Nagmaal nie aan gedoopte kinders bedien kan word nie."
Ten spyte van dr Wouter van Wyk (jr) wat daarop wys dat kinders in die Ou-Testamentiese tyd op 13 jaar as volwasse beskou is, terwyl ons kinders veel ouer as volwasse beskou, lyk dit of die genoemde Raad ons kinders se onvolwassenheid op 13 jaar nie ag nie! Prof Gert Pelser sê: "… maar in die tyd van Jesus kon kinders eers vanaf die verstaansouderdom van 13 jaar daaraan (die Pasga), deelneem (Luk 2:41,42)." Sê dit niks vir die genoemde Raad nie!
Prof Johan Buitendag en andere bly vasklou aan reste van outydse doopbeskouing soos dat die doop inlywing in die kerk is. Daarom word Nagmaal op dooplidmaatskap gebaseer. Maar die doop is die teken en seël van die inlywing deur die verbondsgenade van God. Dit is deur ons Kerk immers in sy Kerkorde reeds verdiskonteer (Kerkorde 4.1.2).
Ten spyte daarvan dat dr Wim Dreyer daarop wys dat die meeste kerkordes vroeër daarvan uitgaan dat nie die belydenisaflegging die lidmaatskap van die kerk bepaal nie, bly hamer die genoemde Raad daarop dat "die gedoopte kind kan nie eers lidmaat van die kerk met geloofsbelydenisaflegging word nie; anders werk die Kerk met ‘voorlopige’ en volle lidmate …" Asof dit ’n argument vir kindernagmaal is, net omdat die kind lidmaat is! Maar dan moet die ongedoopte kinders wat al in hulle tienerjare selfs is en om een of ander rede nooit gedoop is nie, maar nogtans lidmate van die Kerk is, ook toegelaat word by die Nagmaal! Vele komplikasies van kindernagmaal is nie uitgepluis nie.
Ten spyte dat ook ander dwaalbeskouings by die adviese van genoemde Raad se sakramentsteologie na vore kom: "die feit dat hierdie geloof uit genade ontvang word aan die tafel" (prof Johan Buitendag); "… God self … wat die heil aan die tafel bewerk" (dr Johan Otto) – Roomse opvattings – wil die Raad tog die saak deurvoer! Dr Johan Otto stel: "In die lig van 1 Kor 10 en 11 se ‘kwalifikasies’ blyk kinderdeelname dus, sonder die genoemde kategetiese proses hierbo tot ’n ‘toeëieningsverstaan’, tog onverantwoordelik te sou wees." Tog wil genoemde Raad deurdruk!
Ten spyte van prof Johan Koekemoer, wat ook kindernagmaal bepleit, se stelling: "… dis juis die teologiese verskille oor hierdie ‘gemeenskap’ (gemeenskapsmaal met die verheerlikte Heer) met Hom, wat die Nagmaal – en die kind-by-die-nagmaal debat so moeilik maak, wil die genoemde Raad tog nie die veilige weg volg deur die moeilikheidsgraad rondom die saak te erken en dit te laat by die status quo nie!
’n Mens vervang nie jou huis se dak – al kort dit reparasie, verbetering of vervanging – terwyl ’n storm woed nie!
Daar woed nou ’n storm: Daar is ’n kindertydsgees in die Kerk vaardig. Beproef eers hierdie tydsgees. Daar is ’n kinderkerkgees aan die woed.
Kinderkerkgroepe word georganiseer met eie eredienste, eie liedere, eie atmosfeer, en dan beveel dr Flip Schutte aan: "Handhaaf een nagmaalgeleentheid – kinders hou dus nie apart nagmaal nie"! Wat is hierdie praktiese riglyn werd? "Voorsien druiwesap vir kinders" sê hy verder. Waarom? Wyn is die korrekte want dit maak die hart bly – daarom moet wyn gebruik word, al het die Kerk die verkeerde besluit oor druiwesap al reeds geneem! Terwyl die afwykende teologie soos in die "nuwe hervorming" in sy uiterste gestalte, soos ’n tornado deur die Kerk trek, wil ons die dakwerk vervang!
Soos die Ring van Heilbron sê: "Daar is mos tans geen ongelukkigheid in ons Kerk oor die huidige status quo nie" – tog wil die Raad die saak beslis hê!
Die genoemde Raad stuur dertien Ringe se respons. Die Ring van Noord-Kaapland se kommentaar wat beslis grondig gereed gekry is, is egter nie daarby nie. Van dié 14 Ringe steun 1 Ring die genoemde Raad (Ring van Roodepoort); 2 Ringe (Losberg en Potchefstroom) is neutraal en onseker; en 11 Ringe is beslis daarteen (Zeerust, Heilbron, Krokodilrivier, Pretoria-Wes, Vereeniging, Soutpansberg, Makwassi, Krugersdorp, Laeveld, Middelburg, Noord-Kaapland). Nogtans wil die genoemde Raad die saak deurstoomroller!
Prof Beukes se kommentaar, September 2001, word in sy geheel ingesluit in genoemde Raad se studiestuk, so ook ander reeds genoemde en nog ander studiestukke, selfs uit die kring van die Gereformeerde Kerk! Maar die vraag is of alle stukke uit Die Hervormer en die Konteks van ons eie Kerk opgeneem is? Hoe kan die Raad vir Erediens met sowat 77% Ringe daarteen, nogtans met die beskrywingspunte of aanbevelings aan die Algemene Kerkvergadering voortgaan! Sou die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering of die Agendakommissie die nodige vryheid hê om dit uit die Vergadering te weer?
Ten spyte van die grondige vasstelling van Prof Pont se uitgebreide navorsingstaak, waaraan die Raad, hom blybaar ook nie steur nie, vra die kantoor van die Kommissie dat kommentaar direk aan die eensydiggerigte Raad gestuur moet word! Sorg egter dat die Kommissie u kommentaar onder oë kry.
Moenie dat die huidige stormwind die dakwerkery nou aan flarde skeur nie.