|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
NUUS UIT DIE VSA
Kindermolestering deur RK geestelikes
Ds Freddie Burger berig in Die Boodskapper, November 2003 ontstellende feite
Ds Burger is 'n emeritus-predikant wat tans saam met sy gesin tydelik in die VSA woon.
Ons woon nou twee en 'n half maande in die VSA en ek volg veral nuus oor kerk en godsdienstige sake noukeurig. Kerksake is inderdaad baie in die nuus alhoewel die nuus dikwels baie negatief is. Wat egter baie opvallend is, is dat die beriggewing nooit nydig is soos ons al gewoond geraak het nie.
Ek stuur 'n aantal brokkies, miskien is dit nuttig of selfs net interessant. Dit is moeilik om te besluit watter kerk die hoofnuusmaker was. Ek sal neig om hierdie twyfelagtige voorreg aan die Rooms-Katolieke Kerk toe te ken.
Priesters of Kindermolesteerders
Die voorvalle van mense wat beweer dat hulle as kinders deur hulle priesters gemolesteer is, groei daagliks. Ek noem net enkele gevalle. Die bekendste of die geval in die bisdom (diocese) van Phoenix. Biskop Thomas o'Brien het erken dat daar die afgelope dertig jaar vyftig priesters en ander amptenare betrokke was of beskuldig was van kindermolestering. Die biskop het 'n ooreenkoms met die aanklaer (plea bargain) aangegaan om hervorming te weeg te bring of aangekla te word vir dwarsboming van die gereg. deurdat hy priesters wat kinders molesteer het, beskerm het. Die biskop kon egter nie sy woord gestand doen nie, omdat hy in 'n tref en trap betrokke was en die polisie hom opgespoor het en krimineel aangekla het. Hy het toe bedank. In die gebied waar ons woon, wat onder Erie val, het vyf priesters óf uit die kerk bedank en stilweg verdwyn, óf was verplaas (om weer te sondig). Die geval wat nou aandag trek, is Boston waar ongeveer 450 volwassenes skadevergoeding van die kerk eis omdat hulle as kinders gemolesteer was. Onder leiding van kardinaal Law het die kerk $55 miljoen as skikking aangebied wat nie aanvaar is nie. Die vrese is dat die kerk hier bankrot verklaar sal word (geestelik al lankal). Daar is nou mense wat beweer dat die vrome Kardinaal geweet het van al hierdie molesteerdery en niks gedoen het nie.
Die openbaarmaking van die 1962-dokument waar die strengste geheimhouding in gevalle van klagtes teen priesters beveel word, help die kerk se saak nie - veral nie as mense wat hierdie geheimhouding verbreek met ekskommunikasie gedreig word nie.
Hierdie paar gevalle is net die puntjie van die spreekwoordelike ysberg. In Massachusetts het die aanklaer (Attorney General Thomas Reilly) na 'n ondersoek van sestien maande op 23 Julie 2003 verklaar dat die molestering van kinders in die RK die grootste tragedie is wat die kinders van hierdie staat (waarskynlik in Amerika of dalk die wêreld?) nog ooit getref het. Hy stel dit dat die aantal voorvalle "borders on the unbelievable" is. Die skokkende is dat die kerklike owerhede nog al die jare hiervan geweet het en priesters verplaas het om vervolging te voorkom.
Die saak duur voort.