Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GLO .... WEET .... BELY

AKTUEEL: Freedom Park dra anti-christelike karakter       

SKRIFOORDENKING:
God kom opmeet

Totius Psalms - verbeterings

Behoudende aksie in die NH Kerk

Kindernagmaal in die NH Kerk?

Nuus uit die VSA

Waterberg - Klassis - PS: Wat nou?

Die onsigbare en sigbare ware kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen Bybelgenootskap se deelname aan Cape Argus fietstoer op Sondag 14 Maart

Nederlandse Hervormde Kerk se naam verdwyn

Dr Theuns Eloff se polities-ekonomiese verbintenisse

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Gereformeerde Onderwys: Die begin van 'n nuwe fase

Die Kerk- en Skoolorde van De Mist

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wie was die anti-gesange mense?

PERSRUBRIEK: 
Lina Spies, medewerker van Psalm-omdigting in die nuwe liedboek van die NG en NH Kerke, glo nie meer in die Goddelikheid van Jesus Christus nie.

Omstrede "Christus-Prent" opnuut in die kollig

"Trane stort ek in my klagte" 

Het ons dan nou almal "PROGGE" geword?

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van waarsêery

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 2 Maart 2004

WATERBERG

KLASSIS EN PARTIKULIERE SINODE. WAT NOU?

-  DS SAREL CILLIERS  -

WATERBERG

KLASSIS EN PARTIKULIERE SINODE. WAT NOU?

- DS SAREL CILLIERS -

Op 19 Februarie 2003 het die Gereformeerde Kerk Waterberg besluit om amptelik te doleer. Daarmee wou Waterberg op die sterkste moontlike wyse sy ernstige besware lig oor veral twee Sinodebesluite wat die toets van die Skrif nie kan slaag nie. Dit is naamlik die besluite oor die toelating van die vrou in die amp as diaken en die goedkeuring van die 2001 Psalmomdigtings.

Hoewel Waterberg baie sterk in Die Kerkblad en op ander wyses aangeval en valslik beskuldig is van skeurmakery en onkerkordelike optredes, het Waterberg nie net met dade (doleansie) nie, maar ook met woorde (beswaarskrifte) ‘n ordelike pad gevolg in sy poging om bogenoemde besluite te herroep. Daarby het daar ook verskeie kerkrade asook baie lidmate, landwyd, die Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) [GKW(D)] bedank vir duidelike standpuntinname en ons sterkte en seën toegebid.

GKW(D) het gedurende 2003 by Klassis Waterberg daarin geslaag om die beswaarskrif teen die vrou in die amp as diaken op kerkregtelike gronde te laat slaag. Die beswaarskrif teen die Psalmomdigtings het op kerkregtelike en op inhoudelike gronde geslaag. Hierdie beswaarskrifte is deur Klassis Waterberg op die tafel van Partikuliere Sinode Bosveld gebring waar dit weereens geslaag het. Daarby het Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) ‘n afsonderlike beswaarskrif met inhoudelike gronde teen die Vrou in die amp as diaken voor die Part Sinode Bosveld gestel wat ook volledig geslaag het.

TEN OPSIGTE VAN DIE BESLUIT OOR DIE VROU IN DIE AMP VAN DIAKEN

Met bogenoemde geslaagde beswaarskrifte het die volgende beswaargronde teen die vrou in die amp as diaken by Part. Sinode Bosveld geslaag.

1. Die Sinode het met sy besluit in stryd met Art. 46 Kerkorde opgetree.

2. Die Sinode het met sy besluit in stryd met Art. 31 Kerkorde opgetree

3. Die Sinode het met sy besluit die eksplisiete voorskrifte van die Woord van God verwerp in dieselfde ernstige mate as waarmee Hofni en Pinehas (1 Sam 2:12-25) of ook Saul (1 Sam 15:23) gedoen het en maak daardeur dat die Kerkvolk teen die Here sondig.

4. Die Sinode het nagelaat om duidelike Skrifgronde aan te bied vir die besluit.

5. Die Sinode het gefokus op onduidelike Skrifgedeeltes en duidelike Skrifdele nie in ag geneem in die formulering van die besluit nie.

6. Die Sinode bring die volkomendheid en duidelikheid van die Skrif (NGB Artt 7 & 32) in gedrang.

7. Die Sinode het met hierdie besluit die duidelike openbaring wat die Skrif vanuit die skeppingsordinansie bied, verontagsaam.

8. Die Sinode het oor die betekenis van Rom 16: 1&2, as begronding van sy besluit, hom nie met verdere Skrifverklaring verantwoord nie.

9. Die Sinode doen, met sy besluit, waar kerkrade op aanbeveling van die Sinode vroue in die amp van diaken bevestig, mee aan die gewetensbinding van lidmate wat hierdie besware deel.

10. Die Sinode se besluit bevat inherente teenstrydighede waardeur die Skrifgesag, die Belydenis en die Kerkorde in gedrang gebring word.

11. Die Sinode se besluit oor die vrou slegs in die amp as diaken is in stryd met die Woord en Belydenis wat betref die gelykheid van die ampte.

 

TEN OPSIGTE VAN DIE SINODEBESLUIT OOR DIE 2001 PSALMOMDIGTINGS

Die volgende beswaargronde is teen die Sinodebesluit deur die Part. Sinode Bosveld aanvaar.

1. Die Sinode het Art 31 Kerkorde in sy besluitneming verontagsaam.

2. Die Sinode het met sy besluit die eenheid van die Skrif verontagsaam.

3. Die Sinode het in sy besluit die "sleutel van die kennis" uit die Psalms gehaal en dit is strydig met Art. 7 NGB.

Daar het ook ‘n beskrywingspunt vanaf Klassis Waterberg by Part Sinode Bosveld insake die oproep van ‘n Buitengewone Sinode, gedien. Aan die beskrywingspunt is gevolg gegee omdat die Part. Sinode geoordeel het dat die noodsaak wel bestaan soos vereis deur Art 50 Kerkorde. Die beskrywingspunt het ook op verskillende wyses by ander Part. Sinodes gedien. Geen ander Part Sinode het aan die beskrywingspunt gevolg gegee nie en daarom kon ‘n Buitengewone Sinode nie opgeroep word waarop die onderhawige besware kon dien nie.

WAT NOU?

Eerstens berus GKW(D) daarin dat God dit so beskik het dat die belangrike sake waaroor ons doleer eers by die volgende gewone Sinode in 2006 sal kan dien.

Tweedens glo ons dat die ekstra tyd juis aan ons gegun is, nie om stil te sit nie, maar met harde werk die heel beste stuk voor die Sinode te laat dien. Daarby sal ons graag alle moontlike gawes uit die kerkverband, wat ons besware ondersteun, wil saamsnoer om ‘n duidelike en goed begronde stuk uit Skrif, Belydenis en Kerkorde op te stel. Hiervoor het GKW(D) reeds ‘n gesprek met Gereformeerde Kerk Die Kandelaar aangevra om so ‘n moontlikheid te bespreek en te laat realiseer.

Laastens glo GKW(D) dat hy in die lig van groot onsekerheid in die kerke en ter ondersteuning van lidmate wat beswaard is oor bepaalde optredes van kerkrade ‘n duidelike getuienis moet laat hoor. Hiervoor word onder andere ‘n webbladsy op Internet oorweeg waarop alle beskikbare dokumentasie bereikbaar sal kan wees.

Intussen is enigiemand welkom ons te skakel by die kerkkantoor (014) 717-3720 op weeksdae vanaf 08H00 tot 12H00, of andersins by (014) 7173237.

Dit word weereens bevestig dat Gereformeerde Kerk Waterberg die ou beproefde pad, van dekades lank, steeds loop. Ons het nêrens enige nuwe dinge wat bevraagteken kan word ingebring nie. Ons verstaan daarom nie waarom Waterberg skielik die teiken van aanval is vir ‘n beweerde skeuring nie. Tans gaan ons net die kerkordelike pad van beswaar kragtens art 31 KO op teen bepaalde Sinodebesluite waarmee nuwe sake, wat die toets van die Skrif nie kan slaag nie, die kerk ingevoer word. Hierdie besware wat die eer van Christus raak, sal ons met woord en daad uitdra en daarom sal ons bly doleer.