Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GLO .... WEET .... BELY

AKTUEEL: Freedom Park dra anti-christelike karakter       

SKRIFOORDENKING:
God kom opmeet

Totius Psalms - verbeterings

Behoudende aksie in die NH Kerk

Kindernagmaal in die NH Kerk?

Nuus uit die VSA

Waterberg - Klassis - PS: Wat nou?

Die onsigbare en sigbare ware kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen Bybelgenootskap se deelname aan Cape Argus fietstoer op Sondag 14 Maart

Nederlandse Hervormde Kerk se naam verdwyn

Dr Theuns Eloff se polities-ekonomiese verbintenisse

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Gereformeerde Onderwys: Die begin van 'n nuwe fase

Die Kerk- en Skoolorde van De Mist

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wie was die anti-gesange mense?

PERSRUBRIEK: 
Lina Spies, medewerker van Psalm-omdigting in die nuwe liedboek van die NG en NH Kerke, glo nie meer in die Goddelikheid van Jesus Christus nie.

Omstrede "Christus-Prent" opnuut in die kollig

"Trane stort ek in my klagte" 

Het ons dan nou almal "PROGGE" geword?

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van waarsêery

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 2 Maart 2004

DIE ONSIGBARE EN SIGBARE WARE KERK

- DR PE VAN DER DUSSEN -

 

Die GKSA het in ‘n groot en diepgaande wesensverskil beland. Opeenvolgende Nasionale Sinodes van die GKSA het besluite geneem wat toenemend die absolute gesag van die Woord van God in die gedrang gebring het. Sinode-2003 het die grens oorgesteek deur die sosio-historiese wyse van Skrifverklaring te erken en daarmee die absoluutheid van die gesag van die Skrif te deurbreek. Dit het onmiddellik deurslaggewend na vore gekom in die Psalmomdigting, die vrou-in-die-amp en die Nagmaal. Hulle is nie selfstandige sake nie, maar simptome van die veel dieper saak dat die absolute gesag van die Woord van God aan menslike oorwegings ondergeskik gestel word.

Om die absolute gesag van die Woord van God in twyfel te trek, is sekerlik geen middelmatige saak nie. Dit ontneem die Kerk van Christus sy vaste fondament, sy hoeksteen. Sonder die absolute gesag van die Woord van God kan die Kerk nie ware Kerk wees nie. Waaraan sal die suiwerheid van die Woordverkondiging immers gemeet word as dit nie aan die Woord sélf as absolute gesag gemeet word nie? En hoe kan tug toegepas word as daar geen absolute norme is waarop die tug berus nie? Dit is ‘n praktiese noodwendigheid om van die valse "kerk" af te skei teneinde die ware kerk te kan handhaaf.

Die eis om die ware kerk te soek, hou in om van die valse kerk af te skei. Wanneer ‘n kerk van sy fondament Christus afstand doen, word hy valse "kerk" en mag ‘n gelowige hom nie by daardie "kerk" voeg nie maar moet hy hom van daardie "kerk" afskei. Dit is nie eiewillige skeuring nie, maar is eis van die Woord van God. Die skeuring geskied wanneer die "kerk" hom van sy fondament losskeur en so die Liggaam van Christus verskeur.

Die eis dat elke gelowige verplig is om hom by die ware kerk te voeg, gaan eerstens om die on(oor)sigbare kerk wat onse Here Jesus Christus vir Hom van die begin tot die einde van die tyd versamel. Hierdie kerk is die Liggaam van Christus met Hom as Hoof. Dit is die Bruidskerk wie se begeerte na haar Man, haar Bruidegom moet wees. Sy moet haar ten volle aan die Bruidegom se gesag as haar Hoof onderwerp.

Die onsigbare Kerk kom orals waar dit sy Hoof behaag, in sigbare plaaslike kerke of gemeentes tot openbaring wanneer en deurdat Skrifgelowiges volgens die Woord van God byeenkom om die Naam van die HERE aan te roep en as sy gemeente te institueer. Ander gelowiges rondom die plaaslike sigbare ware kerk wat hulle nie by dié kerk voeg nie, volhard in die oersonde van eiesinnigheid en verwaande strewe om soos God te wil wees (Gen 3). Hulle verskeur die Liggaam van Christus en pleeg daarom "kerkskeuring". Met hulle mag die Skrifgelowige géén gemeenskap (2 Joh vers 10) hê nie. Die Skrifgelowiges sal op elke plek waar hulle geplaas word, sondig as hulle nie afsonderlik as gemeente van die ware kerk institueer en hulle so sigbaar van die valse "kerke" afskei nie.

Nou is die ware kerk wat Christus vir Hom versamel, oor alle tye en op elke oomblik in die tyd wêreldwyd versprei. Tog is dit één kerk, één Liggaam van Christus, één on(oor)sigbare kerk waarvan al die sigbare plaaslike ware kerke deel vorm. Ook al ken die lidmate van al die plaaslike ware kerke of gemeentes nie die lidmate van ware kerke elders nie, is hulle nogtans almal as lede van Christus ingelyf en daarom een van hart en een van sin. Sodoende "korrespondeer" die plaaslike ware kerke of "stem ooreen" in die Waarheid van die Woord (kyk HAT "korrespondeer" betekenis 2). Hulle kan daar-om ordelik met mekaar omgaan en saamkom in meerdere vergaderings wanneer dit nodig is om oor gemeenskaplike sake te besin of om mekaar te bemoedig of om lidmate wat op reis gaan, aan mekaar se sorg toe te vertrou. Maar let daarop dat sulke vergaderings nie die plek van die plaaslike vergadering van lidmate inneem of mag inneem nie. Daardie plaaslike vergadering van Skrifgelowiges is en bly die plaaslike sigbare openbaring van die onsigbare Kerk wat Christus vir Hom versamel. "Kerkverband" mag nie die plaaslike ware kerk as sigbare openbaring van die onsigbare kerk vervang of verdring nie.

Die verband tussen die organiese onsigbare en die geïnstitueerde sigbare ware kerk lyk so:

1. Christus versamel sy Kerk deur Skrifgelowiges in sy Liggaam in te lyf as lidmate van die onsigbare Kerk.

2. Die Skrifgelowiges kom in plaaslike sigbare kerke byeen en vergader so as die plaaslike openbaring van die onsigbare ware Kerk (Heidelbergse Kategismus Sondag 21).

3. Omdat die plaaslike sigbare kerke openbaring van die onsigbare Kerk is, moet hulle die eienskappe van die onsigbare Kerk vertoon (NGB Art 29).

4. Omdat die kerk van Christus heilig is, moet die plaaslike openbaring daarvan in die sigbare vergadering van lidmate heilig wees en die eienskappe van die heiligheid vertoon wat Christus as die getuigende vleesgeworde Woord aan sy Kerk oplê.

5. Elke plaaslike sigbare openbaring van die heilige algemene Christelike Kerk wat Christus vir Hom versamel, moet nougeset oplet dat lidmate én die vergadering van lidmate hulle aan die eienskappe van die ware kerk hou. Daarvoor word die tug aangewend.

6. Die toesighoudende regeeramp word deur die Woord in die eerste plek aan die kerkraad van die plaaslike kerk toegesê. Hulle is geroepe ampsdraers van die enigste Koning Jesus Christus, en die vereistes wat aan hulle gestel word, is daarop gerig om die heiligheid van die plaaslike openbaring van die heilige Kerk van Christus te beskerm.

7. Verder is elke lidmaat in sy amp as gelowige verplig om oor die waarheid van die plaaslike openbaring van die kerk van Christus te waak. Daarom moet hy in alle opsigte ‘n voorbeeld wees sodat sy inlywing in die ware Kerk van Christus vir sy medegelowiges sigbaar sal wees en vir die wêreld tot roepstem en tot veroordeling.

Met hierdie gegewenhede is die optrede van elke Skrifgelowige duidelik geteken. Hy behoort aan die onsigbare ware Kerk, nou voeg hy hom by die sigbare ware kerk. In die huidige toestand het baie lidmate reeds gekies deur binne die GKSA-verband van een plaaslike kerk na ‘n ander te verskuif. Sommige kerkrade het hulle van die simptomatiese verkeerde Sinodebesluite losgemaak en bied ‘n tuiste vir beswaarde lidmate. So vind ‘n stille maar doeltreffende skeiding van weë plaas wat die herstel van ordelike Kerkverband vergemaklik.

Die toestand word moeiliker waar daar nie ‘n nabygeleë kerkraad is wat aan beswaarde lidmate ‘n heenkome kan bied nie, of waar afstande tussen plaaslike gemeentes groot is. Nogtans word ook op die platteland verskuiwing opgemerk. Hierby moet bedink word dat ‘n uur se ry vandag nie ‘n onaanvaarbare afstand voorstel nie. Intussen voer enkele kerkrade met mekaar gesprek oor ander moontlikhede wat gevolg kan word.

Hoe moeilik ookal word Skrifgelowiges tot geduld en volharding geroep. Dat die uitkoms sal kom, staan vas. Die Here Jesus Christus hou sy Kerk in stand en gee deur Sy Gees geduld en volharding aan sy kinders. Daarom moet ons vir mekaar bid, veral die van ons wat ‘n betreklik maklike oplossing vir ons toestand kon vind deur na ‘n naburige gemeente te doleer.

Die voorgaande uiteensetting berus sterk op die uitvoerige behandeling van Artikels 27-29 in Onze Geloofsbelijdenis van ds J G Feenstra. Lesers word sterk aangeraai om hierdie boek (verkieslik die eerste uitgawe) in die hande te kry. Dit is ‘n waardevolle leerboek oor die Nederlandse Geloofsbelydenis.        PEvdD