|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
GESPREK MET DIE LESERS
Hierdie tweede uitgawe bevat 'n verskeidenheid van inligting en kommentare om die lesers te voorsien van argument oor die verloop van sake in ons land. Ons bedoel in die eerste plek dit wat binne die kerkverband van die GKSA plaasvind, maar daarbenewens ook in die ander Afrikaanse kerkver-bande. So het ons 'n interessante, dalk reformatoriese aksie binne die Neder-duitsch Hervormde Kerk geïdentifi-seer en bekendgestel. Sommige van die medewerkers wat genoem is, is reeds jarelank intekenare op ons blad. Graag bid ons hulle seën toe op die taak wat hulle aangepak het. Mag dit lei tot groter dinge en terugkeer na die sui-wer Woord- en Sakramentsbediening, asook die uitoefening van kerklike tug in ooreenstemming met die eise van die Skrif in hulle kerkverband.
Die polemiek met prof Amie van Wyk oor die, volgens ons oortuiging, valse ekumene is in hierdie uitgawe voorlopig voltooi, maar die laaste woord daaroor is beslis nie gesê nie.
Die artikel van dr Victor d' Assonville oor die 32 stellings oor die stand van die gereformeerde teologie in ons land is ook afgesluit. Daaroor het ons reeds baie positiewe terugvoer ontvang.
Dit is kommerwekkend dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika so ligvaardig 'n fietstoer op Sondag met landswye deelname misbruik om fondse in te samel. Die saak het reperkussie ontvang deurdat selfs 'n Gereformeerde predikant dit op 'n poslys aanbeveel het en self daaraan deelneem. Tereg het enkele kerkrade beswaar gemaak en ons hoop dat dit die Bybelgenootskap tot besinning sal bring.
Van ons lesers is nie almal ingelig oor dr Theuns Eloff se voorlaaste betrekkinge nadat hy uit die bediening getree het nie. Ons het dit goed geag om dit aan die lesers, wat nie (meer) Die Kerkblad lees nie, bekend te stel.
Baie dankie vir die vertroue wat op talle wyses, wat uitgespreek word aan die redakteur en redaksie van ons blad en die goeie wense en vermelding van voorbedes wat daarmee gepaard gaan. Dit is 'n riem onder die hart om te weet dat die inspanning wat dit verg om keer op keer 'n uitgawe voor te berei en vir druk en versending gereed te kry, beloon word met hoë waardering.
Die laaste twee maande het 'n hele aantal nuwe intekenare bygekom. Dit is 'n verblydende teken van toenemende ondersteuning. Ons wil graag ons meelewende intekenare versoek om ons blad soveel as moontlik bekend te stel aan geesverwante persone in elkeen se omgewing met die aanbeveling om daarop in te teken.
Vir dié wat dit nie weet nie, vermeld ons graag dat alle vorige uitgawes vanaf die begin beskikbaar is, vir diegene wat daarin belangstel.
Ten slotte nogmaals die inligting dat die adresstrokie op die koevert vermeld dat geadresseerde al dan nie verskuldig is met sy/haar betaling van bydraes. Indien dit 'n 8 vermeld, dan is u op datum. Die nommertjie wys op die laaste jaargang waarvoor 'n bedrag inbetaal is. Vanjaar se jaargang is die agtste. Indien u feite nie met ons s'n ooreenstem nie, laat weet dit asseblief.