|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
Hoofartikel
GLO ... WEET ... BELY
Daar bestaan 'n konflik tussen geloof en wetenskap. Laasgenoemde berus op verifieerbare feite en rasionele beredenering. Dit gaan oor bewyslewering. In die wetenskap glo 'n mens wat hy deur waarneming, toetsing of gesaghebbende inligting bekom het. In dié proses is daar sprake van vooroordele waarvolgens die een persoon bepaalde sake anders interpreteer as 'n ander. Dis 'n bekende feit dat vooraanstaande wetenskaplikes teenstrydige menings huldig en openbaar bekendstel oor die onderskeie domeine van hulle ondersoek. Dit beteken dat hulle bewyslewering nie die wetenskaplike alfa en omega is nie. Ons wil in hierdie artikel aandag verleen aan die saak van die geloofskennis wat geopenbaar is, dit wat ons glo, weet en bely op grond van die Goddelike inspirasie van die Bybelskrywers wat vanaf die begin, by Adam en Eva, ten aansien van wat God vir hulle gesê het reeds aan interpretasie en twyfel blootgestel is, as gevolg waarvan daar nou 'n antitese in die menslike bestaan heers.
As 'n mens rustig gaan sit en dink oor die oorsprong en doel van die lewe, sowel persoonlik as in wyer verband, dan raak jy aan die fundamentele vraagstukke van die geloof. Wat glo jy, wat weet jy, en - voortspruitend - wat bely jy? Besinning oor die oorsprong van die lewe lei jou na onsienlike en nie ervaarde feite van die aanvanklike ontstaan van alle dinge, die materie en alle vorme van lewe wat daar bestaan. Is geloof 'n saak wat in terme van die wetenskap bewys moet word? Of is dit 'n saak wat betwyfelbaar is?
Wat is die grond van jou geloof? Daar is meer as een soort geloof. Die woordeboek omskryf die woordjie "geloof" as vertrou en as vir waar aanneem. Is daar in die werklikheid ook ongeloof? Ja, slegs in die sin van verwerping van die geloof in God en die Bybelse openbaring. Daar is mense wat nie oor hulle herkoms en bestemming nadink nie, op hulself vertrou en glo dat daar geen ewigheidsbestemming is nie. Ons tipeer hulle as ongelowiges. Hoe kom hulle daartoe? Geloof in Bybelse perspektief is 'n gawe van God wat Hy toebedeel aan dié wat Hy daartoe verkies het. Dié geloof is 'n saak wat nie volgens die metode van die wis- en natuurkunde bewysbaar is nie. Is die geloof aan die onsienlike dinge logies beredeneerbaar om op dié wyse die Christelike geloof te kan verkondig aan diegene wat dit nie deelagtig is nie?
Daar is die evolusionisme wat kwasi-wetenskaplike teorieë aanbied oor die heelal en die spontane ontstaan van die hemelliggame, die aarde insluitend, en die ontstaan van lewe uit dooie materie in fases van ontwikkeling vanuit eensellige plantaardige bestaan tot die mens in sy huidige voorkoms. Evolusionisme is in verskillende vorme aanwesig, maar dit leer in alle gevalle die ontwikkeling van laer na hoër lewensvorme van die bestaan op aarde, sowel in liggaamlike as in geestelike opsig. Uiteindelik beskou die mens hom as 'n god in die diepste van sy gedagtes. Dit is 'n teenoorgestelde uitgangspunt van die Christelike geloof. Die ongelowige is in werklikheid nie ongelowig nie, maar hy glo dat die mens in en deur homself bestaan sonder verantwoordelikheid aan 'n God wat alles beskik en onderwerp aan sy wil.
Die mens is in onderskeiding van die diereryk, 'n redelike wese. Dit beteken dat die Skepper-God hom verstand geskenk het. Die mens is geskape na die beeld van God, 'n "heerser oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip". Die mens is geroep om die aarde te ontwikkel en te bewaar. Daartoe is hy begiftig met die vermoë van rasionele (verstandelike) denke. Een van die "groot" filosowe, Réné Descartes (1596 - 1650) het die rasionele denke aangewend om daarop sy geloof te fundeeer. Die egte, algemeen geldende kennis, die waarheid, kan slegs gevind word deur te dink, deur te twyfel aan alles wat onseker en nie bewysbaar is nie. Die fundamentele twyfel is die uitgangspunt vir ons kennis. Immers, as ek twyfel dan moet ek bestaan, dan is daar 'n ik, wat twyfel. As ek twyfel dan het ek 'n bewussyn en daarin lé opgesluit dat ek bestaan, aldus Descartes. Hy het op dié wyse ook die bestaan van God en 'n onsterflike siel aanvanklik betwyfel en daarna op grond van sy rasionele denke "bewys". Hy het op dié wyse die rasionalisering van die teologie in die hand gewerk wat op talle wyses binne en buite die kerk invloed uitgeoefen het. Daar is altyd maar weer "gelowiges" wat aan die ratio en buite-Bybelse gegewens meer waarde heg as aan dit wat die Skrif aan ons openbaar. Die Remonstrantisme vind aansluiting by Descartes se filosofie van die godsbegrip.
Die Christelike geloof is gefundeer op die Woord van God. "'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God ons in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk ..." (HK, Sondag 7: vr/antw 21) . Vasstaande kennis en 'n vaste vertroue! Nie uit en deur myself as skepsel nie, maar uit en deur die Heilige Gees, deur die evangelie wat Hy in my hart bewerk!
Wat moet 'n Christen glo? Wat moet hy weet en wat moet hy bely om hom te onderskei van die nie-ware-gelowiges in die samelewing? "Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer" (HK, Sondag 7: vr/antw 22) . Luister mooi: die algemene en ongetwyfelde Christelike geloof! Dit sluit aan by wat die skrywer van die Brief aan die Hebreërs aan ons voorhou: "Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het ..." (Hebr 1:1,2). Dit getuig van vasstaande kennis wat gepaard gaan met die geloof. Dit is juis waar vandag en ook eeue tevore die aanslag van die Satan op gerig is om ons aan dié geloof en vasstaande kennis te laat twyfel. Daar is teoloë wat in gereformeerde kerke in ons land en oorsee op kateders van teologiese skole en op preekstoele van kerke daardie geloof openlik betwyfel en sodoende lidmate verwar en op dwaalspore lei.
"Die nieuwe oriêntatie is er dan ook gekomen. Maar wat was het resultaat? En dan weet ieder dat in de Gereformeerde kerk, wat de Heilige Schrift betreft, vandaag vrijmoedig de mening word verkondigd dat zij niet meer het onwankelbare, betrouwbare Woord van God is, maar meer een verzameling godsdienstige getuigenissen van vrome Israelieten. Voorts zijn, zoals ook iedereen weet, deze kerken dwars tegen hun eigen kerkorde en belijdenis in, helaas in de praktijk kerken met complete leervrijheid geworden, kerken waarin allerlei bedenkelijke opvattingen openlijk worden verkondigd" (ds AM Lindeboom. 1987. In: De Theologen gingen voorop - Eenvoudig verhaal van de ontmanteling van de Gereformeerde Kerken. Kampen: Kok (bl 17).
Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin artikel 1 met die woorde "Ons glo almal met die hart en bely met die mond ...". Die apostel Paulus beskryf dit so treffend: "Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig. As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding" (Rom 10:8 - 10).
Dit is die wesenlike van die sinodale afwykings wat vandag in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in swang is. Die geloof word gemeet aan rasionele denke en die geloofskennis aan buite-Bybelse gegewens. Dit lei ten slotte tot die relativering van die belydenis van die kerk soos uitgedruk in die Drie Formuliere van Eenheid en die verbreking van die kerkorde. Dié tendens word ook aangetref in die Nederduitse Gereformeerde en Nederduitsch Hervormde Kerke in ons land.
Laat óns egter "vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is ..." (Titus 1:9).