|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
KERKLIKE JOERNAALBESWAAR TEEN CAPE-ARGUS FIETSTOER IN SAMEWERKING MET DIE BYBELGENOOTSKAP VAN SUID-AFRIKA: "TRAP VIR BYBELS", OP SONDAG 14 MAART
4 Februarie 2004
Geagte mnr KritzingerBYBELGENOOTSKAP + CAPE ARGUS FIETSTOER, 14 MAART 2004Die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Pretoria (Paul Krugerkerk) vermeld hiermee sy prinsipiële beswaar teen die beoogde Argus Pick ‘n Pay Fietstoer op Sondag 14 Maart met die doelstelling van fondsinsameling onder die titel: "Trap vir Bybels".Die Bybelgenootskap se vereenselwiging met hierdie Sondagsportgeleentheid is in stryd met die Vierde Gebod: "Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig ..." (Eks 20:8 - 11). Die Heidelbergse Kategismus beklemtoon vir hierdie dag die samekomste van die gemeentes om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik en die Here openlik aan te roep ... (Sond 38, vr/antw 103). Georganiseerde sport op Sondag ondermyn die bywoning van eredienste en versteur die rus wat op die dag van die Here in ag geneem moet word.Aan diverse kerkkantore is van u kantoor af versoek om hierdie geleentheid deur aktiewe "trap-"deelname te bevorder en donasies en/of borgskappe per km vir die Bybelgenootskap in te samel. Dit kom daarop neer dat die doel die middele moet heilig. Dit is in stryd met wat die Here van ons eis om aan sy gebooie gehoorsaam te wees. (1 Samuel 15:22; Spreuke 21:3). Indien die organiseerders van die fietstoer sonder meer, na afloop daarvan, ‘n donasie aan die Bybelgenootskap sou oorhandig het, kon dit met dank aanvaar word soos dit oordragtelik deur Paulus beskryf word in 1 Korintiërs 10:25: "Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen ter wille van die gewete". Maar in hierdie geval verleen die Bybelgenootskap indirek sy welgevalle aan die ontheiliging van die sabbat wat deur die Here ingestel is en wat Hy as ‘n rusdag beveel het: "Daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou" (Deut 5:15).Terwyl die druk en beskikbaarstelling van Bybels beoog om die boodskap wat daarin opgeteken is oor te dra aan diegene wat nie oor ‘n Bybel in die eie taal of andersins beskik nie, aanvaar die Bybelgenootskap die oortreding van die sabbatsgebod soos hierbo gemotiveer. Derhalwe is die koppeling van die Bybelgenootskap aan die Argus Fietstoer, met die oog op die relativering en skending van die Bybelse (vierde) gebod, onaanvaarbaar en distansieer ons kerkraad hom daarvan.Die Kerkraad versoek u vriendelik om die gestelde beswaar soos dit in hierdie skrywe aangevoer is, onder die aandag van die bestuur van die Bybelgenootskap te bring.Namens die eerwaarde Kerkraad
U broeders in Christus
DS HT DE VILLIERS AS DU PLESSIS
VOORSITTER SKRIBA
Ds. Gerrit KritzingerUitvoerende Hoof
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Beswaar teen "trap vir Bybels" Sondag 14 Maart 2004:
Die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Stilfontein wil met hierdie skrywe beswaar aanteken teen die beoogde fondsinsamelingsprojek wat beplan word tydens ‘n sportgeleentheid op ‘n Sondag.
Hierdie Sondag-sportgeleentheid is direk in stryd met die vierde gebod.(Eks.20:8-11). Kan u dus met ‘n rein gewete die HERE se seën daarop afbid?
Die getuienis wat sal uitgaan aan die wêreld is dat die Bybelgenootskap geen ontsag het vir die gebooie van die HERE nie. Hoe kan ons mense oproep tot bekering as onsself nie God se gebooie gehoorsaam nie?
Ons lewe in ‘n tyd wat die wêreld geen ontsag(vrees) vir God het nie. Hoekom sal hulle Sy grote Naam egter loof as sy eie Kerk nie ontsag het vir sy gebooie nie? Wat baat dit u om een miljoen Bybels te druk terwyl 20 miljoen mense ooggetuies is van die minagting van God se verbod?
Die Kerkraad van die Gereformeerde kerk Stilfontein doen daarom ‘n beroep op u genootskap om nie voort te gaan met die projek nie.
Psalm 99: Die HERE is Koning; laat die volke bewe!
Hy troon op die gerubs; laat die aarde sidder!
Die HERE is groot in Sion,
En verhewe is Hy bo die volke.
Laat hulle u grote en gedugte Naam loof!
Heilig is Hy!
Geteken: Ds. J. De Plooy
Oudl.B. De Klerk(Skriba).