|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYWIE WAS DIE ANTI-GESANGE MENSE?
- DR GCP VAN DER VYVER _
"PROFESSOR DIRK POSTMA 1818-1980" - 1958. POTCHEFSTROOM: PRO REGE (Bl 193 vv)
Soos opgemerk is, het ds Postma in Rustenburg 'n stryd ontwaar tussen diegene wat gesange gesing het en diegene wat daarop teë was.
Om 'n uitvoerige en volledige antwoord te gee op die vraag wie en wat hierdie anti-gesange mense was, wat die skeldnaam "Doppers" gedra het, ag ons ... nie nodig nie. Dit is 'n ruim studie op homself waaroor al heelwat gepubliseer is. Ons beperk ons by enkele hooftrekke en veral by een aspek wat na ons oortuiging deur Afri-kaanse kerkhistorici nog nie genoegsaam beklemtoon is nie.
Gedurende die eerste kwart van die negentiende eeu het 'n groep mense, as veeboere woonagtig in die noord-oostelike distrikte van die Kaapkolonie, as gevolg van hulle besondere lewensbeskouing, karaktertrekke en gewoontes, langsamerhand ontwikkel tot 'n besondere entiteit binne die Suid-Afrikaanse samelewing.
Prof John Murray het in 'n insiggewende artikel, "Eenige karaktertrekken van onze Mede-Kolonisten" hulle in hoofsaak geplaas tussen Graaff-Reinet en Colesberg, bestaande hoofsaaklik uit die families Van der Walt, Kruger, Venter en Coetzee.
Die feit dat hulle hier in die buitedistrikte gekonsen-treer was, het allerlei komplikasies meegebring. Hulle was ongeveer 500 myl van Kaapstad en selfs ook ver van hulle naaste dorpe. Geen wonder dat Lichtenstein spreek van "ihre Abgescheidenheit von der Welt". Hulle "Abgescheidenheit" sou 'n groot rol speel in die ontwik-keling van hulle karakteristieke eienskappe.
Die "Doppers" was uiters konserwatief en streng gods-dienstig. Die Woord van God was hulle rigsnoer, die bron waaruit hulle geput het. In hulle beskouinge oor Gods Woord was die strewe altyd om "die strengste soort van calvinistische orthodoxie te bewaren". Dit word bevestig deur J Pierik in sy verhale 1851 - 1854, waar hy hulle beskryf as "godsdienstig en orthodox".
Waarom het hulle dan, in teëstelling met die nuwe strominge en nuwe lig van die negentiende eeu, so orto-doks gebly? In die eerste plek moet dit toegeskryf word aan die Statebybel met sy kanttekeninge. Die Woord van God het hulle geken en ondersoek. Dit was hulle geeste-like spyse. Maar naas die Woord van God het hulle ook enkele boeke gehad, die sogenaamde outeurs wat hulle gelees en herlees het. Ons dink hier aan W. á Brakel met sy "Redelijke Godsdienst", wat onderrig het in die leer en sterk bevindelik van karakter was. Ons dink ver-der aan ou gereformeerde skrywers, soos Coenraad Mel, Bernardus Smytegelt, d'Outrein en Hellenbroek. So skryf onder andere Van der Hoff op 1 Augustus 1853 aan prof Lauts dat 'n deel van die mense in Transvaal "Zweer bij á Brakel en Hellenbroek. So skryf ook JJ Venter op 10 Maart 1858 aan J van Andel: "Wij zijn begerig om een leeraar te mogen hooren volgens de vorm en werken des heijligen geest gelijk Smijtegelt, C Mel, A Brakel van leearden en diergelijke geestelijke schrijvers". Dit word ook later jare bevestig deur ds Huet: "ik geloof dat in hen een sluimerend zich onbewust gevoel van gemis aan Calvinistische prediking, hun door oude Gereformeerde Boeken overgeleverd, bestond". Ons kan dus sê dat die Statebybel met die kanttekeninge, die boeke van die ou gereformeerde skrywers, en studie van die Formuliere van Eenheid, by hierdie mense die gereformeerde leer en Calvinistiese aanvoeling laat voortleef het.
Hulle wat so geleef het by Gods Woord en die ou ge-reformeerde waarhede, kon dwaalligte maklik uitken. Die "Dopper" was in die volle en goeie sin van die woord konserwatief. Daarom dat hulle baie krities gestaan het teenoor die vreemde, die nuwe van die negentiende eeu en veral teenoor sy godsdiens.
En dit is dié mense wat ook beswaar gehad het teen die invoering van die Gesange in 1814 in die Kaapse Kerk. Op die meriete van hulle besware kom ons weer terug. Tesame met hierdie konserwatiewe lewenshou-ding was die "Doppers" ook hoogstaande van karakter en sedelike lewe. "De Doppers munten uit van wege hunne zedelijkheid", aldus prof John Murray.
Ons het reeds gewys op die proses van verengelsing aan die Kaap. Die kerk, die skool, die maatskaplike lewe, dit alles wou Somerset graag verengels. Dit het die "Dop-per" gegrief. Hy het daarin die bedreiging van sy taal en sy vryheid gesien. Die Engelsman was vir hom die "draer van 'n ander kultuur en van 'n ander wêreld-beskouing".
Nou moet ons die anti-Engelse gesindheid egter nie bloot negatief verklaar nie, juis die Calvinisme is draer van die vryheidsgedagte. God die Soewereine roep en formeer volkere met 'n eie identiteit wat teen elke prys teen verveemding bewaar moet word. Hulle het die Engels-man gesien as 'n bedreiging vir hierdie godgegewe eie.
En tog was hulle gehoorsame respektabele burgers van die land. Murray wys daarop dat hulle hulle wel onderwerp het aan die Britse regering "niet wegens eenige Engelsche gezindheden maar wegens hunne stille behoudende manieren en zelfs godsdienstige begin-selen", en dit word deur "Een Hollander" bevestig: "Eer-bied vir die owerheid was by hom 'n aangebore iets".
Konserwatief soos hulle was in hulle godsdienstige beskouinge, so was hulle ook in die daaglikse lewe. Hulle het 'n afkeer gehad van alle nuwighede. In hulle kleredrag was hulle ouderwets. So skryf J Pierik dat hulle "eenvou-diger in de kleeding zijn dan de andere". Aan modes "had-den zij een afkeer". Hierdie ouderwetsheid in hulle klere-drag het ook meegehelp om hulle 'n eie identiteit te gee, 'n bepaalde groep met sy besondere eienskappe en gewoontes.
In hulle huislike lewe was hulle "hoewel schoon en net, toch heel eenvoudig".
'n Eienaardige gebruik van die "Doppers" was onder-trouing tussen die families waardeur sterk familiebande gelê is, en volgens Murray het in die families dan ook langsaaam 'n patriargale gees ontwikkel waardeur een-heidsleiding en gemeenskaplike opinies oor sake bevor-der is. Hierna verwys ook dr O'Kulis: "die verdienste van die Dopper is dat hy in sake die godsdiens sy vader en sy ou mense gevra het en hulle het hom geleer".
Die belangrikste rede vir die ondertrouery was die begeerte van die "Dopper" om wag te hou oor die suiwere bewaring van die eie. Hy was nie geneë om met ander te meng nie: dit kon sy godsdiens, sy taal en nasionaliteit in gevaar bring. "Die Dopper ming nie maklik met alle soorte en klasse nie, behou vir
sy geestelik, kerklik en nasionale lewe nret die hoogste en heiligste ideale, is wars van alle vreemde teëstrydige invloede" en om hierdie rede het die "Doppers" as dit maar enigsins moontlik was, hom ook maar in die huwe-lik by die "Dopper" bepaal.
Hierdie gebruik ten opsigte van hulle huwelik, en daardeur die aaneenskakeling van groot families, saam met patriargale handhawing van gesag en daarme gepaard gaande sterk leiding, het na ons oortuiging 'n uiters belangrike rol gespeel in die ontstaan van die "Doppers" as 'n aparte groep, 'n entiteit in die geskiede-nis van die kerk en van ons volk en ons meen dat hierdie aspek deur historici nog nie in sy regte perspektief gesien en na waarde geskat is nie.
Ten spyte van alle faktore, wat meegewerk het tot die vorming van hierdie groep mense met hulle kon-serwatiewe blik op die lewe, dring die vraag hom aan mens op: maar waarom het die groep nou juis in hierdie bepaalde gebied, geografies skerp belynd, vorm aange-neem en tot openbaring gekom? Al was die stroom van die negentiende eeu se Verligting hoe sterk, kan 'n mens jou vir geen oomblik indink dat die hele res van die Kaapse Kerk geen lidmate meer gehad het wat gehou het by die ou beproefde gereformeerde waarhede, en wat ook beswaard gevoel het oor die Evangeliese Gesange nie. Die argument dat hulle afgesonderd wa, het wel krag, maar dit is vir ons nie 'n genoegsame verklaring nie. Daar was ook ander gebiede wat afgesonderd was, en tog, daar ontwikkel geen aparte "Dopper"-gemeen-skap nie; jy hoef ook nie afgesonderd te wees om "Dopper" te bly nie.
Nee, na ons oortuiging moet die verklaring vir hierdie geografies gelokaliseerde "Dopper"-gemeenskap in 'n groot mate gesoek word in die groot families, elkeen met sy vriendekring, wat hulle in hierdie streke gevestig het. Daar was onderlinge bloedverwantskap en geesverwant-skap. Hulle het met mekaar kontak gehad. Hulle het met mekaar oor godsdienstige sake gespreek. Hulle het mekaar se gedagtes en denke verryk. Op dié manier het hulle mettertyd gekonsolideerd geraak. In ander grens-distrikte was hoogswaarskynlik ook indiwidue of gesinne wat konserwatief en teen die Gesange gekant was, maar as eenlinge of as gesinne, was daar geen metgeselle nie, en hulle het opgegaan in die massa. Maar hier in die noord-oostelike grensdistrikte het hulle kontak met mekaar gehad, het hulle bevrugtend en verrykend opme-kaar ingewerk en het hulle hulle langsamerhand gekon-solideer tot 'n aparte groep, met 'n eie identiteit, en met as grond 'n gemeenskaplike verknogtheid aan die Cal-vinisties-gereformeerde ortodoksie.
En dié wat na die noorde getrek het, het kontak met die geesverwante en familie in die suide behou. So ver-
haal JH Kruger hoe die ou vader Stefanus J Kruger, aan familie in Steynsburg geskryf het. As 'n mens nalees oor die stigting van gemeentes en dienste wat gehou is in die Kaap Provinsie, tref dit besonder hoeveel Krugers daar was. Verder kom dikwels voor, in die omgewing van Steynsburg en Burgersdorp, Venter, Coetzee, Snyman, Steyn. As ons nou hierdie manne vergelyk met die latere leidende figure in die Oranje Vrystaat en Transvaal, is die ooreenkoms baie opsigtelik. In Rustenburg is dit veral die Krugers en Snyman, in die OVS is dit JJ Venter van wie 'n broer, PA Venter, ook in Rustenburg 'n aktiewe rol gespeel het.
Dit is interessant om te lees wat ds P Huet hieroor gesê het: "Ik geloof dat de Afgeskeidenen hier te lande veeleer bestaan uit eene bijzondere klasse van mens-chen, een klein aantal uitgebreide familiën, onder elkan-der huwend, zich aan voorvaderlike zeden en kleeder-dragt houdend ...". Nie sonder enige waarde is die latere uitbarsting van ds J Beijer nie. In sy "Klaagtoon eens verdrukten" vaar hy uit teen ds Postma en sê onder andere: "maar de heer Postma, die alles bevleugelt, en door 't huwen van eene vierde en vyfde vrouw in Zuid-Afrika, van zelven in de familie-bloedvaten der Gerefor-meerde Kerk opgenomen (die geheele kerk is familie) daardoor werd ik gedwarsboomd ...". Nou mag nie vergeet word dat Beijer hierdie woorde gespreek het toe hy erg verbitterd was teen Postma en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie; daarom moet dit heel krities benader word. Maar tog sit daar vir ons dié element van waarheid in dat wat die oorspronklike konsolidering van die "Dop-pergroep" aanbetref, seker wel gespreek kan word van "de familie-bloedvaten". Om te beweer: "die geheele Kerk is familie", is oordrewe en verdagmakend. ...
Neutraliteit ten opsigte van beginsels en ideale het hulle nie geken nie, nee, hulle sterke oortuiginge het persoonlikhede gevorm wat in die nasionale en godsdien-stige stryd altyd besef het, dit is "gees teen gees, ideaal teen ideaal, beginsel teen beginsel, hoop teen hoop, man teen man", aldus dr O'Kulis. ...
Dit verbaas 'n mens nie dat uit hierdie eenvoudige klein groepie "Backvelders" 'n man te voorskyn gekom het wat met Gods genade, 'n onuitwisbare stempel ge-druk het op die Suid-Afrikaanse geskiedenis, Stepha-nus, Johannes Paulus Kruger, later President van die
Zuid-Afrikaanse Republiek.