|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
OPVOEDING EN ONDERWYSDIE KERK- EN SKOOLORDE VAN DE MIST
- DR E GREYLING -
GODSDIENSONDERWYS IN DIE SKOOL" 1946. BLOEMFONTEIN (BL 33)
Na die vrede van Amiens was die Kaap weer 'n tydjie in Hollandse hande. In dié tyd het Kommissaris-generaal JA de Mist sy bekende kerk- en skoolorde uitgevaardig. De Mist was 'n Hollander, maar baie diep beïnvloed deur die beginsels van die revolusie in Frankryk. Veral twee dinge deur De Mist bepaal, is van historiese betekenis:
1. Hy is die geestelike vader van die gemengde skool in Suid-Afrika. Artikel 1 van sy skoolorde lui as volg: "Alle Kerkgenoodskappen, welke ter bevordering van deugd en goede zeden een Hoogst Wezen eerbiedigen, genieten in deze Volksplanting eene gelijke bescherming der Wetten". Verder word in artikel 18 bepaal: "De openbare Schoolen strekkende tot onderwijzing der Jeugd behooren niet tot eenig bijzonder Kerkgenoodschap",
Hierdeur het die Gereformeerde Kerk opgehou om die deur die staat bevoorregte en erkende kerk te wees en is alle kerkgenootskappe op gelyke voet gestel, terwyl die skool nie meer die gees en rigting van een kerk sou volg nie, maar 'n gemengde, omdat hy aan alle kerkgenootskappe sou behoort.
2. De Mist is ook die geestelike vader van 'n godsdiensonderwys in skool bo geloofsverdeeldheid. Die godsdiensonderwys onder die Oost-Indiese Kompanjie was streng volgens die belydenis van die Gereformeerde Kerk en het hoofsaaklik bestaan uit leerstellige onderwys. Terwyl die skole nou volgens De Mist nie meer tot een bepaalde kerkgenootskap sou behoort nie, moes die godsdiensonderwys ook daarmee in akkoord gebring word. Dit sou in die toekoms net soveel moontlik in ooreenstemming met die beginsels van die kerkgenootskap waartoe die kind se ouers behoort, gegee word. De Mist het 'n heeltemal verwaterde opvatting van die Christelike godsdiens gehad, daarvan sę hy in sy Memorie: "Men bedoelt hier niet een of ander bijzonder godgeleerd stelsel, maar de openbare erkentenis van het bestaan van een oneindig Opperwezen".
Die bewind onder De Mist was kort van duur en net een skool is onder sy ordonnansie gestig, terwyl die bevolking heftig teen sy onderwysstelsel gekant was. Hierdie beginsels het egter die grond onder die fondament begin uitkrap en hulle sou later deur die Engelse oorheersers vir eie voordeel gebruik word. Want alhoewel die ou historiese skoolstelsel nog 'n tyd ná die oorgawe van die Kaap aan Engeland in 1806 sou voortleef, het die gees van De Mist in die negentiende eeu onder die nuwe bewindhebbers voortgewoeker en is die ou historiese fondament langsamerhand omgestoot en verlę. In die plek van 'n Gereformeerde staat, 'n deur die staat erkende kerk en 'n Gereformeerde staatskool sou daar kom 'n neutrale staat, 'n neutrale staatshuishouding teenoor alle kerkgenootskappe en 'n neutrale skool met neutrale godsdiensonderwys.
Die doel van die Godsdiensonderwys volgens Skriftuurlike beginsels
(bl 145)Die leerstof van die Bybel is draer van sy eie doel. "Ze diende niet alleen als een middel tot vorming van den mensch, maar ook als een ideaal waartoe hij opgevoed moest worden" (Dr H Bavinck).
Wat is die doel van die godsdiensonderwys volgens die beginsels van die Bybel?
In die eerste plaas moet aange-merk word dat die doel wat God met die mens het, ook die bestemming is waarop die Christelike opvoeder moet aanstuur. En hier moet terloops aangeteken word dat die soeker na daardie doel in die Bybel 'n onafsienbaar grote taak het. Die doel van God met die mens is so wyd as die Bybel self, dit loop in elke hoofstuk, ja, in elke teks.
Die soeker na die doel volgens die eise van God in die Bybel kan onder andere op twee maniere te werk gaan. Hy kan regstreeks na die Bybel gaan en in teks na teks die doel naspeur soos dit daar te vinde is in voorbeelde en bevele, in vermaninge en waarskuwinge, in beloftes en vertroostinge ensovoorts. Of hy kan die stelselmatige, logiese uiteensetting van die geloofswaarhede van die Bybel, soos dit gevind word in die belydenisstukke van die kerk waartoe hy behoort, nagaan en daarin die eise van God vind. In die Bybel sal hy vind dat die geloofswaarhede mekaar sonder logiese stelsel opvolg; in genoemde belydenisstukke sal hy vind dat daar 'n geordende stelsel is. Oneindig veel meer sal hy in gemelde stukke vind oor die doel van sy arbeid as in al die opvoedkundige handboeke daaroor.