|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
SKRIFOORDENKING
GOD KOM OPMEET
Amos 7 : 1 - 9
- DS ANDRIES H MULDER (EM) PRETORIA -
GOD KOM OPMEET
Amos 7 : 1 - 9
- Ds. Andries H. Mulder (Em) Pretoria -
Dit het Hy my laat sien – kyk, die Here het op ‘n loodregte muur gestaan, en daar was ‘n skietlood in sy hand. Toe sê die HERE vir my: Wat sien jy, Amos? En ek het geantwoord: ‘n Skietlood. Daarop sê die HERE: Kyk, Ek gaan ‘n skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie. Amos 7:7,8
Ons wil almal graag die Here sien. Maar as jy daardie voorreg het en daar is soveel dinge wat jou aandag aftrek, dan is dit geweldig as jy die Here nie eers raaksien nie.
Ons oë is so op die kwellings en beproewings en moontlike uitkomste gerig, dat ons die skietlood in Gods hand, wat as gevolg van dìe dinge op ons lewens gemik is, alleen raaksien en God miskyk.
Die koms van God:
Israel het sy rug op God gedraai. In hoofstuk 6 lees ons dat Israel ‘n volk geword het van gemak en selfbehaging in hulle voorspoed. Vreeslik is dit as dit die beskrywing is van God se volk. Hoe kan ‘n mens onder die naam van voorspoed leeglê? Kan ‘n gelowige leeglê tot eer van die Here? Dan het ons vergeet dat die voorspoed uit die hand van die Here kom. Waar is die dankbaarheid dan? So ‘n volk en so ‘n mens sal inderdaad met God se hand te doen kry.
Die eerste gesig wat die profeet Amos sien is springkane wat totaal alle gewasse opeet nadat die gras klaar op is. Toe Amos dit sien pleit hy dat die Here tog moet vergeef, want Jakob is klein. God het geluister en die plaag is afgewend.
Daarna sien Amos dat God wil ‘n verterende vuur stuur wat die watervloed verteer en ook die akkerland. Weer pleit Amos by die Here dat die Here moet ophou want Jakob is klein en sal nie staande bly nie.
Maar die derde gesig wat Amos sien is die van ons teksdeel hierbo, wat die oordeel van God is wat nie afgewend sal word nie. Daarom smeek Amos nie eers soos by die vorige twee gesigte dat die Here moet vergeef nie. Met die skietlood sê God dat Hy nie langer sy volk verskonend sal verbygaan nie. Die skietlood sny selfs die profeet af om langer as voorbidder op te tree.
Die derde gesig is geweldig— onafwendbaar! Amos sien ‘n loodregte muur. ‘n Muur wat dus volgens ‘n skietlood opgerig is. ‘n Skietlood is ‘n eenvoudige toutjie waaraan daar ‘n gewig hang. Dit word teen ‘n deel van die muur wat klaar gebou is afgehang om te sien of dit loodreg gebou is. ‘n Baie eenvoudige instrument maar absoluut foutloos. Hierdie muur wat Amos sien is dus opgerig volgens die suiwerste heilige orde, omdat God dit as maatstaf gebruik. Dit is die muur wat God as toets gebruik om die geregtigheid van Sy volk te toets om hierdie regstryd te voer: DIE WET EN WOORD VAN GOD.
Daardie loodregte muur meet Israel se godsdienstige en staatkundige en maatskaplike lewe met die een skone doel: Stel die eer van die HERE voorop! God het aan Jakob, dit is Israel, sy wette gegee. Dit is gegee dat hulle daarop moet ag slaan— en dit is nie gekompliseerd nie, want dis so eenvoudig soos ‘n skietlood. En dit is teen die wet se eis van geregtigheid waarteen Israel hom verset het. Hulle het geen binding van die verbond geduld nie. Elkeen het eenvoudig net gedoen wat hy wou. Wetteloos en Ordeloos.
Maar al het Israel daardie geestelike muur geïgnoreer, daardie MUUR (wet) was daar en volgens die skietlood loodreg. En dit is op hierdie muur wat God nou verskyn met ‘n skietlood in sy hand. Dit is angswekkend!
Met ‘n skietlood word nie net mure opgerig nie, maar bestaande mure word ook getoets of hulle nog loodreg is en of dit skeef begin oorhang en gevaar loop om om te val. En as die gevaar daar is, is so ‘n skewe muur lewensgevaarlik. Daardie muur moet afgebreek word tot op die grond. God gaan nou die skietlood aanlê in die midde van Sy volk.
So as wat ‘n muur opgerig word volgens ‘n skietlood en aan die eise van die skietlood moet voldoen…..so is die skietlood van Israel se muur. Dit is die wet van die Here en aan die eise van die geestelike skietlood, die wet, moet beantwoord word. GOD KOM DIT NOU TOETS! Maar as Almagtige weet God daar is fout met die muur van sy volk wat strydig is met die eise van die wet. Amos het dit ook baie goed geweet. Die lewensbestaan van Israel was nie meer volgens die wet van God nie, maar dis ‘n ruïnie en ‘n chaos van oppervlakkigheid.
Die doel van God se koms:
Ons kan dit bepaal uit die antwoord van Amos op die vraag van God: Wat sien jy, Amos? Daarop antwoord hy: ‘n Skietlood. Amos meld niks van die loodregte muur nie. Ons kan dit dalk nog verstaan, maar dat God op die muur staan vir Amos minder aangrypend is as die skietlood, kan ons sondige verstande nie peil nie. Wat ‘n voorreg om in ‘n gesig die Here te sien! en dit raak weg agter die gedagte van die verskriklike skietlood.
Dis vreeslik! DIE HERE GAAN NOU MEET! Amos weet dat die metery gaan op die sloping van die muur van die volkshuishouding uitloop. Daardie muur het Amos so goed geken en hoeveel kere het hy nie sy volk daarmee aangekla nie! Amos het die geestelike en sedelike ontaarding gesien met die eiewillige godsdiens in Betel. En die muur waarop die Here staan is vas en loodreg:"Die HERE se heilige wet is rein en onbesmet…"(Ps.19:4). Amos het getoorn teen die regsverkragting in die sosiale lewe. Getoets aan daardie muur was die volk se muur en elke lid van die volk se lewensmuur skeef.
O, watter verskrikking is daardie muur van afwyking. Dis ‘n klaagmuur! God kom bevestig die afwyking in die midde van die volk vóórdat Hy afbreek. Tevergeefs het Israel gedink dat God ver weg staan as hulle sondig. Maar God staan in hulle midde op die muur van sy wet en die wet is in die midde van die volk.
Nou kom iets nuuts egter na vore. Waar die hele tyd van Jakob of Israel gepraat is, sê die Here nou in vers 9: Isak. Isak het die naam gekry omdat sy moeder Sara vir God se beloftes gelag het. So het die volk met volharding in die sonde die verbond met God belaglik gemaak. Israel het nie nou net met hulle sonde die verbond nie, maar ook God wat die verbond met hulle gesluit het, belag-lik gemaak.
Werklik, dit is of ons deel is van die gesprek en die gebeure. Netsoos in die tyd van Israel is die kerk en die lidmate vandag besig om die orde in die samelewing te verwerp. Die Woord van God word op aandrang uit die middelpunt van die erediens verdring en die tug van die Woord moet verstil onder die hoë menslike mag van eiewaarde. Daar word nie meer gevra wat die HERE wil hê wat ons moet doen nie, maar ek wil die Here dien soos wat ek wil en dit my pas. Al het Christus wet en profete kom vervul, sak die dankbaarheid onder die mens se eiewilligheid weg. Stellig moet ons maar vra: GAAN DIT OM DIE EER VAN DIE HERE? Kan ons tot eer van die HERE sy Naam laster, of egbreek, of steel, of doodslaan, of die dag van die HERE ontheilig? Die wet van God, dit is die hele Woord van God, bly die spore waarop ons moet loop, soos ‘n trein gebind is aan sy spore om hom te kan instaat stel om te loop.
Israel het Gods wet die rug gekeer, tog was die wet in die midde van die volk. Netso is die wet van God, dit is die hele Woord van God, steeds in ons midde. Onder die inspirasie van die Heilige Gees sê die apostel Paulus in 2 Timotheus 3: 16 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering,…." Ons het die volledige Skrif. Wat is dit nie ‘n wonderlike voorreg nie! En dit is in ons midde. Maar desnieteenstaande is daar teoloë wat sê dat sekere dele is mites. As òns woorde verdraai word en daar word woorde in ons mond gelê wat ons nie gesê het nie, gaan ons daartoe oor om dit reg te stel. Ons tree so op want ons word tot leuenaar gemaak. Maar as ons God se Woord verdraai en Hom woorde in die mond lê, moet God dan daarmee vrede hê? Dog in wese sê ons nie net dat die apostel lieg nie, maar maak ons die Heilige Gees tot leuenaar wat die Skrif ingegee het. Waarlik, ons sal met God self te doen kry!!
Ons oog moet daarvoor oopge-maak word om die skietlood in die hand van die HERE te kan sien. Doen ons dit nie, sal die mure wat so afwyk van die vaste beginsels ‘n klaagmuur en skandmuur word. Nou al moet ons begin om daaroor rou te bedryf deur ons opreg tot die Here te bekeer….om ons waarlik te verootmoedig.
Hoe lyk dit met die skietlood getoets in ons huise? Van buite af skyn daar geen bouvalligheid te wees nie, want ons het die kuns aangeleer om die splete so mooi toe te smeer dat niemand daar iets van kan merk nie. Maar ons vergeet dat die HERE dit wel raaksien. Baie moeite word gedoen om ‘n gunsteling program op die TV te sien, maar ons vaste afspraak met God op sy dag gaan so maklik sydelings by ons verby.
O, vol skeure is die muur van ons huise, ons volk en ons kerk. Ja, dit ten spyte van die feit dat dit lyk of die ryk van die antichris nie meer in sy magsvermoë gestuit kan word nie en in sy honger is hy besig om die huise, skole, en kerke in te sluk en bly netso honger soos die sewe maer koeie in die droom van Farao. Met elke woord en daad wat ons van ons Christelike beginsels prysgee, word God tot leuenaar afgemaak.
Dit het al ‘n baie laat uur geword, maar daar is nog tyd om die HERE op die MUUR met die SKIETLOOD te sien, in ware ootmoet voor God te pleit, soos Psalm 51 dit skuldbelydend besing:
"Ontferm, o God, ontferm U tog oor my!
ontsluit die bron van u barmhartighede;
wis uit die smet wat kleef aan al my lede,
en maak my siel van sondeskuld weer vry!"