Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GLO .... WEET .... BELY

AKTUEEL: Freedom Park dra anti-christelike karakter       

SKRIFOORDENKING:
God kom opmeet

Totius Psalms - verbeterings

Behoudende aksie in die NH Kerk

Kindernagmaal in die NH Kerk?

Nuus uit die VSA

Waterberg - Klassis - PS: Wat nou?

Die onsigbare en sigbare ware kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen Bybelgenootskap se deelname aan Cape Argus fietstoer op Sondag 14 Maart

Nederlandse Hervormde Kerk se naam verdwyn

Dr Theuns Eloff se polities-ekonomiese verbintenisse

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Gereformeerde Onderwys: Die begin van 'n nuwe fase

Die Kerk- en Skoolorde van De Mist

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wie was die anti-gesange mense?

PERSRUBRIEK: 
Lina Spies, medewerker van Psalm-omdigting in die nuwe liedboek van die NG en NH Kerke, glo nie meer in die Goddelikheid van Jesus Christus nie.

Omstrede "Christus-Prent" opnuut in die kollig

"Trane stort ek in my klagte" 

Het ons dan nou almal "PROGGE" geword?

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van waarsêery

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 2 Maart 2004

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

"Trane stort ek in my klagte" 

‘n Besinning oor die doleansie van vroeër … en nou

- DR JAE (KOOS) ADENDORFF - AP KERK GERMISTON -

Om te treur is aan die volk van God nie onbekend nie – ook nie die treur oor die toestand van die Godsvolk nie. Om een voorbeeld te noem: Nadat Nehemia verneem het van die groot ellende waarin die oorgeblewenes in Juda verkeer het en dat die muur van Jerusalem stukkend lê en die poorte verbrand is, lees ons sy reaksie: "En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur" (Neh 1:4).

Die latynse woord doleo is ‘n goeie keuse om hierdie treurtoestand van die Godsvolk uit te druk. Letterlik beteken dit om pyn te ervaar. In geestelike sin beteken dit om te treur of te kla. Hierdie woord het in die Nederlandse kerkgeskiedenis ‘n belangrike rol gespeel. Dit kan vrugbaar wees om hierdie geskiedenis weer ‘n slag van nader te bekyk met die vraag: Watter lesse is daar te leer met die oog op die huidige kerklike situasie in Suid-Afrika?

- Tweede aflewering -

B  DIE DOLEANSIE VANDAG

1. Die wese van ‘n doleansie

In die lig van bostaande historiese oorsig moet die vraag nou beantwoord word: Wat is ‘n doleansie?

In ‘n poging om tot ‘n tipering van die doleansie te kom, is dit goed om na Rullmann te luister. Volgens hom beteken die woord nie net om smart te hê nie, maar ook om dit bekend te maak; om ‘n klag uit te spreek, in besonder by die regter. "Wie zich in zijn rechten verkort acht, dient daarover bij den rechter een klacht in, en gaat alzoo in doleantie" (1917:222). Volgens Kuyper is die adres van die gemeente se klagte nie net die aardse regter/owerheid nie, maar ook God. In sy Tractaat wys hy daarop dat dolerende kerke kerke is wat, "gedrukt gaande onder een opgedrongen ontrouw kerkbestuur, naar God klagen, of haar plaag mocht worden weggenomen" (Rullmann 1917:223). Die Congres van 1887 het geoordeel dat die term "dolerende" eers by die naam van ‘n kerk gevoeg mag word "wanneer aan zulk een kerk belet wordt zich als de oude Gereformeerde Kerk te doen gelden; ‘t geen inzonderheid blijkt, wanneer haar door hen, die de beschikking over gebouwen, goederen en traktementen hebben, het gebruik en genot ervan feitelijk wordt ontzegd" (Rullmann 1917:224).

Die bedoeling van doleansie is nooit om ‘n nuwe kerk te stig nie. Dis juis ‘n poging om die bestaande kerk te reformeer. So het die dolerendes in Nederland hulleself gesien as "de aloude kerk, de Nederduitsch Gereformeerde Gemeente, de voortzetting van de historische kerk der vaderen, die echter door een onwettig bestuur in haar vrij en zelfstandig bestaan beleedigd en gekrenkt werd. De toevoeging ‘doleerende’ wilde dan ook alleen maar zeggen, dat de kerk in het gebruik van haar goederen en in het uitoefenen van haar rechten gewelddadig werd belemmerd, en dat zij daarover bij de Overheden des landes klaagde, en vroeg: ‘Doet mij recht tegenover mij wederpartijder" (Rullmann 1917:226).

Om die erns van haar klagte te onderstreep, begin die dolerende kerk haar eie lewe dadelik reformeer ooreenkomstig die Woord van God. ‘n Woord van Kuyper in dié verband is baie belangrik: "Een kerk die klaagt zonder zich op te richten, is een lamenteerende en geen doleerende kerk" (Bouma 1986:19).

Op grond van die voorafgaande kan ons sê: Doleansie beskryf die toestand van ‘n kerk wat, treurende oor die feit dat dwaalleer as gevolg van die optrede van die kerkleiding ‘n vastrapplek in die kerkverband gekry het, die stryd aanknoop om die kerk tot haar belydenisgrondslag terug te lei.

Die geskiedenis leer dat ‘n doleansie prosesmatig plaas-vind. Die proses kan soos volg beskryf word: Waar die binding aan die belydenis prysgegee word en die kerkverband in ‘n hiërargie ontaard, roep dit altyd verset na vore. Diegene wat getrou wil bly aan die belydenis en reg wil laat geskied aan Christus se heerskappy oor en in sy kerk, kan nie anders as om te treur oor die vervalle toestand van die kerk nie. Dit bly egter nie by ‘n stille treurlied nie. Daadwerklike pogings word aan-gewend om die kerk te reformeer en na haar belydenisgrondslag terug te lei. Hierdie pogings begin by die plaaslike kerk waar die eie kerklike lewe onverwyld volgens die Woord van God ingerig word. In die proses van kerkreformasie vind die klaende/treurende kerk dit dikwels nodig om bepaalde besluite van kerkvergade-rings te verwerp as in stryd met die Skrif en belydenis. Hierdie pogings lok op sy beurt teenstand uit, dikwels in die vorm van maatreëls wat die treurendes die gebruik van die kerklike eiendomme en goedere ontsê. Dan het die proses die punt bereik waar die treurendes hulle af-skei en ‘n dolerende kerk oprig.

Wie in die lig van voorafgaande die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis in oënskou neem, kom gou tot die gevolgtrekking dat bogenoemde proses besig is om hom ook hier te lande te voltrek.

2. Doleansie in die NG Kerkverband

‘n Omvattende geskiedenis van verset teen kerklike besluite in die NG Kerkverband moet nog geskryf word. Vir die doeleindes van hierdie referaat wil ek net enkele pennestrepe trek.

Veral sedert die opspraakwekkende vergadering van die Algemene Sinode in 1986 het besluite van die AS telkens beswaarskrifte ontlok. In dié jaar het die AS die be-eidstuk Kerk en Samelewing goedgekeur wat gemoedere in beroering gebring het. ‘n Stroom beswaarskrifte het op die tafel van die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake beland. Protesvergaderings is ook gehou. Uiteindelik het die beleidstuk tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk gelei. Nie alle "beswaardes" het na die APK oorgegaan nie. ‘n Groot aantal lidmate het die NG Bond gestig, wie se naam later na die Afrikaanse Gereformeerde Bond verander is. Hierdie Bond het op deurlopende grondslag met die Algemene Sinodale Kommissie gesprek gevoer oor die besware van talle lidmate teen Kerk en Samelewing. Maar ook op streeksinodale en ringsvlakke is lewendige debat oor verskeie aspekte van Kerk en Samelewing gevoer.

Daaropvolgende Algemene Sinodale vergaderings sou ook ander besluite neem wat ongelukkigheid veroorsaak het. Om enkeles te noem: die toelating van die vrou tot die lerende en regerende amp, die toelating van kinders wat nog nie belydenis afgelê het nie tot die nagmaal, die bediening van nagmaal in kleingroepe, ensovoorts. Verder het uitsprake van professore en ander teoloë opskuddings veroorsaak. Die wyse waarop sekere kerkrade en predikante wat met sinodale besluite verskil het, hanteer is, het ook weerstand opgeroep. Meer as een organisasie het ook tot stand gekom wat die reformasie van die kerkverband op die oog gehad het – waarvan die Werkgemeenskap vir Kerkreformasie een is! Ampsdraers en lidmate het al meer hulle bekommernis uitgespreek oor die toenemende vrysinnigheid wat binne die kerkverband sigbaar geword het en wat ooglopend toegelaat is.

Uiteindelik sou die ongelukkigheid tot uiting kom in verklarings van kerkvergaderings. Bekend is die verklarings van die gemeentes Memel, Eendekuil en Brakpan-Suid, om maar enkeles te noem. In 2002 is ‘n konferensie te Bloemfontein belê, byeengeroep deur die NG gemeente Hospitaalpark, waartydens lidmate en kerkrade van oral oor die geleentheid gebied is om hulle harte uit te praat oor die verwarrende standpunte van teoloë. Die konferensie is afgesluit met die ondertekening van ‘n samewerkingsooreenkoms wat só lui: "In gehoorsaamheid aan God-Drie-Enig, wil ons ons as Kerke en/of individue laat vergader in die eenheid van die ware geloof. Daarom onderskryf ons hiermee die Bybel as die gesaghebbende Woord van God en die drie Formuliere van Eenheid omdat dit in ooreenstemming is met die Woord van God. Ons wil mekaar in alles hiertoe help" (Whitehead 2003:150).

Nog geen kerkraad het dit amptelik in soveel woorde uitgedruk dat hulle tot ‘n staat van doleansie oorgegaan het nie. Die vraag wat egter gevra kan word, is of daar nie binne die NG Kerkverband alreeds ‘n de facto doleansie plaasgevind het nie.

3. Doleansie in die Gereformeerde Kerkverband

Binne die geledere van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika was daar eweneens groeiende besware teen denkrigtings wat beskou is as in stryd met die Skrif en belydenis. Op die vergadering van die Nasionale Sinode van 2003 is veral twee besluite geneem wat groot weerstand sou ontlok:

Die sinode se besluit om die 2003 omdigting van die Psalms naas die "Totius"-berymings vir gebruik in die eredienste aan te beveel.

Die sinode se besluit dat vroue wat die nodige gawes het as diakens in die GKSA verkies en bevestig kan word.

Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Waterberg het die besluite van die sinode in behandeling geneem en op ‘n bepaalde optrede besluit. Albei bogenoemde besluite is na opgaaf van redes deur die kerkraad verwerp. Hierdie verwerping van sinodebesluite moet volgens die kerkraad beskou word "in die lig van die formulier vir die bevestiging van ampsdraers en van die Belydenisskrifte waarin elke gelowige tot verwerping van die leuen opgeroep word." In die lig daarvan het die kerkraad besluit "om handelend op te tree deur eerstens die gemeente volledig in te lig en daarna die besluit in die volle kerkverband bekend te maak." Verder het die kerkraad besluit om beswaarskrifte teen die besluite in te dien wat oor drie jaar by die volgende sinode behandel sal word. "Gedurende hierdie periode", kla die kerkraad, "word ons dan gedwing om onafhanklik – independentisties – in die kerkverband te leef. In wese dra so ‘n optrede die kiem van kerkskeuring. Dit mag nie en is in stryd met ons Belydenis art. 28 NGB. Ons is egter daartoe gebind om volgens art. 32 NGB ‘alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien’ te verwerp." En dan verklaar die kerkraad: "In hierdie omstandighede het die kerkraad besluit dat ons oorgaan tot ‘n staat van doleansie en dat ons voortaan amptelik bekend sal staan as die Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) totdat bogenoemde besluite herroep is en die gemeenakkoord tussen kerke herstel is." Hierdie optrede van die kerkraad is ‘n "opregte poging om kerkskeuring te verhoed" maar terselfdertyd "daadkragtig reformerend" op te tree.

4. Afsluitende opmerkings

Abraham Kuyper is kragtens die in 1867 ingevoerde reglement met betrekking tot benoeming en beroeping nie deur die kerkraad nie, maar deur die gemeente van Amsterdam beroep. In sy intreepreek verwys hy daarna en sê dan dat hierdie nuwe beroepingswyse "in haar schoot een nieuwe kerk draagt, en ook hier komen de geboorteweeën niet zonder smart en zonder gevaar" (Rasker :174-175). Ek meen dat dieselfde gesê kan word van die optredes van kerkrade hierbo beskryf. Ek wil dit waag om te sê: ‘n Nuwe reformasie het homself aangekondig!

In die besinning oor die pad vorentoe sal twee sake indringend bespreek moet word (ook in die geledere van die Werkgemeenskap):

Die eerste is die plek en funksionering van die belydenisskrifte in die kerklike/gemeentelike lewe. Daar word gesê ons leef in ‘n post-konfessionele era. In die toekomsgerigte tyd waarin ons lewe word mense nie meer geïnspireer en gemotiveer deur die dinge van die verlede nie. Is die belydenisskrifte nog nodig? Is dit nog voldoende om as akkoord van kerklike gemeenskap te dien? Word daar nie maar net lippediens gelewer aan die belydenisskrifte nie? Hoe funksioneer dit in die daaglikse lewe van lid-mate? Is daar ruimte vir ‘n nuwe, eietydse belydenisskrif? So kan die vrae vermenigvuldig word.

Ook die gesprek oor kerkregering kan nie langer uitgestel word nie. Wat is die betekenis van die Dordtse Kerkorde vir ons vandag? Neig die NG Kerk wat sy kerkordelike inrigting aan betref nie meer in die rigting van kollegialisme nie? Word die plaaslike kerk werklik as komplete kerk gesien? Het ons nie ook ‘n Tractaat van de Reformatie der Kerken nodig waarin die kerkordelike weg vir ‘n doleansiebeweging aangewys word nie? Moet gemeentes in die NG Kerkverband wat soos die Gereformeerde Kerk Waterberg sinodale besluite verwerp het, nie ook amptelik oorgaan tot ‘n staat van doleansie nie? Nog meer vrae kan ook hier bygevoeg word.

Nehemia het nie net gesit en treur nie. Hy het ook opgestaan en begin doen. Laat sy woorde in Nehemia 2:17 ook vir ons tot inspirasie en bemoediging dien: "Kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer ‘n voorwerp van smaad kan wees nie."