|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
HET ONS DAN NOU ALMAL "PROGGE" GEWORD?
In die rubriek Briewe van ons lesers in Die Kerkblad (Februarie 2004, bl 45) beantwoord Deputate vir Owerheidsake 'n vraag oor die Kerke-afvaardiging wat 'n gesprek met die ANC-leierskap gevoer het Br PGW Roets van Thabazimbi wou graag duidelikheid hê of die aard van die gesprek "die oorwoë standpunt van ons kerk" is. In plaas daarvan om dié vraag te beantwoord het die Deputate ongemotiveerd (!) die voormalige beleid van afsonderlike ontwikkeling, soos dit in die destydse wetgewing toegepas is en wat deur die Verenigde Party, later ook deur die Progressiewe Party, betwis is, verwerp. Volgens hulle is op grond daarvan "die vorige regering se aansprake op Christelikheid debatteerbaar". Hulle poneer onder andere:
"Br Roets se verwysing na die vorige owerheid as Christelik en die ANC as 'n onchristelike regeringsparty is uiters eensydig. Die vorige owerheid het dit self inderdaad in die inleiding van die vorige Grondwet 'n Christelike owerheid genoem. Christelikheid behels egter meer as woorde. Tydens die periode van 1910 - 1994 het die owerheid op 'n sistematiese wyse teen groepe mense on ons land gediskrimineer op grond van ras en kleur. Enkele voorbeelde hiervan is die klassifisering van landsburgers op grond van ras (Wet op bevolkingsregistrasie, 1950), die noodgedwonge verskuiwing vanaf grond en eiendom sonder vergoeding (Swart Grond Wet 1913 en die Swart Stadsgebiedenwet 1927), die skending van privaatheid (Wet op verbod van gemengde huwelike, 1949), die inperking van vryheid van beweging (Die Wet op Groepsgebiede, 1950; en Wet op Swartes, 1956), die ontneming van vryheid van spraak (Wysigingswet op afsonderlike verteenwoordiging van kiesers, 1956), die reservering van sekere werke net vir blankes (Wet op arbeidsverhoudinge, 1956, die inperking van godsdiensvryheid (Wysigingswet op swart wetgewing, 1956, die spandering van tien keer meer geld aan die wit onderwys as swart onderwys ensovoorts.
Die bogenoemde gegewens maak die vorige regering se aansprake op Christelikheid debatteerbaar", aldus die Deputate vir Owerheidsake van die GKSA.
Ons kommentaar hierop:
"Toe iemand die onderskeid tussen groot en klein apartheid uitgevind het, het hy nie die presiese skeidslyn of verskil tussen die twee aangedui nie. Of as hy dit probeer aandui het, was dit makliker gesê as gedoen.
"Die afgelope jare het ons dikwels die stelling gehoor: Groot apartheid is goed; dis selfs vir die buiteland aanvaarbaar. Daarmee word dan blykbaar bedoel dat skeiding van volke en hul vestiging in eie lande of gebiede aanneemlik is en teenoor kritiese buitelanders verdedig-baar is. Klein apartheid, daarenteen sou dan verwerplik wees omdat dit kwetsend, vernederend en diskriminerend teenoor nie-blankes sou wees. Dit moet dan ook, indien dit nog geduld word, bloot tydelik wees en alle klein apartheidsmaatreëls moet mettertyd herroep word. As groot apartheid slaag en uitgevoer is, dit wil sê as die verskillende volke in hulle eie tuislande onder eie regerings gevestig is, moet die klein apartheidsmaatreëls in blanke gebied verval. ...
"Maar nou, klein apartheid: wat is dit? Dis wesenlik nie net 'n maatreël nie. Dit is, van die blanke kant gesien, optrede op verskillende terreine waardeur hy homself vrywaar en beskerm teen sosiale gelykstelling en biologiese vermenging van blank en nie-blank. Die besef van andersheid en die wil om die andersheid te handhaaf, bepaal optrede in 'n menigte situasies waardeur die eie aard en die andersheid beveilig word. ...
"Apartheid, ook klein apartheid, berus op 'n wetmatigheid wat aan die eie aard van 'n gesonde volks- en kultuurlewe ten grondslag lê, naamlik die insluiting van die eie of die assimileerbare, en die uitsluiting van die vreemde, wat wel goed mag wees, maar wat nie vir die eie aanneemlik of voordelig is nie."
Dr AP Treurnicht. In: 1975. Credo van 'n Afrikaner, Kaapstad: Tafelberg (bl 21, 22)