|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 2 Maart 2004
REDAKSIONEEL
Ons lewe in 'n tyd van spanning en onsekerheid met die oog op die toekoms.
Die rede is ontevredenheid met die omstandighede en regeringsinstellings. Dit betref die wêreldlike asook die kerklike, wat 'n beleid voer wat swak en prinsipieel betwisbaar is. Die misdaad vier hoog-ty en die polisie se hande is te vas gemaak om dit effektief te kan weerstaan. Die bevolking op die platteland moet self vir eie beskerming sorg en wanneer hulle dit doen is hulle aan allerlei voorskrifte en beperkings onderhewig gestel. Die geldontwaarding duur voort en die ouer garde, wat met spaargeld en pensioen moet klaarkom, lewe al hoe swaarder.
Die slegste om te verteer is die aftakeling van morele en sedelike gedrag en wetgewing. Die Staatslotery, wat aanvanklik in enkele goedgekeurde cassino's op klein skaal bedryf is, het nou 'n omvang gekry met verkoopspunte in bykans elke voorstad en winkelkompleks. Die massa, blank sowel as swart, neem nou tot hulle eie skade daaraan deel. Sedes word afgetakel en prostitusie in die hand gewerk deur advertensiekolomme in die koerante en sogenaamde geselskapklubs wat hulle dienste teen 'n prys aanbied. Dié besighede in ons stede en dorpe floreer al hoe meer.
Temidde van al hierdie omstandighede duur die kerklike onenigheid oor die relativering van die kerkordelik-liturgiese reëls soos dié oor die vrou-in-die-amp en die invoering van 'n nuwe Lied- of Psalmboek, nagmaalvierings en kinderdeelname volgens rasionele argument voort. Beswaarskrifte daarteen beland in mandjies van vergetelheid. Dit alles veroorsaak 'n toestand van onvergenoegdheid en pessimisme.
"Ek roep om hulp, ek is onmagtig, die vleuels van my siel geknot. Maar U, my Koning en my God, wees U my, arme, tog gedagtig, en reddingskragtig." (Psalm 5 : 2 berymd)