|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
WEER 'N PSALM-GESANGEBOEK?- DS JP COETZEE -
In die jaar 1859 het die Gereformeerdes in hierdie land hulle ontworstel van die kerklike diktatuur. Dit het gegaan oor die sing van onregsinnige gesange in die erediens. Die Gereformeerdes in ons land staan nou weer in dieselfde stryd. Daar is egter 'n formele verskil:In 1859 is onomwonde verklaar dat die nuwe kerkliedere as (evangeliese) gesange bekend sou staan. Deesdae word gesange in 'n nuwe vorm aan die Gereformeerdes opgedring. Dit word omgedigte psalms genoem. In Die Kerkpad is reeds beskryf dat die term omdigting beteken dat van die een gedig 'n ander nuwe gedig gemaak word. Dit is totaal iets anders as beryming van die Psalms.
Dié verskil is reeds dikwels in hierdie en ander publikasies aangetoon. Die digter, TT Cloete, het onder andere self gesê dat sy omdigting nie met Messiaanse Psalms rekening hou nie, selfs nie in die geval waar die Here Jesus Self die verband aangetoon het, soos byvoorbeeld in Psalm 110 nie. Daaroor het prof VE d' Assonville uitvoerig gepubliseer (vgl Die Kerkpad, Januarie 2002, bl 7 en 8). Uit die Cloete-kamp het niemand dit tot nou toe gewaag om dit te beantwoord nie. Die ryme wat as Cloete se omdigting van psalms aangebied word, is inderdaad geen beryming van die Psalms nie.
Verdere bewys daarvoor dat Cloete se pogings nie meer Psalms is nie, vind ons in die volgende:
1. Cloete hou geen rekening met die Hebreeuse grondteks nie.
2. Cloete toon geen begrip vir die poëtiese struktuur van Hebreeuse gedigte nie. In die Hebreeuse digkuns is struktuur die hoofsaak. Sake soos rymwoorde en maklike taal het in die Hebreeuse digkuns geen plek nie. Naas struktuur noem ons in die be-sonder ook die openbaringsaspek van die Psalms - hulle is immers deel van God se Woord (Luk 24:44).
STRUKTUUR:
In die Hebreeuse digkuns, dus ook in die Psalms, is dit van die grootste belang dat die volgorde van gedagtes en sinne aandag ontvang. Maar vir Cloete beteken dit niks om van 'n bepaalde vers vanuit die middel of selfs vanaf die einde van 'n gedig 'n aanvangsreël te maak nie. Daarmee bederf en tas hy (stellig onwetend) die poëtiese struktuur van haas elke Psalm aan. 'n Kenner van Hebreeus en 'n uitmuntende Gereformeerde teoloog soos Totius het hom in sy beryming van die Psalms nie aan so 'n vergryp skuldig gemaak nie. Sodoende het hy aan die Psalmsingers in die Kerk van Christus die struktuur van die Psalms sekuur aangedui. Selfs die 1983 vertaling van die Bybel het in die onberymde Psalms aandag aan hierdie struktuur verleen. Cloete het in daardie op-sig nie by die 1983 vertaling aangesluit nie, asook - helaas - nog minder by die oorspronklike Hebreeuse teks.
Met reg kan dus gekonkludeer word dat die "Psalmomdigtings" van Cloete nie berymde Psalms is nie. Hy stel dit dan ook as "Kerklied" bekend. Dit is wesenlik iets anders as Psalms.
In die Kerkorde wat deur die Gereformeerde Kerke onderhou moet word, word in artikel 69 vasgestel dat die 150 Psalms (tesame met vermelde Skrifberymings) gesing moet word. In ouer uitgawes word nog verwys na die Psalms van Dawid. Hierdie artikel maak dus nie die deur oop vir elke ambisieuse digter om die Psalms te probeer aanvul of in omdigting dit van sy Psalmkarakter te beroof nie. Daarom is die Cloete-beryming in stryd met artikel 69 van die kerkorde.
OPENBARINGSASPEK:
Volgens Christus se uitspraak (Luk 24:44), en volgens al die baie aanhalings uit die Psalms (vgl bogenoemde verwysing na artikel van VE d' Assonville) is die Psalms, soos die Heilige Skrif, Christosentries. Hiervan glo Cloete, in opvolging van sy, soos hy hulle betitel: "deurwinterde teoloë", niks. Vir die Gereformeerde Kerke is sy verwerking van die Psalms dus niks werd.
Maar nou rys die vraag van hoe dit moontlik is dat in Gereformeerde kringe daar sulke vurige voorstanders van die Cloete-gesange kan wees. In die persone van die Sinodale Deputate vir Liturgiese Sake is daar inderdaad sulke geesdriftige voorstanders. So ook in die kerkverband, soos blyk uit die rapporte aan klassisse. Die gedagte by diesulkes is om die Skriftuurlike en wetenskaplike kritiek op die Cloete-poging te negeer. Hierdie mense dink blykbaar dat as hulle maar net lank genoeg stil bly sal die kerke hulle glo! Swye is nie die enigste taktiek nie. In die geval waar hulle gedwing word om te praat (soos in Klassisse) probeer hulle om met die metode van kort kennisgewing kritiek te voorkom. Dan is daar ook nog die metode van kwasie-geleerdheid: hier word soms onbeskaamd geheul met teologieë van Skrifkritiek (daar word gesê dat die Messiaanse Psalms maar op 'n foutiewe teorie en toepassing berus. - ten spyte daarvan dat die Here Jesus dié Psalms op Homself betrek het).
Ook word die versugting uitgespreek dat ons uiteindelik 'n Psalmboek moet kry met Cloete naas Totius. Dit is die uiterste onsin. Dit gaan nie om Cloete versus Totius nie, maar wél oor die humanisme waarby die mens sentraal staan teenoor die beginsel van Soli Deo Gloria: aan God alleen die eer.
Daar is al genoeg geskryf oor en gewys op die leerstellige dwalings in die Cloete-omdigtings. Daaroor kan nog veel meer gesê word. Dit staan egter wel reeds vas dat gesange (al kom hulle van Cloete en al noem hy hulle psalms) en die huidige Afrikaanse beryming van die Psalms wat vanaf 1936 in gebruik is, nie in een bundel vir die Gereformeerde kerke aanvaarbaar kan wees nie. Trouens as mense nou regtig Cloete se "ersatz psalms" wil sing, kan 'n boekie met hierdie sogenaamde kerklied vryelik gekoop word. Dis vir die Gereformeerde Kerke nie nodig om dit selfstandig uit te gee nie.