|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
PSALMBERYMINGKommentaar van die kerkraad Gereformeerde Kerk Pretoria-Die Kandelaar aan die deputate Liturgiese Sake van die GKSA
(Gepubliseer in Kerk en Woord, maandblad van die GK, Die Kandelaar, Maart 2002, bl 7-10)
Graag voldoen ons aan die die versoek om 'n beoordeling van en kommentaar op die nuwe Psalmberyming (NB) te gee. Ons besef terdeë dat dit 'n groot werk was wat veel opofferings van alle betrokkenes gevra het en wil ons waardering daarvoor uitspreek. In die proses van beoordeling het ons, soos deur u versoek, die oorspronklike Hebreeuse Bybelteks as die kriterium laat geld en nie die Totius-teks nie.Dit sou vir ons 'n saak van groot vreugde gewees het indien ons die NB onvoorwaardelik sou kon aanvaar het. Helaas is dit nie die geval nie. Die redes daarvoor sal duidelik wees uit dit wat volg. Vanweë die tydfaktor kon ons uiteraard onmoontlik alle psalms in die NB toets. Daarom het ons 'n willekeurige seleksie van tien psalms geneem wat, na ons mening, 'n genoegsame steekproef is en 'n goeie beeld gee van die ernstige besware wat ons teen die NB koester. Uiteraard het ons met die bevindings uit die steekproef ook 'n aantal ander psalms getoets en bevind dat deurgaans dieselfde besware ook daar geld. Behalwe dit is daar 'n aantal algemene sake wat ons betreffende die NB waargeneem het. Verder is daar ook kerkordelike aspekte wat ons graag onder u aandag wil bring.
Hier volg kommentaar en beoordeling van die NB, psalms 5, 18, 50, 51, 52, 101, 102, 121, 124, en 145.
Algemene besware
1. Die "Voorwoord by die Psalms" wat verskyn in die "Liedboek van die kerk" stel met verwysing na die 1978-uitgawe van die "Psalms en Gesange" die volgende: "terwyl in die geval van die Gesange daar 'n drastiese vernuwing was van sowel die teks as die melodieë en daar 'n wye verskeidenheid musiekstyle gebruik is, is die Psalms (in dieselfde bundel) aangebied in die verouderde kleed van inhoud, vorm, taal en spiritualiteit. Verder het daar intussen 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel in 1983 verskyn. Begryplik het die Psalms as kerklied skerp daarby afgesteek. Dit het die groot aandrang laat ontstaan om 'n eie, heeltemal nuwe beryming uit die grondteks te laat maak waarop alle kerke saam 'n seggenskap sou hê.
Die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling van 1983 was dus 'n groot faktor om te kom tot 'n nuwe psalmberyming. Die Totius-beryming gaan na bewering mank aan 'n ver-ouderde kleed van inhoud, vorm, taal en spiritualiteit. Maar die inhoud en spiritualiteit is, met sy gebreke, deur en deur Skriftuurlik en daarom ook duidelik geënt op die gereformeerde belydenis. Was hierdie gereformeerde spiritualiteit nie onderliggend die steen des aanstoots en is daarom so radikaal gebreek met die Totius-beryming nie? Mag ons as gereformeerdes so 'n uitspraak aanvaar? Ons mis as gereformeerdes in die NB juis die tipies skriftuurlik gereformeerde karakter wat so kenmerkend van die Totius-beryming is. Is dit nie 'n ongereformeerde Skrifbeskouing wat noodwendig die psalmberyming van Totius in diskrediet bring nie?
2. Die digter TT Cloete het in die Sondagkoerant Rapport, 4 November 2001, vertel dat hy "die Messiaanse verwysings" op grond van nuwe teologiese navorsing verwyder het. Was u as deputate daarvan bewus en het u daarmee ingestem? As gereformeerde kerke kan en mag ons dit nie aanvaar nie! Duidelik is ook dat in die Messiaanse Psalm 110 nie van die Hebreeuse grondteks uitgegaan is nie, maar wel van die 1983 Bybelvertaling soos trouens ook in ander berymings die geval lyk te wees.
3. Behalwe insidentele weglatings is daar bewus groot dele van van sommige psalms weggelaat. As voorbeelde verwys ons na die volgende psalms.
In psalm 31 van die NB is 12 van die 25 verse ge-deeltelik of heeltemal weggelaat en nie berym nie. Hierdie verse is 4, 6, 8, 13, 14, 15, 17, 18, 21, 22, 23 en 25.
Dieselfde geld vir psalm 37 waar 20 van die 40 verse weggelaat is, naamlik verse 6, 7, 10, 11, 12, 17, 19, 21, 22, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 34, 35, 36, 38 en 39. Van psalm 119 is die grootste deel weggelaat, blykbaar omrede 'n groot deel van die psalm bloot herhalings sou wees. Ook psalm 136 is drasties verkort deur weglatings.
Hierdie weglatinngs uit die oorspronklike Hebreeuse teks is deurgaans in die NB 'n algemene verskynsel. Volgens die voorwoord in die proefbundel is die NB gedoen en deur die Psalmkommissie getoets volgens die oorspronklike Hebreeuse teks van die Ou Testament. Hoe rym dit met die talle weglatings wat ons gevind het? Dit getuig beslis nie van eerbied vir die Heilige Skrif nie. Willekeurige, eiemagtige weglatings is in stryd met die Skrif self (NGB, art 7).
4. 'n Verdere punt is die willekeurige en verkeerde gebruik van God se name. Ons wil in die verband verwys na sinodebesluite hieroor: Acta 1991:114 -2 en Acta 1994:122 en 123. Dié sinodebesluite is geheel en al verontagsaam in die NB. Dwarsdeur die NB word daar willekeurig van die name God, Here en Heer gebruik gemaak. Ook word God se name dikwels as stop- of opvulwoord gebruik.
5. Een van die kenmerkende dinge van die Psalms is dat dit liedere van die verbond is. Dit is nie in ag geneem in die NB nie. Belangrike verbondswoorde en -terme word deurgaans in die NB weggelaat. Dit gebeur met die woorde geregtigheid, goedertierenheid, barmhartigheid, regverdige, hulle wat die H
ERE soek, ensovoorts, wat almal kenmerkend is in die verhouding van die HERE met sy kinders.6. Wat die musikale aspek van die NB betref, konstateer ons 'n agteruitgang in vergelyking met die 1976-psalmboek. Die herstel van veel melodieë in die 1976 bundel is grotendeels weer ongedaan gemaak. Die mite van die onsingbaarheid van die Geneefse melodieë, wat 'n kosbare erfenis van die Gereformeerde Kerke is, het weereens talle slagoffers geëis.
Kerkordelike besware
1. Dit bevreem ons dat die deputate ver voor die keerdatum vir beoordeling en kommentaar, reeds in Mei 2002, publiek stel (in die voorwoord van die proefbundel): "let ook daarop dat die Deputate beplan om by die Sinode van 2003 aan te beveel dat hierdie beryming, nadat dit goedgekeur is, naas die bestaande 'Totius-beryming' in een bundel gepubliseer word."
Die deputate het dus reeds 'n besluit oor die nuwe beryming geneem voordat enige kommentaar uit die kerke hulle kon bereik het. Blykbaar ag hulle kennisname en beoordeling daarvan onnodig. Feitlik word hiermee die opdrag van die Sinode 2000, om die nuwe beryming aan die kerkrade beskikbaar te stel vir beoordeling en kommentaar, tersyde gestel. Die bedoeling van dié sinodebesluit is tog duidelik dat hierdie beoordeling en kommentaar uit die kerke deur die deputate oorweeg wou word alvorens hulle tot 'n besluit en aanbeveling sou kom? Met hierdie handelswyse maak die deputate wesenlik die kerke onmondig en daardeur hulle besluit en aanbeveling ongeldig.
2. In 'n artikel van ds JP Bingle (voorsitter Deputate Liturgiese Sake), wat in Die Kerkblad van 21 November 2001 verskyn onder die opskrif: "Hebreeuse Psalms in himniese Afrikaans", word gestel dat "dit nie die taak van die Sinode sal wees om elke woord van die voorgelegde omdigting goed te keur nie. Dit gebeur nie so met 'n Bybelvertaling nie (Acta 1936:141). Die besluit wat geneem moet word, is of die nuwe beryming vir gebruik in die kerke goedgekeur kan word." Dit is uiteraard reg. Deskundige deputate word benoem wat dié werl verrig en die Sinode hieroor adviseer.
As gelet word op die noukeurigheid waarmee nuwe Skrifberymings beoordeel is (Acta Sinode 1997:773 - 785), dan kom die vraag op of al die Psalmberymings, wat feitlik ook Skrifberymings is, nie op dieselfde wyse behoort beoordeel te word nie. Gesien die groot gewig van die saak, is ons van mening dat die Sinode (ander - PvdK) deputate behoort te benoem om die NB te toets aan die hand van die deur die Sinode goedgekeurde beginsels en riglyne vir die keuring van Skrifberymings vir die erediens, "wat net so sal geld vir Psalms wat in wese ook Skrifberymings is" (Acta Sinode 1994:553, punt 4).
Ons bede is dat die Here God u deur sy Woord en Gees sal lei by die verdere hantering van hierdie saak. En dat die uitkoms sal wees tot meerdere glorie van sy naam en tot die opbou in die allerheiligste geloof van sy kerk in ons land.