|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
Drieledige tema van die Kongres van die Vereniging Bybel en VolkINDIVIDUALISME EN MENSEREGTE VERNIETIG ONS VOLKSBESTAANgehou te Pretoria op Saterdag 20 April 2002
Voordrag 1: Ds G Opperman (bevestig in die GK Sannieshof op 27/28 April 2002)
" Strydvaardigheid teen individualisme en menseregte in gesinsverband"
Huisgesin - vanwaar en waarnatoe?Namate die 21ste eeu koers kry, kom die huisgesin weereens onder die soeklig. Wat sal ons met dié instelling maak?
Ons kan 'n grap daarvan maak soos baie TV sit-kommedies al lank reeds wel doen: dan kan ons die huisgesin sien as die broeikas van allerhande kostelike insidente - gewoonlik ten koste van een of ander gesagsfiguur. Die huisgesin bestaan dan uit oulike spitsvondige kinders wat hulle onbeholpe ouers kort-kort moet reghelp en selfs op hulle plek sit.
Ons kan ook van die huisgesin 'n onheilige loer-broederskap maak - 'n plek waar 'n groep jongmense 'n visbakbestaan moet voer en waar die een die ander ter wille van die TV kykerspubliek in die rug moet steek om met 'n miljoen Rand-prys weg te loop ...
Die parodie op die huisgesin kan ook in alle erns ander vorme aanneem. Op die voorblad van 'n handboek oor ''lewensvaardighede'' van die kurrikulum 2005 word daar 'n ander soort huisgesin voorgestel: twee blanke mans met 'n gekleurde kind in hul arms ... 'n manlike man en 'n vroulike man met hulle aangenome kind. Ons kan dit in vandag se terme 'n ''polities korrekte'' huisgesin noem.
Daar is afwykende huisgesinverskynsels wat nie eers meer die wenkbroue laat lig nie: enkelouergesinne waar een van die huweliksmaats met die kinders agtergelaat is. Enkelouergesinne waar die vrou besluit het om kinders sonder 'n huwelik voort te bring en op te voed, kom toenemend voor.
Dit is die produkte van 'n tyd waar 'n ieder en 'n elk kan leef soos hy wil en met wie hy/sy wil. 'n Tyd wat in die boek Rigters getipeer word met die woorde: elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.
Aan die ander kant is daar tog ook mense wat hulle daarop instel om weer orde te skep. By die Parlement van Wêreldgodsdienste in Kaapstad (1999) het 'n Islam-professor uit Istanboel gepraat. Hy sien 'n nuwe wêreldorde kom. Hy sien 'n baie belangrike rol vir Islam in dié nuwe wêreldorde. Islam sal sorg dat daar herstel kom op die gebied van die huwelik en gesinne. 'n Vervalle wêreld honger en dors na dié waardes wat Islam en sy heilige boek Koran hulle kan bied.
Ons soek die antwoord op 'n ander plek. Daar is 'n ander Heilige Skrif wat ons die antwoord op gesinsverval en gesinsverwording gee ... die antwoord lê in die Skrif van die enigste ware God. Die antwoord lê in die Woord van die gekruisigde en opgestane Christus.
Soek ons 'n antwoord op die moderne en/of postmoderne aanslag op die gesin en die volk, dan moet ons dit in die Bybel begin soek. Begin ons in die Bybel soek, is die eerste vraag wat ons moet vra: Wat is die oorsprong en doel van die huisgesin.
Waar kom die huisgesin vandaan en waarom is dit daar?
Volgens die Woord is die mens na God se beeld gemaak. Elke mens is individueel daarna gemaak. Tog word God se beeld in Genesis 1:26 ook as meervoudig voorgestel: '' ons beeld''. ''Ons beeld'' beteken dat God ''man en vrou'' geskep het met die opdrag om kinders voort te bring: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Man, vrou tesame met hulle kinders is dus ook 'n weerspieëling van God se beeld, 'n uitdrukking van sy wese. God se beeld is ook 'n gesinsbeeld. Net so word die verborge werking van God se huishouding aan die gelowiges in die Johannes-evangelie voorgehou as gesinswerk. My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook, sê die Seun Jesus Christus (Joh 5:17).
Die gesin is nie die produk van miljoene jare se sosiale ontwikkeling nie. Dit is 'n skepping na God se beeld. Wanneer Paulus aan Timoteus skryf hoe die gelowige hom in die huisgesin van God moet gedra, kwalifiseer hy dit deur dit die gemeente van die lewende God te noem. (1 Tim 3:15). Die lewende God is nie net die God wat lewens red nie, Hy is nie net die God wat lewe onderhou nie ... . Hy is inderdaad ook die God wat aan alle dinge die lewe gee (1 Tim 6:13). Dit sluit die huisgesin in.
Hierby moet ons vir 'n oomblik stilstaan: God het eerste die gesin geskape. God het nie met regerings, klubs of selfs die kerk begin nie. God begin by man en vrou en die kinders wat Hy aan hulle gee.
In die man sien ons die beeld van God. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor diegene wat Hom vrees (Ps 103:13), Maar Hy is ook die moeder wat nie haar suigeling kan vergeet nie (Jes 49:15). Hy tugtig soos 'n vader (Hebr 12:6), maar troos ook soos 'n moeder (Jes 66:13). Vir die kind wat deur sy vader en moeder verlaat is, word God Vader en Moeder (Ps 27:10).
Wat wil God met die huisgesin, hierdie saamwees van man, vrou en kinders? Maleagi 2:15 lees as volg in die 1983 vertaling: Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees, wat Hom eer. Daar moet 'n nageslag wees en hulle moet Hom eer - 'n Goddelike geslag soos die 1953 vertaling sê.
God wil dat daar 'n nageslag sal wees wat Hom eer. Die opdrag aan die geskape mens in Genesis 1:28 kom in die meervoud. God het hulle geseën en God het vir hulle gesê wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die skepping. Die mens het begin om die diere te benoem en te klassifiseer. Later ontvang hy 'n hulp wat by hom pas. Ander vaardighede ontwikkel met verloop van tyd binne gesinsverband: uit die geslag van Kain kom tentmakery, veeteelt, metalurgie en musiekinstrumente. Hierdie ontwikkeling geskied ten spyte van die sondeval en die gevolge daarvan. Uit Set se geslagslyn word ware godsdiens en aanbidding gebore - deur Abraham, Isak en Jakob. Die gesin is die hart van vooruitgang deur alle eeue heen: kultureel en godsdienstig.
God wil dat daar 'n nageslag sal wees wat Hom eer. Die gesin is dus ook nie 'n doel op sigself nie. Die gesin moet God vereer in sy wese en optrede. Daarom kan ons ook sê dat die gesin in 'n verbondsverhouding met God staan. Dit is daardie verbondsverhouding wat hulle aan God bind en ook aan mekaar verbind. Alhoewel die woord "verbond" as sulks nie in die eerste hoofstukke van Genesis voorkom nie, is die saak tog wel aanwesig. Die gesin ontvang die opdrag tot grondbewerking en skeppingsbewaring. Omdat die gesin in diens van God en tot sy eer leef, mag die mens of sy gesin nie self probeer God te wees nie. Daarom is die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad verbode. Terselfdertyd hou hierdie verbondslewe egter wonderlike seëninge in: die ander bome in die tuin is begeerlik om te sien en goed om van te eet ... ook die boom van die lewe. Om met mekaar gemeenskap te hê, was net so 'n groot seën vir die eerste gesin: die een was been van die ander se gebeente en vlees van die ander se vlees. Die grootste seën van almal kan opgesom word in drie woorde: gemeenskap met God .. om die aangesig van die lewende God te kan sien terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie.
'n Godvererende gesin ter wille van 'n Godvererende nageslag
Die gesin is as die "huis van God" daarom in die heilige Skrif ook die primêre metafoor vir die kerk (1 Tim 3:15). En dis waarom die huisgesin van God ook funksioneer as die oefenskool vir die vaardighede wat nodig is in die groter huisgesin, die gemeente van God (1 Tim 3:4,5).
Diegene wat dit ignoreer, diegene wat die gesin 'n doel op sigself maak of diegene wat die gesin op watter wyse probeer herontwerp, tree teen God se plan op. Die mens het dit nog altyd probeer. Hy probeer dit tans met 'n ideologie van menseregte en hy sal in die toekoms weer probeer om die gesin te vervang. Dit sal misluk. Hoekom? Want die Satan het God die stryd aangesê. Opstand teen God het nog nooit geslaag nie en sal nooit slaag nie. Ons leer uit Genesis 3: Opstand teen God lei tot die dood - die dood van die betrokke individu of tot die dood van dié samelewings wat opstand propageer.
Hierin lê reeds die antwoord opgesluit na ons vraag: ons vraag na die strydvaardigheid van die gesin in die tyd waarin ons leef.
Wat moet ons doen om die gesin meer strydvaardig te kan maak? Wat moet ons doen sodat die gesin die ideologie van menseregte en individualisme die stryd kan aansê?
Net een ding
Die gesin moet hom hou by die bepalings van God se verbond. Die gesin hoef nie besonder strydvaardig te wees teen die ideologie van menseregte of individualisme nie. Indien hierdie ideologie in die toekoms vervang word met 'n ideologie van tirannie en sosialisme, dan hoef die gesin ook nie besonder strydvaardig daarteen te wees nie. Die gesin moet net in gehoorsaamheid aan God se Woord leef.
Hierdie beginsel word vir ons goed uiteengesit in die eerste hoofstuk van die boek Josua. Toe die kinders van Israel op die drumpel van die beloofde land staan, het die HERE met Josua gepraat. Die land is julle s'n, niemand sal vir julle standhou nie. Daar is net een voorwaarde, sê die Here vir Josua: Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel (Josua 1:7).
Ons wil graag hê dat die weë van ons gesinne voorspoedig moet wees, dat hulle met goeie gevolg moet handel. Daarom moet ons kyk wat die Here se wetboek vir ons oor die gesin sê.
'n Kenner van die volkerewêreld het by geleentheid beweer: "The place of any race on the upward or the downward scale can be accurately measured by their relation to two of the Ten Commandments - the fifth and the seventh" Die vyfde gebod reël die verhouding van kinders tot hulle ouers deur eerbiediging van die gesag te vereis. Die sewende gebod reël die verhouding van man en vrou in die huwelik deur ongeoorloofde verbintenisse te verbied. Beide hierdie gebooie het in besonder betrekking op die gesin.
Maar om van ouerlike gesag in die gesin te praat, moet ons eers veronderstel dat daar kinders in die gesin is. Ook dit is vandag nie meer vanselfsprekend nie.
Die gevulde pylkoker
God wil dat daar 'n nageslag sal wees wat Hom eer. Daarom sê Hy: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Juis op hierdie punt het ons gereformeerde etici ons in die steek gelaat. Hulle sê: die aarde is nou reeds vol, oorvol, inderdaad. Daarom moet ons beplan vir die "optimum" aantal kinders. Daarom moet ons ons "gesonde" verstand gebruik en self ons gesinne beplan.
Die aarde is vol, maar nie vol van 'n Godvererende nageslag nie. Daarom het ons nie die reg om te bepaal dat die doopvont 'n blote ornament in ons kerke word nie. Vir die werk wat ons hier op aarde moet doen, beloof God dat Hy ons sal seën met kinders (Deut 28:4a). Wie is ons om te sê: "Nee dankie, Here, ek stel nie meer in u seën belang nie?" Wat is my "gesonde verstand" om te sê: "dankie, God, maar ek dink U het my nou genoeg geseën?" Het ons nie inderdaad soos die heidene "in ons oorlegginge dwaas geword" nie? (Rom 1:21).
Is ons strydvaardig as ons met die vyande in die poort spreek, soos Psalm 127 en Spreuke 31:23 sê? Wil ons die ideologie van individualisering aanvat? Ons is nie strydvaardig nie. Ons is beskaamd, want ons het nagelaat om ons pylkoker met die seuns van die jeug te vul. Daarom sukkel ons gesinne, daarom sukkel ons gemeentes, daarom sukkel ons volk. In elke kring is daar net 'n "scheleton staff" beskikbaar. En in sommige kringe is dit nie meer eers daar nie. Soms het nog net die "scheleton" oorgebly.
Ingeskerpte kinders
God wil dat daar 'n nageslag sal wees wat Hom eer ... nie enige nageslag nie, maar 'n Godvererende nageslag. Dit kan eerstens net moontlik wees indien daardie nageslag God ken en weet hoe Hy vereer wil word. Dit kan tweedens net moontlik wees indien die verbondsgesin die kennis wat dit het, wel toepas in die daaglikse lewe ... nougeset handel volgens alles wat daarin geskrywe staan. Vir beide die kennisoordrag en die toepassing daarvan het God in die gesin gesag en verantwoordelikheid toegeken. Verbondsonderrig en verbondshandhawing gaan hand-aan-hand. Sonder gesag en verantwoordelikheid in die gesin is daar - menslik gesproke - nie 'n nageslag wat Hom eer nie,
Daarom is die herstel van huisgodsdiens in al sy vorme 'n absolute vereiste vir gesinsreformasie. Soos God hierdie verantwoordelikheid aan die man in die eerste verbondsgesin opgedra het, so is die vader in die huis die primêr aangesprokene (Gen 18:19); Ef 6:4). Gesinsreformasie is slegs moontlik indien die vader in die huis weer hierdie verantwoordelikheid aanvaar as sy hoogste daaglikse prioriteit. Om dit te kan doen moet hy self 'n kind van die Here wees, luisterend en gehoorsaam aan die voete van Jesus Christus. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel moet in jou hart wees en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan (Deut 6:6,7). Die Vader kan geen inskerping doen voordat die woorde nie eers in sy eie hart is nie!
Vaderlike verantwoordelikheid
Man en vrou is nie mede-verantwoordelik nie. Die man dra die volle verantwoordelikheid (Gen 2). Trouens, die vader se kennis moet van so 'n aard wees dat hy in staat is om sy eie vrou te onderrig (1 Kor 14:35; 1 Tim 2:11). Hierdie manlike verantwoordelikheid word gehandhaaf deur al die eeue en kontekste van die verbondsgeskiedenis soos dit vir ons opgeteken is (vgl 1 Kor 14:35; 1 Tim 2:12, 3:2; 2 Tim 2:24). In geeneen van die huiskontekste van die Skrif, of dit in die huis van God, of in die huis van Jakob of in die huis van Filémon is, ontvang die man verlof om hierdie verantwoordelikheid af te staan nie.
Soos in die woonhuis, so ook in die kerkhuis (1 Tim 3:5). Dieselfde beginsel geld in die groter huisgesin - die huisgesin van God. Woonhuis en kerkhuis is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Ons kan nie 'n ander soort gesagstruktuur in die kerk hê as wat ons in die huis het nie. Ons kan nie manlike, vaderlike verantwoordelikheid in die gesin handhaaf as ons dit reeds in die kerk laat vaar het nie. In die huisgesin van God laat die Here die man nie toe om die handhawing en uitbouing van die gesonde leer en die gesag wat daarmee verband hou aan die vrou af te staan nie. Die veelseggendste aanduiding tot watter mate die geloofsgemeenskap reeds gekapituleer het teenoor die ideologië van menseregte en individualisme is te sien aan die aantal vroue op die ouderlingbanke en preekstoele van reformatoriese kerke. Ons kan geen reformasie in die gesin verwag as ons nie bereid is om dit ook in ons kerke te reformeer nie.
Die vaderlike verantwoordelikheid beteken geensins dat daar nie onder die vader se toesig en binne die konteks van die gesin nie ook 'n groot invloed van die moeder kan uitgaan nie. In Deuteronomium 21:18 is albei, vader en moeder, ter sprake waar dit oor onderrig gaan ter sprake. Die moeder is immers die hulp wat by by hom (die vader) pas (Gen 2:18-20). Volgens die Spreuke van Salomo word ook beide, vader en moeder, telkens saam genoem as diegene wat hulle kinders onderrig (Spr 1:8).
Soms word slegs die moeder genoem (Spr 31:26). In die geval van Timoteus word sy moeder en grootmoeder vermeld as sy vroeëre onderwyseresse in die Skrif (1 Tim 1:5, 3:14,15). "Als het historische, stille werk van de moeders met de vloedgolf van het feminisme wegspoelt uit het gezin, wat zal er van de huiscatechese overblijven?" vra J Veenstra in: "Opvoeden doen we samen" (1985:23. Goes: Oosterbaan en Le Cointre).
Om kop bo water te hou
Miskien voel u nou reeds dat die Bybelse perspektief, tot dusver gebied, vir u 'n probleem skep. Miskien voel u soos die dissipels in Johannes 6:60: "Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?"
In vandag se tyd is hierdie siening van die gesin net nie meer moontlik nie ...
In vandag se tyd kan ons eenvoudig net nie meer groot huisgesinne bekostig nie ...
Ons leef net nie meer met die patriargale gesinsopsette van die verlede nie ...
Ons sal nie kop bo water hou as ons vrouens voltydse moeders en tuisteskeppers is nie ...
Ons kan nie kop bo water hou nie ...
Die vraag is net: was ons nie tot dusver besig om self die watervlak te stel nie ...
Ons onvermoë om aan hierdie Bybelse vereistes te voldoen, kan net aan twee oorsake te wyte wees: Of ons glo nie dat God die Een is wat die watervlak stel nie ..., of ons wil nie God se bloudruk vir die gesin navolg nie.
Die toekoms lê in die hande van diegene wat God se bloudruk navolg. Dit kan selfs op die kort of medium termyn 'n heidense volk of godsdiens (soos Islam) wees. Die gesegde: "The hand that rocks the cradle will rule the world" geld eweneens vir die verbondsmens as die ongelowige ... net soos God se reën op die regverdige en onregverdige val ... (Matt 5:45).
In dié opsig sal ons verbondsgesinne weer skeppend moet begin dink ten opsigte van die onderwys van hulle kinders, ten opsigte van die skepping van tuisbedrywe wat hegter gesinsbande moontlik maak.
Die vrou van Spreuke 31 het tyd vir baie dinge:
Sy dryf handel met haar handewerk.
Sy onderhou 'n personeel.
Sy koop grond aan en lê wingerde aan.
Sy voed en klee haar huisgesin.
Sy het iets oor vir die behoeftiges.
Sy het nie 'n probleem om kop bo water te hê nie.
Sy het tyd om soos die vrou in Titus 2 onderrig te gee.
"Die hart van die man vertrou op haar ..."
Haar kinders eer haar ...
Is hierdie gesin 'n saak van onmoontlikheid? Of sal ons liewer vra: Is die arm van die Verbondsgod wat ons sy insettinge gegee het, te kort? Het Hy nie die watervlak van die Jordaan gestel of nie?
Soos Josua en die volk van Israel staan ons vandag weer voor die ondeurdringbare mure van Jerigo. Sal ons dit kan inneem? Aan ons regterhand staan die Engel van die Here met 'n ontblote swaard. Laat ons nie vrees nie!