|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
BOEKBESPREKING
REFORMEREND DIE MILLENNIUM INOns Calvinistiese erfenis en roeping
Uitgewer: Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO)
Resensent: Prof EJ van Niekerk
Prys: R 50-00, verkrygbaar by die uitgewer:
Posbus 1824, Bloemfontein 9300 - Tel (015) 448 4464, Faks (015) 448 4669
Hierdie jongste publikasie van die VCHO vorm deel van die 350-jarige vieringe van die volksplanting hier, aan die begin van die nuwe millennium. Die bedoeling daarmee was om 'n bestekopname deur deskundiges te laat doen oor verskillende aspekte van ons volksbestaan met die oog op die reformasie daarvan in ooreenstemming met God se Woord. Daarin word aangetoon hoe ons Calvinistiese erfenis lyk en hoe dit in vandag se omstandighede reformerend uitgebou kan word. Geen ruimte word gelaat vir ontvlugtingsdenke nie, aangesien met die reguit eise van die reformasie na vore gekom word op verskillende lewensterreine. Daar is letterlik niks in hierdie werklikheid wat nie aan die eise van die Woord onderworpe is nie, en daarom geld dit ook ten opsigte van al die fasette van die volksbestaan.
Die boek beslaan 230 bladsye en is in drie afdelings verdeel. Die eerste is 'n inleidende afdeling oor die aard van ons Calvinistiese erfenis en roeping deur professor R Marè. Daarin word kortliks verduidelik wat die Calvinisme is. In die tweede afdeling bied prof AWG Raath 'n historiese oorsig van die lewensbeskoulike tendense in ons volkslewe oor die afgelope 350 jaar. Nuwe belangwekkende inligting oor die inslag van die verbondsteologie op die Afrikanervolk se vorming kom hierin na vore. Mense met 'n historiese bewussyn, akademici en teoloë/predikante sal hierdie hoofstuk van onskatbare waarde vind. Daarin word ook duidelik gestel dat die enigste opsie 'n terugkeer na die beginsels van die outentieke reformasie is.
In die derde afdeling getitel Reformerend die millennium in behandel verskeie kenners hoe onderskeie fasette van die volkslewe reformeer behoort te word. Prof SA Strauss behandel die kerklike terrein, dr PW Liebenberg die staatkundige terrein, prof EJ van Niekerk die onderwysterrein, dr HJ Smith die maatskaplike terrein, mnr JS van Zyl die ekonomiese terrein en prof DFM Strauss die wetenskaplike terrein. Hierdie kenners behandel in elk van hierdie hoofstukke eers ons historiese erfenis op die bepaalde terrein, dan word 'n ontleding van die huidige situasie gedoen en daarna toekomsriglyne aangebied. Deurgaans word 'n Skrifgetroue en Skrifgehoorsame houding gepropageer met segswaarde vir die eietyd.
Die publikasie is in die eerste plek gerig op leiers in ons volkslewe op alle terreine. Tweedens op alle Afrikaners wat graadskoling ondergaan het en wat graag wil weet hoe die Skrifbeginsels op die lewensterreine waarop hulle werksaam is, toegepas behoort te word. Derdens op alle gelowiges wat erns maak met hulle Christelike roeping in hierdie land in die huidige omstandighede. Dit is nodig dat ons mense met die nodige kennis oor hul erfenis en roeping bemagtig word ten einde 'n hoopvolle toekoms te help opbou. Die Calvinisme het nie vrede met die leunstoel Christendom en die versaking van roeping en plig, as-ook die afvalligheid wat by te veel van ons volksgenote voorkom nie. Daarom poog hierdie publikasie in 'n tyd soos hierdie 'n bydrae te maak om ons weer opnuut vir ons taak te besiel.