|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
KERKLIKE JOERNAALSTAAT SE BETREKKINGE MET DIE KERK (E) SE HUISHOUDELIKE AANGELEENTHEDEDie Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerke het twee algemene kennisgewings gestuur aan alle kerkrade van die GKSA aangaande owerheidsbepalings wat nagekom moet word. Die een brief handel oor "betaling van werkloosheidsversekeringsfondsbydraes" en die ander oor 'n "heraansoek om vrygestel te word vir die betaling van belasting". Die laasgenoemde gaan gepaard met die vermelding dat "Die Regsdeputate tans besig is om hierdie aangeleentheid indringend te ondersoek en ook verder beoog om met die Suid-Afrikaanse Inkomste Belastingdiens (SAID) in gesprek te tree ten einde die aangeleentheid namens alle Gereformeerde Kerke te hanteer". Daarby word vermeld dat "Sodra meer duidelikheid oor die aangeleentheid bestaan" weer 'n brief aan die kerkrade gerig sal word.Die gevolge van die kommunistiese staatsoorheersing kom nou na vore. Die kerk is nie meer 'n selfstandige instelling wat vry van staatsorg en bemoeiing is nie. Die kerk word onderwerp aan wetgewing wat sy huishoudelike sake raak. Hy word beskou en gelyk behandel as ander organisasies in die samelewing, soos skole, liefdadigheidsorganisasies, sportliggame, ensovoorts. Dit is in stryd met die Bybelse norm dat die kerk 'n besondere instelling in die samelewing verteenwoordig, naamlik dat dit die liggaam van Christus is, wat vanaf die begin van die węreld tot aan die einde daarvan, deur Jesus Christus as sy enigste Hoof en Koning vergader, beskerm en onderhou word.
Dit het konsekwensies. Die staat mag nie die kerk voorskryf nie. Hy mag ook geen belasting vorder van fondse wat, prinsipieel gesien, aan die diens van die Here gegee is en slegs aan Hom toekom om dit te bestem vir doeleindes van die onderhouding van die kerkediens en die uitreiking van Christelike barmhartigheid. Op bydraes wat die kerk op verskeie wyses ontvang, mag die owerheid geen aanspraak maak nie. Dan betree hy die terrein van die heilige sake wat slegs volgens kerklike besluitneming, volgens die rigsnoere van God se Woord, gehanteer mag word. Daarom is dit verblydend dat die Regsdeputate van die kerk dit tans ondersoek met die oog daarop om hieroor met die SAID in gesprek te tree. Maar wat staan ons te doen?
In terme van Staatskoerant No 22513 asook Artikel 10(1)cN) van die Inkomste Belastingwet word ... ook van kerke verwag om voor 14 Julie 2002 heraansoek te doen om vrygestel te word vir die betaling van belasting. Onder andere word verwag dat ook 'n konstitusie aan die SAID voorgelę moet word, aldus die skrywe van die Administratiewe Buro.
Die saak staan nou so, dat indien plaaslike gemeentes weier om erkenning aan die owerheid te verleen om in te gryp op sy beheer van fondse en vrystelling te versoek vir die betaling van belasting asook om 'n konstitusie voor te lę, dan loop hulle die gevaar om aangeslaan te word op sekere inkomste volgens die geldende tariewe. Dit is ook 'n betwisbare saak om 'n konstitusie voor te lę, soos ander organisasies in die samelewing. Die Gereformeerde Kerke ken geen ander konstitusies as sy belydensskrifte en kerkorde nie. Wat verlang die owerheid hieromtrent?
Dieselfde geld vir die ander saak, dié van betaling van werkloosheidsfondsbydraes. Vir sover dit werknemers, soos 'n koster en 'n tuinjong wat in vaste betrekking staan en wat besoldiging en byvoordele soos behuising, ensovoorts, ontvang, is dit aanvaarbaar. Maar wanneer dit ampsdiens, soos dié van predikante betref (hulle ontvang geen salaris nie maar 'n traktement en bykomende voorsiening met die oog op hulle dienswerk), geld dieselfde beswaar as hier bogenoem. Herders en lerare is diensknegte van Jesus Christus, die Koning van die kerk. Hulle lewe uit die amptelike diens van die verkondiging van die Woord. Hulle is geen werknemers in die gewone sin van die woord nie. Hulle is lashebbers wat onder die gesag van kerkrade staan. Hulle ontvang hul lewensonderhoud, prinsipieel gesien, uit die hand van die Here, uit die fondse wat vir die kerkediens bestem is. Daaroor het die owerheid geen seggenskap en mag hy geen bydraes vir sekulęre doeleindes eis nie. Dis tyd om dit onder aandag van die kerke, ons volk en die betrokke owerheidsinstansies te bring.