|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
KERKLIKE JOERNAALPUK SE 'CHO' DRA 'ERNSTIGE NEGATIEWE BAGASIE' PU vir CHO - Waarheen? Volgens die pas aangestelde rektor van die PU vir CHO, dr Theuns Eloff, dra die 'CHO' in die naam van die Potchefstroomse Universiteit "ernstige negatiewe bagasie".Dis 'n saak wat tot op hede landwyd reaksie by die behoudendes teweeg gebring het. Daar gaan amper geen dag verby sonder dat iets daarvan, daarvoor of daarteen, in die koerante geskryf word nie.
Dit volg nadat 'n omvattende ouditverslag deur internasionale kundiges vir die transformasieproses wat aan die einde van April 2002 deur die universiteitsowerheid bekend gestel is. Dié verslag het op drie kernpunte gekonsentreer, naamlik doeltreffende bestuur, gehalte-onderrig en strategiese posisionering. Dr Eloff het bevestig dat 'n internasionale ouditkomitee aangestel is om die PUK te help met sy transformasieproses.
Volgens prof Andries du Plooy, die rektor van die Teologiese fakulteit, behoort mens die naam nie van die karakter van die universiteit te skei nie. (Beeld, 29 April 2002).
Die verslag lui die CHO is oop vir verkeerde interpretasie en dit sal dalk help as dit nie langer deel van die universiteit se naam is nie, maar 'n sterk onderdeel is van 'n missiestelling wat die etos en stigtingsbeginsels van die universiteit duidelik uitstippel.
Dr Neels Smit, predikant van die Gereformeerde Kerk Noordbrug en lid van die universiteitsraad, het gesê die aanbeveling oor die naam kom uit 'n sfeer waar nie alle fasette van Christelike hoër onderwys deurvors is nie. Dié aanbevelings is gegrond op 'n hoofsaaklik anti-Christelike onderwysbenadering.
Die PU behoort homself opnuut oor sy naam te verantwoord en as dit gemoderniseer of gestroomlyn kan word sonder om die inhoud daarvan weg te doen, moet dit kalm oorweeg word.
In wese behoort die Christelike onderwys verstewig te word. Daar was weinig kere in die verlede soveel behoefte dááraan as juis nou, aldus dr Smit (Beeld,29 April 2002).
Wat die naam van die PUK betref: dit was nog altyd die PU vir CHO en die naam beperk of bevorder nie studie tot slegs 'n deel van die bevolking nie. Die PUK is 'n volwaardige en selfstandige universiteit. Waarom moet ons dan Europese lande nader vir aanbevelings? Is hulle dan beter as ons? Hoekom kan ons nie ons eie besluite neem nie? vra Charl Vermaak van Rustenburg in Beeld, Vrydag 10 Mei 2002.
Prof Hentie Boshoff van Potchefstroom bepleit, in die laasgenoemde uitgawe van Beeld die verwydering van Christelik uit PUK se naam. Sy motivering getuig van 'n sekulêre siening daaromtrent. Hy stel die saak soos volg:
"Ek steun die standpunt van dr Theuns Eloff, dat die woord Christelik uit die PUK se naam gehaal moet word as die sin "'n Universiteit op Christelike grondslag" onder die naam geskryf word as aanduidend van sy etos.
My steun spruit uit baie jare se betrokkenheid by strategiese beplanning, eers as Puk-dosent en sedert my aftrede by uitvoerbeplanning en opleiding in twee nywerhede asook by betrokkenheid by ontwikkelingsbeplanning in Afrika binne 'n Verenigde Nasies program.
Ek het drie redes waarom die woord Christelik eerder deel van die Puk se etos as sy naam moet wees.
Geen universiteit staan objektief of neutraal nie; almal benader die probleme van ons tyd vanuit 'n bepaalde waardestelsel as voorwetenskaplike uitgangspunt. ...
Die tweede rede gaan om die wêrelddorp waarin ons toenemend leef en waarin kompleksiteit en onsekerheid, die reël word. Ons leef in 'n oop sisteem teenoor die geslote sisteem van die ou orde.
Vandag se feit oor 'n ontwikkelingsteorie is dalk môre se fabel. As jy universiteit in jou naam het, sê jy dit gaan wetenskaplik te werk; as die woord Christelik in jou naam is, skep jy by implikasie die indruk dat jy die wetenskap slegs uit een hoek benader. Ek weet dit is nie waar van die Puk nie, maar die persepsie op die markplein is toenemend so.
Derdens het universiteite toenemend finansiering uit die private sektor nodig. Met Christelik in jou naam gaan jy toenemend toe deure kry met die argument: "jy verteenwoordig net 'n bepaalde belangegroep en nie die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap nie", aldus prof Boshoff.
Dit laat die aap uit die mou. Dit gaan oor aanvaarding in die breë gemeenskap
Dr Eloff het onder andere gesê dat hy voel sterk daaroor dat die CHO-deel uit die naam verwyder moet word. "Dit word dikwels verwar met CNO (Christelik Nasionale Onderwys), wat konnotasies met die ou apartheidsregime oproep. Weens die CHO in die naam word die universiteit deur die sakesektor en politieke leiers as uiters konserwatief en as die laaste apartheidsuniversiteit in Suid-Afrika gesien".
Die feit dat die PU buitelandse kenners gekry het om voorstelle oor die universiteit te doen, het wye kritiek ontlok. Dr Eloff is nie verskonend hieroor nie. "Ons is die enigste universiteit wat die moed gehad het om 'n buitelandse instelling te kry om ons raad te gee oor nie net die naam en die taal nie, maar ook oor ander aspekte soos bestuur en die strategiese posisie van die universiteit. Dit word as 'n positiewe stap gesien dat selfs die Raad op Hoër Onderwys gevra het dat die proses met hulle gedeel word" (Beeld, Vrydag 3 Mei 2002).
Die internasionale span se bevinding was onder andere dat die CHO in die Puk se naam herinner aan die "veragte begrip van Christelik Nasionale Onderwys" wat in die laaste deel van die vorige eeu 'n rassistiese konnotasie gekry het. Vir baie buitestanders het die Puk die beeld van 'n baie konserwatiewe instelling wat 'n skeefgetrekte situasie onder die apartheidsregime ontstaan het wat moeilik uitgewis kan word. ...
Die span het die indruk gekry dat veranderings wat die afgelope jaar wel ingestel is, dikwels eerder net aanvaar as verwelkom is. In dié opsig meen die span dr Theuns Eloff, die nuwe rektor, se visie om rigting aan die PUK te gee, kan die universiteitsgemeenskap motiveer en aanspoor om deel van verandering te word en by te dra tot nuwe doelwitte vir die Puk se toekoms.
Die Puk is in 'n veranderende omgewing en hy kan, volgens die span, nie bly soos hy is nie. "Wag-en-sien-strate-gieë" is nie 'n oplossing nie. ... Die span sê Eloff geniet baie vertroue buite die universiteit en die Puk sal onwys wees as hy dit nie tot sy voordeel gebruik nie. Die Puk moet Eloff nou juis steun en hom help om die universiteit uit sy verdedigende en introspektiewe stadium te help, aldus Alet Rademeyer in Beeld, Vrydag 3 Mei 2002